Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia spog met BA (Taalstudies) as nuwe graadprogram

Gepubliseer op: 14 Maart 2024

Akademia het op 14 Maart by ʼn programbekendstellingsfunksie in Centurion aangekondig dat die instelling se Fakulteit Geesteswetenskappe in 2025 die eerste groep studente in die program BA (Taalstudies) sal inneem. Dié driejaargraad sal voltyds op Akademia se Centurion-kampusse aangebied word. Die Departement Tale en Kultuurwetenskappe het by dieselfde geleentheid die instelling se nuutgestigte Taalsentrum bekendgestel.

Studente in die program BA (Taalstudies) sal Afrikaans en Nederlands as hoofmodule neem en kan kies tussen Engels, Duits, Frans of Sepedi as ʼn tweede taal tot op derdejaarsvlak. Daarbenewens sal studente ook die geleentheid hê om hulself verder te verryk deur ʼn keusemodule te neem wat Geskiedenis, Filosofie, Joernalistiek of Taalpraktyk insluit.

Volgens Akademia se uitvoerende hoof: Akademie, prof. Danie Goosen, is die instelling buitengewoon opgewonde om Afrikaans en Nederlands aan te bied. “Afrikaans is onlosmaaklik deel van wie en wat Akademia is. Met Afrikaans as module sal ons aan ʼn langverwagte behoefte in die Afrikaanse taalgemeenskap voldoen,” sê Goosen. “Tegelyk is ons opgewonde oor die feit dat Nederlands ook voortaan by ons aangebied sal word. Afrikaans kan kwalik sonder die rykheid en historiese diepte van Nederlands verstaan word. Nederlands maak ook ʼn besondere deur vir ons studente na die wye Nederlandstalige wêreld oop.”

Benewens vakkennis, plaas die program sterk klem op navorsingsvaardighede, kritiese denkvaardighede en analistiese en probleemoplossingsvaardighede in die konteks van taalstudies. Dit verseker dat studente toegerus is vir verdere studies óf die werksplek en ook ʼn waardevolle impak op hul gemeenskappe kan maak wanneer hulle afstudeer.

Die BA (Taalstudies)-graad is ontwikkel om studente toe te rus met teoretiese en praktiese kennis om ʼn wye verskeidenheid loopbane te volg in onder meer enige van die volgende sektore: taalopleiding, vertaling en tolking, teksredigering, taalbeplanning- en ontwikkeling, kreatiewe skryfkuns, toerisme en diplomasie, die advertensiewese of openbare skakeling, joernalistiek, asook digitale media en inhoudskepping vir verskeie platforms.

Die Departement Tale en Kultuurwetenskappe, wat die BA (Taalstudies)-program huisves, het in 2022 tot stand gekom en bied reeds ʼn voltydse program in BA (Kommunikasie en Joernalistiek) aan; die eerste studente in hierdie program is in 2023 afgelewer. BA (Taalstudies) is ʼn besonderse toevoeging tot hierdie departement onder leiding van dr. Alé Steyn.

Volgens Steyn beplan en werk die akademici in die department doelgerig om hoëgehalte en toonaangewende programme te bied wat wêreldgehalte studente aflewer.

Die program is oor ʼn tydperk van twee jaar ontwikkel waarna dit aan die Raad op Hoër Onderwys voorgelê is vir goedkeuring en akkreditasie. Verskeie van Suid-Afrika se voorste taal- en letterkundiges het meegewerk aan die beplanning en ontwikkeling van die modules in hierdie program.”

Nuwe voorgraadse en nagraadse programme is ook reeds in die proses om ontwikkel te word om die voorgraadse én nagraadse programaanbod in hierdie departement uit te brei.

Benewens die nuwe BA (Taalstudies)-program, het die instelling ook sy nuutgestigde Taalsentrum bekend gestel wat daarmee getaak is om algehele taalvaardigheid te bevorder en Afrikaans as akademiese, algemene en vreemde taal uit te bou. Die Taalsentrum het in 2023 tot stand gekom in die Departement Tale en Kultuurwetenskappe onder die leiding van Steyn. Dr. Annelise de Vries (dosent: Professionele Studies) en Karien Brits (senior taalpraktisyn by Akademia) koördineer onderskeidelik die sentrum se taalvaardigheid- en vreemdetaalprojekte.

Goosen beklemtoon dat die BA (Taalstudies)-program Akademia se verbintenis tot die klassieke vormingsideaal versterk wat veronderstel dat studente nie bloot kundig in ʼn bepaalde dissipline moet wees nie, maar insig moet hê in die geheel van dinge en voortdurende streef na kennis en wysheid.

Meer inligting oor die BA (Taalstudies)-program of die Taalsentrum is op Akademia se webblad beskikbaar. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

 Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie saam met dr. Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia by die bekendstellingsfunksie van BA (Taalstudies).