Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Effektiewe finansiële beplanning: Jong werkende maak vroeg reeds erns met jou geldsake

Gepubliseer op: 15 Maart 2024

Salaristrekkers skerts dikwels dat dit soms voel asof daar meer maand as salaris is, en dat die gedagte aan skuldverpligtinge hul heel dikwels in ʼn koue sweet laat uitslaan. Dit hoef egter nie jou realiteit, as jong werkende, te wees nie. Hoe vroeër jy met ʼn finansiële strategie vir jou toekoms begin, hoe beter.

Thinus Nienaber, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, meen die waarde van voortydige finansiële beplanning kan nie genoeg beklemtoon word nie. “Hoe langer ʼn belegging in die mark is, met ander woorde hoe vroeër ʼn persoon erns maak met spaar en die opbou van kapitaal, hoe groter is die voordeel.” Hy illustreer hierdie waarheid aan die hand van die volgende twee voorbeelde:

Susan is baie konsensieus en begin op die ouderdom van 20 jaar om ʼn bedrag van R200 ʼn maand in ʼn groeiplan te belê. Vir die doeleindes van hierdie voorbeeld word daar veronderstel dat ʼn groeikoers van 7% per jaar gehandhaaf word, wat so 2% hoër as die inflasiekoers is. Indien sy vir welke rede ook al net tot op die ouderdom van 35 jaar met dié bydrae volhou en, daarna bloot die geld in die plan los tot en met haar aftrede op 65 jaar, sal sy ʼn neseier van R515 000 tot haar beskikking hê.

Jan het ander prioriteite en begin eers op die ouderdom van 35 jaar om R200 in ʼn aftreeplan te betaal. Soos in Susan se geval word die groeikoers op 7% gestel. Indien hy tot en met sy aftrede op 65 jaar maandeliks tot dié plan bydra sal sy belegging slegs R244 000 beloop. Hy het dubbel die bydraes as Susan gemaak, maar slegs die helfte van die voordeel geniet. Sou Jan met dieselfde waarde as Susan wou aftree, sou hy omtrent R420 per maand vir 30 jaar moes bydra om Susan se beleggingswaarde te lewer.

Volgens Nienaber is daar nie ʼn kitsantwoord as dit kom by persoonlike finansiële beplanning nie. Om dié rede is dit baie belangrik om van die staanspoor af gebruik te maak van die dienste van ʼn gekwalifiseerde en ervare finansiële adviseur. Navorsing, soos gepubliseer in vanjaar se uitgawe van die Suid-Afrikaanse Finansiële Beplanningshandboek, toon dat persone wat hul finansiële toekoms met behulp van ʼn professionele adviseur beplan beter daaraan toe is as diegene wat op hul eie insigte staatmaak. “Finansiële adviseurs rus kliënte toe met inligting om nie net ingeligte besluite te neem nie, maar ook om die fokus op behoorlik gedefinieerde finansiële doelwitte te plaas,” verduidelik Nienaber. “Hiermee saam word diesulke kliënte se spanning en bekommernis oor hul finansiële toekoms verminder, terwyl waardevolle tyd en moeite ook gespaar word in terme van die bestuur van hul finansies.”

As dit kom by ʼn aksieplan om jou finansiële beplanningsreis mee te begin, meen Nienaber dat die “Groot B”-beginsel belangrik is: Begin klein, maar begin! Die bekende koevertspaar-uitdaging is ʼn praktiese voorbeeld van só ʼn klein begin. Aldus dié uitdaging word ʼn persoon aangemoedig om deur die loop van ʼn jaar (52 weke), elke week ʼn bedrag te spaar. In die eerste week word R10 gespaar, waarna die bedrag elke week daarna verdubbel word. Na afloop van ʼn jaar kan ʼn persoon op hierdie wyse soveel as R13 780 oor twaalf maande spaar.

Hiermee Nienaber se topdriewenke vir effektiewe finansiële beplanning:

  • Begin vroeg en maak jou finansiële welstand ʼn prioriteit.
  • Beplan en hersien jou finansiële portefeulje gereeld in samewerking met ʼn professionele adviseur of beplanner ten einde die nodige aanpassings te maak.
  • Wees gedissiplineerd en hou by jou strategie.

Om verstandig met jou persoonlike finansies om te gaan is nie net ʼn uitdaging wat jou beursie raak nie, maar ook jou algehele welstand. Vir verpersoonlikte finansiële advies, kontak ʼn finansiële adviseur of beplanner.

Thinus Nienaber, ʼn dosent in Ekonomie en Finansiële Wetenskappe, sê dat die eerste stap in effektiewe finansiële beplanning is om so vroeg as moontlik erns met jou geldsake te maak.