Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Lewenslange leerders lééf hul roepingsgedrewe potensiaal uit – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 15 Maart 2024

Die reikwydte van lewenslange leer strek verder as die mure van enige klaskamer en word nie deur ouderdom begrens nie. Breedweg gedefinieer verwys lewenslange leer na die voortdurende en vrywillige najaag van kennis, in beide ʼn individu se professionele of persoonlike hoedanigheid.

Hierdie leerproses kan op verskeie maniere gefasiliteer word soos byvoorbeeld formele kursusse óf die informele aanleer van ʼn nuwe vaardigheid, stokperdjie of taal. Volgens dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, verryk só ʼn leeringesteldheid nie net jou mededingendheid en indiensneembaarheid nie, maar bevorder dit ook aktiewe burgerskap, sosiale insluiting en persoonlike ontwikkeling. In kort: dit rus jou toe om jou volle potensiaal te lééf.

“By Akademia kyk ons na ontwikkeling vanuit ʼn roepingsperspektief,” verduidelik Davel, en verwys in dié opsig na die boek Every Good Endeavour deur die skrywer Timothy Keller. Keller stel dit dat werk as ʼn roeping gesien moet word wat groter as ʼn persoon self is. Om die rede kan ontwikkeling slegs roepingsgedrewe van aard wees as dit herbedink word om verder te strek as bloot eie belang.

“Om aan werk hoofsaaklik as ʼn manier van selfvervulling en selfverwesenliking te dink, sal ʼn mens stadigaan verpletter. Ontwikkeling moet oor méér gaan as bloot verbeterde werksvooruitsigte. Dit is ʼn ontwikkelingsreis wat moet uiting gee aan ʼn nuuskierigheid oor die wêreld waarin jy jouself bevind en die manier waarop jy ʼn impak in dié wêreld maak,” sê Davel.

Gegewe die omvattende aard van lewenslange leer, meen Davel voorts dat verantwoordelike leiers – in watter area ook al, alles in hul vermoë moet doen om hulle gemeenskappe in lerende gemeenskappe te omskep. Davel sluit af deur te sê dat roepingsgedrewe ontwikkeling, soos gefasiliteer deur lewenslange leer, altyd ʼn rimpeleffek tot gevolg sal hê. “Die begeerte om nuwe kennis en ervarings te verken, te bevraagteken en te ontdek sal jou lei om op ʼn wesenlike manier ʼn verskil te ervaar en te maak.”

Akademia het in 2022 met die bekendmaking van Akademia et al., die instelling se kortkursusplatform, ʼn geleentheid geskep vir individue en/of ondernemings wat die waarde van lewenslange leer nastreef. Hierdie platform bied insiggewende en praktykgerigte kortkursusse oor ʼn verskeidenheid akademiese dissiplines aan wat die uitbou van insig en goeie praktyk ten doel het.

Dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, meen dat lewenslange leer vanuit ʼn roepingsgedrewe oogpunt beskou moet word.