Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Nuwe hoof vir Bemarking en Kommunikasie – ʼn staatmaker lid van Akademia-familie

Gepubliseer op: 7 Desember 2023

Akademia het, met die ingang 1 November ʼn nuwe hoof vir Bemarking en Kommunikasie aangestel. Dié kommunikasiebestuurder is nie net ʼn gesoute lid van die Akademia-familie nie, maar ook ʼn sterk en ervare bestuursleier.

Zydèlia Venter is geen nuweling vir die instelling nie. Sy stap reeds vir ses jaar die pad saam met Akademia as onder meer kommunikasiebeampte, bestuurder, senior bestuurder en nou as hoof van dié dinamiese ondersteuningsafdeling. Sy beskik oor ʼn honneursgraad (cum laude) en meerstersgraad in Kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) en is tans besig met ʼn doktorale proefskrif in strategiese kommunikasie aan dieselfde universiteit.

Met dié aanstelling fokus die instelling daarop om die reeds bestaande strategieë, stelsels en prosesse in bemarking en kommunikasie te verfyn en verder uit te bou om Akademia se strategiese oogmerke te ondersteun. Hetsy om Akademia as handelsmerk uit te brei, studente te werf, nasionale gespreksvoering te stimuleer, die Akademia-boodskap te vertel, hoopgewende oplossings te bied of om in diens van die gemeenskap te wees.

Venter het in Desember 2017 by die instelling begin en dink met heimwee terug oor daardie tyd toe sy een van slegs 50 voltydse personeellede was. Vandag bestaan die personeelkorps uit byna 250 kollegas terwyl die bemarking en kommunikasieafdeling uit ʼn span van 25 spesialiste oor verskeie subafdelings bestaan. Hierdie subafdelings sluit onder meer ʼn uitgewery, ʼn produksiehuis, ʼn projektespan, ʼn werwingspan, ʼn taalkantoor, studenteburo en nog vele meer in.

“My Akademia-reis is deurspek met eerstes en as die eerste voltydse (en enigste) kommunikasiebeampte is ek destyds sommer so met die intrapslag getaak met die implementering van dié onafhanklike hoëronderwysinstelling se splinternuwe visuele identiteit,” onthou Venter. Vandag is die Akademia-handelsmerk goed gevestig en word dit geassosieer met uitnemendheid sowel as ʼn voorkeurtuiste vir studente, personeel en vennote.

Ander hoogtepunte sluit in die beplanning en uitvoering van die instelling se eerste volwaardige opedag en eerstejaarskamp. Venter verduidelik dat in beide gevalle die planne groot was, maar die hande min, wat beteken het dat almal ingespring en gehelp het, of dit nou jou werk was of nie. Beide hierdie eerstes het alle verwagtinge oortref en die grondslag gelê vir vele suksesvolle geleenthede daarna. Sy gaan voort deur dié geleenthede as “hoendervleisoomblikke” te beskryf en sê dat dit ʼn trotse oomblik is as jy besef dat jou bydraes toekomswaarde het.

Meer onlangse hoogtepunte sluit in Akademia se tienjaarviering in 2022 wat sy beskryf as die viering van ʼn dekade se pionierswerk, en die universiteitslied wat deur prof. Hans du Plessis geskryf is. Venter verduidelik dat dié lied in die bestek van drie minute die instelling se wese saamvat.

“Hierdie betrokkenheid verweef jou in die ‘hart’ van die instelling, terwyl jy help om vorm aan die toekoms te gee,” sê Venter. “Dit is vir my ʼn wonderlike voorreg om eerstehands die groei van verskeie fasette van Akademia te kon ervaar. Méér nog om aktief deel te kan wees van die instelling se aanvanklike vestigingsfase, die groeipyne en sy toekomsmusiek,” vertel sy verder.

Venter meen dat sy in haar nuwe rol op veral drie lewenslesse gaan fokus wat sy tot dusver by die instelling geleer het, naamlik:

  • As jy roepingsgedrewe personeel aan boord het wat die instelling se visie ondersteun, kan jy berge versit ten spyte van uitdagings.
  • Moet nooit die belangrikheid van begin en die impak van klein beginne onderskat nie.
  • Akademia se vormingsideaal is die bloudruk van dié instelling se wese en sluit aan by die klassieke universiteitswese waar vorming beide die denke sowel as die hart insluit. Hierdie ideaal is vervleg in alles wat gedoen word en stel die instelling in staat om studente te lewer wat die samehang tussen die dele en die geheel begryp terwyl hulle die beste vanuit die verlede neem om ʼn impakvolle toekoms te realiseer.

Venter sluit af deur te sê dat sy opgewonde is oor die toekoms van dié Afrikaanse hoëronderwysinstelling, en dat dit wat in die verlede ontwikkel en gevestig is die tafel dek vir ʼn uitnemende toekoms.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, vertel dat hy met groot verwagting uitsien na hoe die Bemarking en Kommunikasie-afdeling verder uitgebou gaan word. “Ons wens Zydèlia alle voorspoed toe. Ons sien daarna uit om te ervaar hoe die afdeling onder haar leiding van krag-tot-krag groei om die Akademia-identiteit en wese só te vestig dat dié instelling sal voortgaan om hoopgewende oplossings te bied aan toekomstige generasies van Afrikaanssprekende gemeenskappe.”

Zydèlia Venter is onlangs aangestel as die hoof van Bemarking en Kommunikasie by Akademia en is gereed om dié afdeling na nóg hoër hoogtes te voer.