Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Só lyk jou pad na sukses in 2024 – Akademia-dosent

Gepubliseer op: 1 Desember 2023

Geskryf deur Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die Latynse frase omnia nunc vix nostro grandescunt aucta labore lui in Afrikaans: alles groei nou met moeite, vermeerder deur ons harde werk. Vanuit Akademia se geledere, som prof. Hannes Rautenbach, spesialis: Besigheidsontwikkeling, dié gedagte soos volg op: “Om te streef na sukses sonder om hard te werk, is soos om te probeer oes van ʼn land waarin jy niks geplant het nie.”

As dit kom by doelwitbereiking of welslae, word dit tereg gevra of dit vandag werklik moeiliker is om sukses te behaal as in die verlede? Die antwoord hierop is kompleks, want dit is moeilik om appels met appels te vergelyk sou mens dink aan die verskillende tegnologieë en eras wat tot hierdie oomblik in tyd aanleiding gegee het. Ek is van die mening dat, gedagtig aan bogenoemde, dit wél moeiliker is om vandag volgehoue sukses te behaal én te handhaaf.

In die eerste plek is daar geen duidelike padkaart na volgehoue sukses in die moderne wêreld waarin ons onsself bevind nie – daar is net te veel onsekerhede. Daar was ʼn tyd in die verlede waar sekere aksies ‘n mens van besliste sukses sou verseker. Dink daaraan: ʼn Gepaste kwalifikasie sou jou nie net van ʼn goeie werk voorsien nie, maar ook van ʼn standvastige inkomste terwyl beroepsgeleenthede hulself in oormaat voorgedoen het. Vandag, in meer en meer velde, of dit nou die regswese, medies, programmering of ʼn magdom ander beroepe is, word dié sekerheid nie gewaarborg nie.

Daar is ook verskeie ander faktore wat dit vandag moeiliker maak om sukses te behaal. Tegnologie wat tien jaar terug as baanbrekend beskou is, is vandag nie meer relevant nie. Om die waarheid te sê, dit mag selfs nie eens meer in gebruik wees nie. Aanlyn oplossings is ook aan die orde van die dag, wat dit moeilik maak om nuwe en bestaande markte te betree. Outomatisering is ʼn daadwerklike oorweging en beïnvloed nie net tradisionele ondernemings nie, maar ook die aard van die arbeidsektor. In dieselfde asem het wetgewing en regulasies dienooreenkomstig verander en is dit beslis nie meer ʼn geval van besigheid soos gewoonlik nie.

Bogenoemde verandering en verskuiwing dra verder by tot kultuurwysigings en nuwe sosiale norme. Binne hierdie konteks is dit moeilik om ʼn ingesteldheid van suksesvolle vooruitgang te vestig en vir lang tydperke stabiel te probeer hou. Mededinging is groter as ooit tevore en dit plaas ʼn demper op die vrye vloei van inligting en idees omdat ʼn ander dit mag kaap en daaruit munt kan slaan indien dit nie vinnig genoeg vasgelê word nie.

Hoe dit egter sy, ons word vandag deur eiesoortige geleenthede gekonfronteer. Hierdie geleenthede doen hulself voor in die vorm van nuwe, ongedefinieerde markte wat dalk nog nie eens aan ons bekend is nie. Dit is daarom belangrik om nie vas te val in beperkende gedagtes nie. Hierdie uitdagings kan óf ʼn verskoning wees óf die sleutel tot vernuwende sukses. Ons kan ontsteld wees oor dit wat nie meer is nie óf ons kan opgewonde ons hande opsteek om meer innoverend te begin dink en te doen.

Kom ons verskuif ons fokus en praat eerder oor die seën van die feit dat ons dit nie alles van nuuts af hoef op te bou nie.

In die lig hiervan ontstaan die volgende vraag: Hoe meet ons harde werk wat ‘goed gedoen’ word? Word dit deur meerderheid gedefinieer? Word dit gemeet aan selftevredenheid of persoonlike vervulling? Die ‘goeie’ van enige aksie of ervaring word immers gevind in die vermoë om ʼn skeppingsdoel te bereik. Slegs in híérdie besef kan iets wérklik suksesvol gedoen word. Harde werk is egter nie meer die enigste sleutel tot langtermynsukses nie, maar gaan eerder hand aan hand met opoffering, geduld en deursettingsvermoë.

Suksesvolle mense werk nie net hard nie, maar hulle werk ook slim en nuut. Om sukses te behaal moet ʼn mens ʼn impak maak, kreatief wees en jouself van die res onderskei. Baie mense dink dat die gedagtelose herhaling van enige taak bemeestering beteken, maar ongelukkig is dit nie waar nie. In werklikheid, om bemeestering te verkry, moet ʼn mens voortdurend en terselfdertyd oefen, uit jou foute leer en aanhou om jou strategieë te vernuwe.

In vandag se samelewing blyk dit dus van kritiese belang te wees om eerder langtermyndenke in ʼn veel groter mate te stimuleer. Alhoewel ons nie die veranderende era kan beheer waarin ons leef nie, kan ons wel beheer hoe ons daarop gaan reageer.

Tegnologiese ontwikkeling is aan die orde van die dag en versnel teen ʼn eksponensiële spoed en digitalisering speel ʼn al groter wordende rol in volhoubaarheid. Hierdie realiteit staan in skrille kontras met byvoorbeeld vroeëre aksies soos die bou van katedrale en ander groot argitektoniese ontwikkeling wat tot en met vier generasies geneem het om te voltooi. Hoekom kan ons nie doelwitte met ewe lang perspektiewe hê nie? Ons moet onsself afvra: Wat is die bepalende doelwitte wat ons vir ons lewens en ons loopbane wil stel?

Daar is ʼn ou Haïtiaanse spreekwoord wat lui: “Verby berge is meer berge.” Diegene wat kan voortgaan om struikelblokke te oorkom, is dié wat suksesvol sal wees. Die waarheid is dat daar altyd nóg struikelblokke sal wees, en dat slegs diegene met ʼn aanpasbare en veerkragtige ingesteldheid sal seëvier. Dit is egter hartseer om te sien hoe mislukking en verwerping mense noop om die knie te buig en hul drome prys te gee.

ʼn Nuwe jaar wink, en daar is nie ʼn beter tyd as juis nou om onsself te begin voorberei vir langtermyngroei en volgehouesukses nie. Die Three Horizons Framework kan handig te pas kom om langtermyndenkpatrone vir 2024 te stimuleer.. Die drie denkhorisonne, kan as volg opgesom word:

  • Die eerste denkhorison verwys na die status quo en hoe dinge op die oomblik gedoen word. Ons maak staat op denkpatrone en gewoontes wat in die verlede ontwikkel is, en besef dan dat hierdie patrone nie meer so suksesvol is as in die verlede nie. Verandering moet plaasvind.
  • Die tweede denkhorison simboliseer ʼn tyd van verandering waartydens ons nuwe dinge probeer in reaksie op die verandering rondom ons. Hierdie horison is belangrik omdat dit die geleentheid skep om te beplan vir meer omvattende veranderinge om plaas te vind.
  • Die derde denkhorison verwys na ʼn meer langdurige en strategiese denkraamwerk wat uiteindelik die eerste horison vervang. Hierdie groei verg nuwe denke en gewoontes om werkswyses te skep wat aan toekomstige toestande en moontlikhede sal voldoen.

Elk van hierdie denkhorisonne word gekenmerk deur voortdurende verandering en is ʼn positiewe ervaring waartydens nuwe geleenthede geskep word vir volgehoue sukses. Dit bied ook die geleentheid om jouself opnuut as ʼn leier in jou gemeenskap of sektor te vestig.

Suksesvolle vooruitgang is iets wat tyd neem om op te bou en word nie oornag in ʼn vlietende oomblik bereik nie. Dit is harde werk en verg ʼn strategiese ingesteldheid. Oorweeg elke dag die geleenthede wat na jou kant toe kom en moenie jou vasstaar teen hoe lank dit sal neem om sukses te behaal nie. Confucius het immers gesê: “Dit maak nie saak hoe stadig jy beweeg nie, solank jy net nie ophou nie!”

Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen volgehoue sukses is as gevolg van die stimulering van langtermyndenke en strategiese doelwitstelling.