Search
Close this search box.

Die impak van periferale joernalistiek op opleiding

Gepubliseer op: 29 November 2023

Geskryf deur André Gouws, dosent in Tale en Sosiale Wetenskappe by Akademia.

Die groei in digitale media, veral in sosiale media, het gelei tot groot omwentelinge in joernalistiek. Dit is welbekend dat tradisionele media wêreldwyd dekades lank al stoei om aan te pas by die digitale omgewing, met baie gedrukte koerante wat gesluit het en nuusmedia wat nou hul inhoud aanlyn versprei. In Suid-Afrika is een bekende voorbeeld Volksblad, wat nie meer in gedrukte formaat verskyn nie, maar slegs aanlyn gepubliseer word.

Tradisionele media het baie van hul inkomste verloor weens groot internetplatforms soos Google en Meta wat hul advertensie-inkomste afgerokkel het. Dit het gelei tot nuuskantore wat al kleiner raak, en mediahuise wat hul verteenwoordiging in kleiner stede en dorpe afgeskaal het, bloot omdat daar nie meer genoeg geld is nie. Die nuusmedia se reikwydte het derhalwe geval, omdat mense nie meer al die nuus kry wat hulle soek nie, of bloot nie die nuusmedia vertrou nie.

Die nuusmedia se invloed raak al minder, veral onder jong lesers, wat die toekomstige verbruikers van nuus is. Die grootste koerant in Suid-Afrika was altyd die Sunday Times, wat eens meer as 500 000 koerante per Sondag verkoop het. Die syfer is nou rondom 93 000. Die gevolg hiervan is dat nuuswoestyne ontstaan. Dit beteken dat baie mense in Suid-Afrika en wêreldwyd op plekke woon waar daar geen (of baie min) nuusbronne is nie.

Verder wys navorsing dat slegs 40% van mense wêreldwyd die tradisionele nuusmedia vertrou, omrede hulle meen die media is bevooroordeeld. Die 2023-weergawe van die Reuters-instituut se digitalenuusverslag wys dat mense meer vertroue in smaakmakers en sosialemediaplatforms as in die nuusmedia het. Daar is, volgens die direkteur van die Reuters-instituut, Rasmus Nielsen, geen kans dat mense wat in die 2000s gebore is, skielik as hulle ouer word, sal terugbeweeg na tradisionele nuusmedia se webwerwe nie.

Daar is nou baie ander nuusbronne buiten die tradisionele media (koerante, nuuswebwerwe en die uitsaaimedia). Die nuwe nuusbronne wissel van gewone mense, wat nuus en inligting oor hul omgewing op sosiale media versprei, tot webwerwe, wat deur spesialiste in sekere velde soos die wetenskap of die akademie bedryf word. Hierdie nuwe nuusbronne is vir baie lesers nou hul enigste nuusbronne.

Die skeppers van hierdie nuwe soorte nuusbronne is mense wat in die akademie bekend staan as periferale akteurs in joernalistiek, of bloot periferale joernaliste. Dit is mense wat op die grense van tradisionele joernalistiek hul werk doen. Periferale joernaliste is dikwels mense wat op webwerwe – YouTube, TikTok, Facebook en ander platforms – nuus oor hul omgewing of hul spesialisveld skep en versprei. Dit is nie mense wat opgelei is as joernaliste nie, maar hulle doen klaarblyklik joernalistieke werk.

Dit is ʼn tendens wat al meer in akademiese ondersoek na vore kom, omdat navorsers worstel om te bepaal waar hierdie periferale akteurs inpas in ons begrip van joernalistiek. Daar is al meer navorsers wat meen dat periferale joernaliste inderdaad joernalistieke werk doen en sodoende help om gapings in die nuusomgewing te vul.

Daar is wêreldwyd baie voorbeelde van betroubare periferale joernalistiek. Dr. Aljosha Karim Schapals van die Universiteit van Tegnologie van Queensland het verlede jaar ʼn boek gepubliseer, Peripheral Actors in Journalism, waar hy onder meer argumenteer dat periferale joernaliste suksesvol hul plek in die medialandskap ingeneem het. Hulle daag die rol van die tradisionele media uit deurdat hulle nou ook hul plek as storievertellers ingeneem het. Hy meen dat periferale joernaliste hul rol as mense wat belangrike stories vertel ernstig opneem en moeite doen om goeie werk te lewer, net soos tradisionele joernaliste.

Dr. Scott Eldridge II het in 2018 in sy boek Online journalism from the periphery gewys hoe webwerwe soos WikiLeaks en die sosialemediaplatform Reddit ook joernalistiek bedryf. Reddit is ʼn sosialemediaplatform wat gesprekke aanmoedig waar gebruikers dikwels as groep saamwerk (crowd sourcing) om feite en stories te staaf en betroubare inligting weer te gee.

Eldridge wys daarop dat tradisionele joernaliste die werk van periferale joernaliste as ʼn bedreiging beskou en moeite doen om die grense rondom hul beroep te versterk, dikwels deur daarop aanspraak te maak dat periferale joernalistiek van swak gehalte en selfs vals is en dat slegs tradisionele media “goeie” joernalistiek bedryf.

Dit is egter lankal nie meer die geval nie. Daar is genoegsame navorsing gedoen om te wys dat periferale joernaliste dikwels (maar beslis nie altyd nie) goeie werk lewer. Wanneer mense voel dat hulle nie kan staatmaak op die tradisionele media nie, omrede dit bloot nie meer teenwoordig is in hul gemeenskappe nie, of omdat hulle nie meer dié tipe media vertrou nie, is daar dikwels periferale joernaliste wat met gehalte werk die gaping vul.

Hoewel daar nog min navorsing gedoen is in Suid-Afrika oor periferale joernalistiek, is een moontlike voorbeeld, WhatsApp-groepe. Baie van ons is ʼn lid van WhatsApp-groepe in ons woonbuurte. Hierdie groepe vervul dikwels ʼn soort joernalistieke funksie. Dit is waar mense nuus oor hul direkte omgewing kry, deelneem aan gesprekke oor sake van die dag en dikwels speel hierdie groepe ook ʼn rol in die plaaslike politiek.

In my eie woonbuurt is die plaaslike raadslid byvoorbeeld deel van ʼn WhatsApp-groep. Hy sal dikwels gesprekke wat daar plaasvind opvolg deur byvoorbeeld stappe te neem om slaggate of gebarste pype te laat herstel. Dit is dus duidelik hoe doeltreffend sulke groepe kan wees. In die verlede sou die plaaslike koerant eers moes berig oor ʼn voortslepende probleem soos ʼn gebarste pyp wat nie herstel word nie. Dan sou die munisipaliteit (soms) optree. Nou is die optrede byna onmiddellik, direk ná die WhatsApp-gesprek oor die probleem.

Dit is, derhalwe duidelik dat periferale joernalistiek ook teenwoordig is in Suid-Afrika. Navorsers en dosente behoort kennis te neem hiervan, omdat dit ons begrip en onderrig van joernalistiek sal verbreed.

Die vraag na opgeleide joernaliste wat in nuuskantore gaan werk, is steeds reusagtig in Suid-Afrika, veral vir gemeenskapskoerante. Dit is egter duidelik dat dit ook nodig is om periferale joernaliste op te lei. Daar is ʼn tendens dat veral jongmense besluit om bloot self hul eie klein “nuuskantore” te skep, deur byvoorbeeld inligting en nuus op YouTube of TikTok te versprei. Hulle beskou hulself dalk nie as joernaliste nie, maar die werk wat hulle doen, vervul een of ander joernalistieke funksie, soos om nuus oor hul woonbuurt of een of ander spesialistema te versprei.

As mense dus al meer van hul nuus by bronne buite die tradisionele nuusmedia kry, moet ons die implikasies daarvan probeer verstaan en as opvoeders moet ons moeite doen om te verseker dat ons studente aflewer wat steeds geloofwaardige nuus sal skep en versprei, al is dit buite die tradisionele nuusmedia. Dit beteken dat joernalistieke opleiding ook van nut kan wees vir ʼn wye verskeidenheid studente, nie net diegene wat formeel joernaliste wil word nie. Mense wat aanlyn inhoud wil skep en versprei, sal baat by joernalistieke opleiding. Begrip oor etiese vraagstukke in joernalistiek, kennis van storievertellingstegnieke, kennis van digitale apparatuur, begrip van hoe die gehoor lyk – dit is alles nuttige kennis vir enigeen wat eendag inhoud aanlyn wil versprei. Ons moet ook mediageletterdheid kweek onder alle studente, om die nuwe soorte nuusbronne krities te evalueer.

Deur óók periferale joernaliste op te lei, sal ons studente daarop kan voorberei om verantwoordelik om te gaan met die inhoud en nuus wat hulle skep en versprei, wat weer sal bydra tot ʼn beter en meer betroubare aanlyn inligtingsomgewing vir almal. Dit is ʼn gegewe dat periferale joernalistiek gaan groei, daarom is dit nodig om studente deeglik voor te berei daarvoor. As joernalistiek-opvoeders kan ons ʼn belangrike rol speel om te verseker dat periferale joernaliste inhoud van waarde skep wat akkuraat, eties en, uiteindelik, betroubare joernalistiek is.

André Gouws is ʼn dosent in Tale en Sosiale Wetenskappe by Akademia. Hy is tans besig om sy PhD-verhandeling te voltooi oor periferale joernalistiek, spesifiek die totstandkoming van ʼn nuwe soort openbare sfeer op Facebook, gedryf deur periferale joernaliste. Hy het in Oktober 2023 ʼn aanbieding by ʼn aanlyn seminaar van die Maison Française d’Oxford aan die Oxford-universiteit oor periferale joernalistiek en die openbare sfeer gelewer.
Kennisgewing web