Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student leef passie vir regte en musiek uit

Gepubliseer op: 27 November 2023

Onthou die naam Ruan Wepener. Dié Akademia-student maak nie net vir hom ʼn naam in die musiekbedryf nie, maar hy is ook vasberade (én baie opgewonde) om as regspraktisyn ʼn verskil in die lewens van ander te maak.

Wepener (36) is ʼn LLB-finalejaarstudent wat sy studie via die nauurse afstandsmodel aangepak het. Hy vertel dat dié model hom nie net die vryheid en aanpasbaarheid gebied het om voltyds op sy sangloopbaan te fokus nie, maar hom ook die ondersteuning – administratief en akademies – gebied het om sy studiedroom te verwesenlik.

“Ek was nog op die skoolbanke toe ʼn loopbaan in die regte my aandag getrek het,” vertel Wepener en hy onthou met heimwee die eerste “kontrak” wat hy ooit opgestel het: “ʼn Maatjie van my het per geleentheid nie haar huiswerk gedoen nie, en ek het ʼn baie eenvoudige briefie geskryf wat deur haar en ons juffrou onderteken is. Volgens dié skrywe sou sy belowe om voortaan haar huiswerk pligsgetrou te doen as die juffrou haar nie na die hoof se kantoor sou stuur nie!” Die res is soos hulle sê geskiedenis en sedertdien werk Wepener hard daaraan om die regswese te betree.

“Toe ek drie jaar gelede met my studies begin het, het ek sewe dae ʼn week gewerk en die nauurse afstandsmodel was my behoud” sê Wepener. Hy voeg by dat hy tydens die aanvang van die koronaviruspandemie moeiteloos vanaf die sentrumopsie (hy was by die Lynwood-sentrum betrokke) na die e-leeropsie kon oorskakel. Hierdie opsie maak dit vandag vir hom as kunstenaar moontlik om oor die land heen te reis vir optredes en om steeds, danksy tegnologie, vanaf enige plek klasse aanlyn by te woon.

Wepener se loopbaanreis by Akademia het begin met ʼn Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie in 2019 omdat die LLB-program op daardie stadium nog nie deur die instelling aangebied is nie. Hy vertel dat hy veral die Inleiding tot die Reg-module geniet het. Hierdie module onderrig studente om regsterminologie te verstaan en binne die regspraktyk as regsadministrateur toe te pas. Wepener het dié program met lof geslaag en is dit eens dat dit vir hom die weg gebaan het om later, in 2020, sy LLB-studie te onderneem.

“Dit klink dalk soos ʼn cliché, maar ek kan waarlik nie een van my dosente bo ʼn ander uitsonder nie. Die Fakulteit Regsgeleerdheid beskik oor uitblinkerdosente wat deurlopend hoë standaarde vir die studente handhaaf,” sê Wepener.

Wepener vertel dat hy geroepe voel om as kunstenaar én regspraktisyn ʼn verskil in ander se lewens te bewerkstellig. Hoewel dié twee rigtings op die oog af dalk wêrelde van mekaar verwyder is, meen hy dat beide hom motiveer en vervul. “As kunstenaar is dit vir my lekker om mense deur musiek weg te voer na ʼn plek van ontspanning en rus. Op ʼn soortgelyke manier bied my regskennis my die geleentheid om mense toe te rus met wetsaspekte wat hulle op ander terreine van hulp mag wees,’ verduidelik Wepener. Hy voeg by dat hy opgewonde is om oor die bestek van die volgende twee jaar homself as ‘n kandidaat prokureur te vestig, en dat hy daarna graag weer nuwe musiek sal wil vrystel.

“Ek sal Akademia onomwonde aan ander werkende persone aanbeveel. Dit is nie aldag dat jy die geleentheid gebied word om deel te neem aan só ʼn dinamiese en waardetoevoegende nauurse studiegeleentheid nie. Akademia verander lewens!” sluit Wepener af.

Aansoeke vir die 2024-studiejaar word ingewag. Klik hier om aansoek te doen. Die sluitingsdatum vir die LLB-program is 9 Februarie.

Ruan Wepener is opgewonde om ʼn verskil te maak as ʼn toekomstige regspraktisyn. Hy het via die nauurse afstandsmodel studeer en kon daarom sy passie vir musiek voluit najaag.