Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Fonties swaai Akademia-vlag hoog tydens internasionale samewerkingsweek

Gepubliseer op: 27 November 2023

ʼn Afvaardiging van Akademia het vanaf 13 tot 16 November aan ʼn jaarlikse internasionale samewerkingsweek van die Artevelde Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe in Gent, België, deelgeneem. Dié geleentheid vind gelyklopend met die Globale Entrepreneurskapsweek (GEW) plaas en het ten doel om entrepreneurskap as ʼn voertuig vir innovasie en werkskepping te vier en uit te brei.

Die afvaardiging, onder leiding van Johann Smith (dosent in Bestuurswetenskappe) en Elizma van Zyl (akademiese assistent in Bestuurswetenskappe), het vyf studente vanuit die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ingesluit. Dié studente – Benjamin Halliday, Kayla van der Ryst, Juané Bresler, Tiaan Botha en Chandré Neuland – het Akademia trots verteenwoordig. Méér nog Botha en Neuland was lede van die span wat dié jaarlikse entrepreneurskapskompetisie gewen het. Die mentorspan, wat Smith en Van Zyl ingesluit het, het ter voorbereiding van die kompetisie saam vyf van die Verenigde Nasies (VN) se ontwikkelingsdoelwitte geïdentifiseer wat as inspirasie vir die studente se onderskeie sakeplanne moes dien.

Volgens Smith poog die samewerkingsweek om studente blootstelling te bied aan internasionale samewerking. In aanloop tot die geleentheid identifiseer deelnemende studente elk ʼn ontwikkelingsdoelwit wat hulle interessant vind, en word gevolglik in spanne met dieselfde belangstelling gegroepeer. Hierdie spanne, wat uit studente van verskillende universiteite oor drie kontinente bestaan, ontmoet virtueel voordat hulle in Gent bymekaarkom. Sodra die verskillende spanne in België aankom, volg hulle ʼn intensiewe program waartydens hulle (aan die hand van hul gekose ontwikkelingsdoelwit) ʼn probleem moet identifiseer, ʼn sakegeleentheid moet uitwys en uiteindelik hul besigheidsidee aan hul eweknieë en ʼn paneel kundiges moet voorlê. Daar was ook sekere groepsaktiwiteite wat vooraf voltooi moes word en spesiale pryse is op grond hiervan toegeken. Twee van die drie groepe wat hier pryse gewen het, het Akademia-studente as lede gehad.

Akademia se deelname aan dié dinamiese entrepreneurskapsgeleentheid volg ná ʼn welwillendheidsbesoek deur Smith in Maart 2022. Ná afloop van dié besoek is Smith in November van dieselfde jaar genader om een van die mentors tydens die samewerkingsweek te wees, waarna hy vanjaar ʼn span studente vanuit eie bodem kon vergesel. Intussen het Akademia ook ʼn memorandum van verstandhouding met Artevelde onderteken.

“Die wêreld is werklik verweef en niemand werk meer in algehele isolasie nie,” sê Smith en voeg by dat die kanse baie goed is dat studente wat BCom (Ondernemingsbestuur) aan Akademia studeer in die verloop van hul loopbane met internasionale eweknieë sal moet saamwerk. “Hierdie geleentheid bied aan studente ongelooflike blootstelling en dien as ʼn belangrike ondervindingsplatform vanwaar hulle met studente uit verskillende lande aan ʼn gedeelde doelwit kan werk,” verduidelik Smith.

Die Akademia-afvaardiging glimlag breed tydens die afsluitingsfunksie van die samewerkingsweek in Gent.
Johann Smith en Elizma van Zyl, albei van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, het as mentors tydens die samewerkingsweek opgetree. Hier is hulle (albei in die agterste ry) saam met hul internasionale eweknieë.