Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die stand van Afrikaans in die regswese onder die loep tydens Akademia-regsimposium

Gepubliseer op: 21 November 2023

Akademici, regslui en taalkundiges het op 16 November in Centurion, Gauteng, byeengekom om gesprekke te voer oor die stand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse regswese. Dié gesprekke is by wyse van ʼn regsimposium gefasiliteer wat deur die Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia aangebied is en wat deur regslui, akademici en taalkenners bygewoon is.

In haar verwelkoming het prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, die doel van die simposium verduidelik as ʼn vertrekpunt vir die uitbouing van ʼn studie deur die Afrikaanse Taalraad (ATR). Dié studie het dit ten doel om die stand van Afrikaans in formele en informele regspleging vas te stel en volg na die bekendmaking van Die algemene demografie van Afrikaans-navorsingsverslag wat in 2022 bekend gestel is. Hierdie verslag bied betroubare en bygewerkte demografiese data oor Afrikaans en word beskou as ʼn omvattende bron vir beplanningsdoeleindes asook die bewaring en verdere uitbouing van taalvitaliteit.

“Ons is vandag hier byeen om te besin oor die strewe na geregtigheid teen die agtergrond van taal,” het Coetzee gesê en bygevoeg dat die simposium die eerste treë verteenwoordig om die genoemde navorsing spesifiek uit te brei na die Afrikaanse regswese.

Volgens dr. Conrad Steenkamp, hoof van die ATR, verteenwoordig die 2022-navorsing ʼn belangrike wegspringplek vanwaar Afrikaanssprekendes oor alle grense heen sal moet saamwerk om die gevolge van demografiese verandering oor die volgende dekades die hoof te bied.

Roné Wierenga, projekbestuurder en taalkundeskrywer vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA) en navorser verbonde aan die ATR, het die volgende belangrike demografiese neigings (2021-2041) aan simposiumgangers voorgehou:

  • Sterk bevolkingsgroei en migrasie sal taaldiversiteit in stedelike gebiede verhoog.
  • Afrikaanse getalle groei in absolute terme van 7,11 miljoen (2021) na 7,12 miljoen (2031).
  • Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die algehele bevolking van 11,7% (2021) na 9% (2041). Hierdie ineenkrimping kan toegang tot staatshulpbronne verswak.
  • Die reeds hoë vlakke van verengelsing (ongeveer 20 000 Afrikaanssprekendes per jaar) sal waarskynlik toeneem en die groei van die taal beperk.
  • Die bruin/swart meerderheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap groei van 59,5% (2021) na 63,8% (2041).
  • Engels, gevoed deur al die inheemse tale, steek reeds vanaf 2022 vir Afrikaans, die derde grootste taal in die land, verby.

Beide Steenkamp en Wierenga het dit beklemtoon dat die toenemende gebruik van Engels as de facto-amptelike taal in belangrike taaldomeine soos die onderwys en die regswese enorme implikasies vir die behoud en groei van Afrikaans inhou. Ten einde hierdie bedreiging effektief teen te staan sal beter samewerking tussen Afrikaanse organisasies en netwerke moet plaasvind. Diepgaande gesprekke tussen die verskillende Afrikaanse taalgemeenskappe sal ook voorts gefasiliteer moet word. Hiermee saam sal die handhawing van Afrikaans se infrastruktuur geprioritiseer moet word by wyse van navorsing, vennootskappe met ander inheemse tale en deeglike taalbeplanning en -bestuur.

Dr. Annelise de Vries, dosent in Afrikaans en vakhoof van tale in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, meen die superstatus wat in die Suid-Afrikaanse regskonteks aan Engels toegeken word, behoort nie gelate aanvaar te word nie. Volgens De Vries moet taalgemeenskappe daadwerklik begin optree sodat groter toegang tot geregtigheid vir alle inheemse tale, insluitend Afrikaans, verseker kan word.

Die belangrikheid van inheemse tale, soos Afrikaans, in die regswese is verder beklemtoon deur prof. Russell Kaschula en dr. Zakeera Docrat, beide van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) wat as hoofsprekers opgetree het. Die tema van hulle lesing was: Afrikatale onder beleg? Op pad na ʼn bevrydende regstelsel in Suid-Afrika. Kaschula beklee die institusionele navorsingsleerstoel in forensiese linguistiek en meertaligheid by die UWK, terwyl Docrat tans ʼn navorsingsgenoot in forensiese linguistiek (Taal en Reg) aan die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe (NIHSS) aan die UWK.

Volgens dié duo speel hoëronderwysinstellings, soos Akademia, ʼn belangrike rol in terme van die opleiding en vorming van toekomstige regspraktisyns. Om hierdie rede moet die samestelling en uitkomste van byvoorbeeld LLB-programme oor ʼn gefokusde meertaligheidskomponent beskik. Hierdie fokus moet betrekking hê op inheemse én internasionale tale, terwyl die toevoeging van intervensies soos forensiese linguistiek omarm moet word. Beide Kaschula en Docrat het Akademia et al. in dié verband geloof vir sy kortkursus: Inleiding tot forensiese linguistiek. Hierdie kursus bied aan regstudente, regspraktisyns, kriminoloë, wetstoepassers, joernaliste, taalpraktisyns en gedragsontleders die geleentheid om taalgebruik binne konteks van geregtelike prosesse te ondersoek.

Ander oorwegings wat voorgehou is as boublokke vir die vestiging van inheemse tale binne die regswese sluit in:

  • Die intellektualisering van inheemse tale met spesifieke verwysing na die ontwikkeling van eie wetenskapstale.
  • Voortgesette taalopleiding vir regspraktisyns en ondersteuningspersoneel (polisiebeamptes, hofpersoneel, tolke en vertalers).
  • Wegdoening van die aanname dat die regswese binne ʼn monolinguistiese (Engels) omgewing funksioneer.
  • Die snoer van waardetoevoegende vennootskappe tussen universiteite, fakulteite en navorsers.
  • Gekonsolideerde navorsing ten einde ʼn brug te bou tussen die teoretiese en praktiese oorwegings.
  • Sensitiwiteitsopleiding vir persone binne die regswese ten einde dié sektor deur middel van taal meer toeganklik en verantwoordbaar te maak.

Docrat het die simposium afgesluit deur te sê dat goeie vordering reeds binne die regswese gemaak is, en dat sy opgewonde is oor die samewerkende rol van instellings soos Akademia om dié taalstrewe te realiseer.

Prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia, is opgewonde oor dié instellings se betrokkenheid by hoëvlaknavorsing oor die stand van Afrikaans in die plaaslike regswese.
Akademici verbonde aan die Fakulteit Regsgeleerdheid wat die geleentheid bygewoon het, is van links dr. Melanie Roestoff, Natasha Venter, prof. Jacolien Barnard, dr. Alexander Politis, Chrislie Boers en Anél Sahd.
Prof. Russell Kaschula en dr. Zakeera Docrat, beide van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het as gassprekers opgetree.