Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dekaan verkies tot Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum-beoordelingspaneel

Die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof. Hannes Rautenbach, is onlangs aangewys as die hoofverteenwoordiger van die Groen Ekonomie-kategoriebeoordeling vir die 2023- Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF)-toekennings. Rautenbach is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) genomineer en sal dan ook optree as verteenwoordiger van die SAAWK-beoordelingspaneel.

Die Groen Ekonomie-toekenning word toegeken aan ʼn individu of organisasie wat oor die afgelope vyf tot tien jaar ʼn bydrae gelewer het tot die bevordering van biodiversiteitbewaring, omgewingsvolhoubaarheid en ʼn groener ekonomie.

Die NSTF is ʼn oorkoepelende belanghebbende liggaam wat as verteenwoordiger optree vir verskeie organisasies wat verbind is tot die wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie, en word tans beskou as die grootste, oudste en mees verteenwoordigde liggaam van sy soort in Suid-Afrika. Die liggaam is saamgestel uit meer as 100 organisasies, rade en instellings, waaronder die SAAWK.

Die NSTF word dan ook deur die nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie erken as ʼn geloofwaardige spreekbuis waardeur gesonde interaksie tussen die regering en die burgerlike samelewing kan plaasvind rakende strategies sosio-ekonomiese en volhoubare ontwikkelingsbeleide en -planne.

Die NSTF ken jaarliks spesiale toekennings toe vir uitsonderlike prestasie in verskeie wetenskap-, ingenieurswese-, tegnologie- en innovasiekategorieë. Die tema vir die 2023-toekennings is “Oseaanwetenskap vir volhoubare ontwikkeling”, wat ondersteunend is tot die Verenigde Nasies se amptelike verklaring van dieselfde tema vir die 2021-2030-dekade. Die gesogte 2023-toekennings, wat in samewerking met South32 georganiseer word en wat later vanjaar sal plaasvind, word weereens beskou as die grootste van sy soort in Suid-Afrika, en beloof om vanjaar ʼn inspirerende en spoggeleentheid te wees.

Akademia is trots om een van die dekane op hierdie besonderse beoordelingspaneel te hê en die instelling sien uit na die uitkoms van hierdie toekenningsgeleentheid.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia en is onlangs verkies as NSTF-beoordelaar.