Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-toppresteerder klim die leer tot sukses

Gepubliseer op: 15 Februarie 2023

John-Fred de Koker, ʼn 33-jarige rekenmeester van Pretoria, het sy BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie by Akademia voltooi en is by 2022 se kwalifikasieplegtigheid aangewys as die toppresteerder van sy groep. Hy deel die suksesverhaal van sy studies en sy loopbaan tot dusver.

De Koker het ná skool in die bankwese begin werk en ʼn klein besigheid op die been gebring. “Dit was die oomblik toe ek besef het hoe belangrik finansies in besigheid is en ek het toe besluit om die bestuursrekeningkunde-roete te volg.”

Hy het by sy vriend wat by Akademia studeer het gesien hoe die nauurse afstandsmodel werk en het besluit om Akademia sy studietuiste te maak. “Ek het besef dat die deurlopende onderrig en gepaardgaande ondersteuning vir my die beste opsie sou wees. Boonop kon ek in Afrikaans studeer en die administrasie het seepglad verloop.”

De Koker het in 2018 sy studies by Akademia afgeskop met ʼn Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde waarna hy in 2019 sy BCom-kwalifikasie aangepak het. De Koker het nooit getwyfel oor sy studiekeuse nie aangesien hy voor sy studies al ʼn passie vir finansies gehad het. “Dit was maklik om met my studies te vorder aangesien ek altyd die vooruitsig van ʼn goeie loopbaan en nuwe geleenthede wanneer ek eers afstudeer het in gedagte gehou het. Ek het altyd na die volgende mylpaal gekyk en dit was lekker om my vordering dop te hou.”

Volgens De Koker het die persoonlike aandag tydens sy studies vir hom uitgestaan as gevolg van die dosente wat baie moeite gedoen het om hul studente se sukses te kan verseker. “Die kontaksessies wat ons gehad het, tesame met die deurlopende assesserings het my op koers gehou. Die nauurse afstandsmodel van Akademia is puik saamgestel.”

De Koker vertel om te werk en studeer het beslis uitdagings, maar dat die vreugde inkom wanneer jy die resultate van jou harde werk kan sien. “Ek sal hierdie kwalifikasie by Akademia ten sterkste aanbeveel aan enige iemand wat ʼn belangstelling in finansies het aangesien dit ʼn breë spektrum van kennis dek deur gehalte onderrig.”

Toe hy sy BCom-kwalifikasie in 2019 begin het, het hy ook by ʼn ouditeursfirma met sy The South African Institute of Professional Accountants (SAIPA)-klerkskap begin. “Dit was ʼn baie goeie besluit om met my klerkskap te begin terwyl ek studeer het. My werk en studies was altyd belyn en die studies was daarom nog meer interessant en altyd relevant.”

Hy het in 2022 ná hy sy graad ontvang het en as toppresteerder aangewys is, sy SAIPA-klerkskap voltooi. Hy het ook sy Chartered Institute of Management Accountants (CIMA)-vrystellings tot op bestuursvlak voltooi wat beteken dat hy sy Advanced Diploma in Management Accounting by CIMA ontvang het. De Koker noem dat die hoë CIMA-vrystelling by Akademia nog ʼn rede vir sy keuse van instelling was. Teen die einde van dieselfde jaar het hy ook sy SAIPA Professional Evaluation-eksamen geslaag wat beteken dat hy as professionele rekenmeester by SAIPA geregistreer is. Hy het daarna ook ʼn werksaanbod as rekenmeester aanvaar in die landboubedryf.

Alhoewel hy in Januarie vanjaar vir die eerste keer pa geword het, het De Koker reeds weer as CIMA-student ingeskryf waar hy beplan om die stategiese vlak aan te pak en hopelik teen einde volgende jaar as Chartered Global Management Accountant (CGMA) te kwalifiseer. “In die drie jaar daarop sal ek in my loopbaan van krag tot krag gaan met my hoofdoelwit om finansiële bestuurder of selfs direkteur te word. Dit was altyd ʼn droom, maar die droom word nou realiteit.”

Akademia is trots om De Koker een van sy alumni te noem. “My hart swel van trots om deel van Akademia se alumni te wees. Sonder my studies sou daar geen moontlikheid gewees het om die professionele loopbaan te volg waarin ek nou is nie. Akademia is tops!” sluit de Koker af.

Indien jy ook droom van ʼn loopbaan as bestuursrekenmeester, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting oor die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

John-Fred de Koker is ʼn trotse alumnus van Akademia en hy is in 2022 aangewys as die toppresteerder van sy BCom (Bestuursrekeningkunde)-groep.