Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia stel ereleerstoel in onderwysleierskap bekend

Die eerste bekleër van Akademia se ereleerstoel in onderwysleierskap is op Donderdag 16 Februarie by ʼn besonderse geleentheid in Centurion bekendgestel. Dr. Pierre Edwards, voormalige skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het tydens hierdie funksie sy eerste toespraak gelewer.

Die besluit om ereleerstoele by Akademia te vestig is in 2020 deur Akademia se direksie goedgekeur. Volgens prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, is die instelling tot die idee van professore asook ereprofessore verbind. “Vanweë ons verbintenis tot wat NP van Wyk Louw die ‘hoër sfere van die gees’ sou kon genoem het, het Akademia besluit om enkele ereleerstoel-posisies in te stel. Akademia verbind homself so op ʼn besondere wyse – met nadruk – tot die tradisie van die professor.”

Goosen noem verder dat Akademia hiermee ʼn besonderse ereplek skep waarbinne ervaring, kennis en wysheid aan die bod kan kom en aan die volgende geslagte oorgedra kan word.

Die nuwe amp en status wat Edwards nou beklee, kan dus met dié van ’n ereprofessor vergelyk word. Die ereleerstoel het ten doel om die akademiese statuur van Akademia te vestig en uit te bou, onderwysleierskap na te vors en te versterk, asook om die vormingsideaal van Akademia te ondersteun.

Volgens prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, is daar ʼn afname aan geleentheid om by openbare universiteite in Afrikaans nagraadse studies in onderwysleierskap en -bestuur te studeer. “Dr. Edwards gaan in sy amp meewerk om nagraadse onderwysleierskap en -bestuur in Afrikaans by Akademia te ontwikkel en te verdiep.”

Edwards beskik oor twee doktorsgrade en het verskeie toekennings vir uitnemendheid in die onderwys ontvang, insluitend ʼn toekenning van die FAK, asook vanaf die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Du Toit noem dat Edwards ʼn uitnemende onderwysleier is en in wese ten toon stel wat Akademia met sy vormingsideaal ten doel het. “Hy leef as onderwysleier ook Akademia se waardes van pionierskap, rentmeesterskap, verbondenheid aan sy gemeenskap en voortdurende strewe na wysheid in geloof, hoop en liefde uit.”

Edwards het tydens sy intreerede genoem dat dit vir hom ʼn groot eer is om as eerste bekleër van die ereleerstoel aangewys te word en om ʼn werklike bydrae te kan lewer tot ʼn besonderse inisiatief. “Vir my is die instelling hiervan ʼn besonderse mylpaal op die weg wat Akademia gebaan het om Afrikaans sy verdiende en regmatige plek in tersiêre onderwys in ons land te gee,” noem Edwards. “Ek hoop om deur hierdie ereleerstoel ʼn bydrae te kan lewer om Akademia die intellektuele tuiste van die Afrikaanse onderwysleier te maak.”

Akademia het reeds die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in kultuurkritiek ingestel, terwyl die ereleerstoel in veiligheidstudies in Maart bekendgestel sal word.

Goosen verduidelik dat die gesag van ʼn ereprofessor toegeskryf kan word aan deurleefde ervaring, omvattende kennis en ʼn diepe lewenswysheid. “Ons is diep dankbaar oor die feit dat die eerste bekleër van die ereleerstoel in onderwysleierskap hierdie eienskappe op ʼn uitnemende wyse beliggaam. Ons is eweneens op ʼn diep nederige wyse daarvan oortuig dat hy dit ook in en deur hierdie besondere amp aan volgende geslagte sal oordra,” sluit hy af.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, saam met dr. Pierre Edwards (middel), die eerste bekleër van die ereleerstoel in onderwysleierskap.