Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia vier die belangrikheid van moedertaalonderrig op Internasionale Moedertaaldag

Akademia vier vanjaar op 21 Februarie Internasionale Moedertaaldag saam met die veelheid van taalgemeenskappe dwarsoor die wêreld. Die instelling vereenselwig homself met die beginsel van moedertaalonderrig. Volgens navorsing deur vooraanstaande navorsers wêreldwyd is moedertaalonderrig noodsaaklik vir goeie onderwys op alle vlakke.

Voorts staan die navorsers se grondige kennis van die eie moedertaal ook nie in spanning met ons veeltalige wêreld nie. Moedertaalonderrig maak juis die aanleer van ander tale moontlik en hoef nie gelykgestel te word aan die beperkinge wat met eentaligheid gepaard gaan nie. Eentaligheid soos wat dit deur die bestaande orde beoefen word, verskraal ons denke, begrens ons verbeelding en beperk ons visie op die onmeetbare rykheid wat in die tale en kulture van die mensdom opgesluit lê.

Moedertaalonderrig binne ʼn veeltalige konteks is daarom vir Akademia as Afrikaanse hoëronderwysinstelling van hoogste belang. “Ons studente ontvang gehalte onderrig in hul moedertaal. Die kennis waaroor hul beskik, sal hulle in ʼn veeltalige omgewing kan toepas,” sê dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde by Akademia en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

De Vries beklemtoon ook die belangrikheid van moedertaalonderrig vir goeie onderwys. Sy noem dat veeltalige onderwys verskeie vorme kan aanneem; dubbelmedium, parallelmedium, enkelmedium en selfs deur middel van transtaling. “Tog is die kern hiér dat meer as een taal gebruik word juis om leerders (en selfs studente) die geleentheid te bied om hulle moedertale optimaal te kan gebruik.”

Volgens De Vries loop moedertaal en veeltaligheid hand aan hand; moedertaalonderrig maak veeltaligheid moontlik. “Die sukses met die aanleer van ʼn tweede of derde taal hang af van die sukses waarmee jy jou moedertaal bemeester het,” sê De Vries. “Suksesvolle, funksionele veeltalige praktyke kan slegs verwerklik word as gemeenskappe op die gebruik van hulle onderskeie moedertale aandring.”

Afrikaans as moedertaal het verskeie voordele: intellektuele voordele soos goeie taalvaardighede, logiese denke en begripsvermoë in die algemeen; emosionele voordele soos die persoonlikheidsontwikkeling van leerders; asook verskeie ekonomiese en maatskaplike voordele, soos die kultivering van wedersydse erkenning en respek tussen die verskillende tale, gemeenskappe en tradisies.

Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is ʼn enkeltalige onderwysstelsel sowat 8% goedkoper as ʼn veeltalige onderwysstelsel, maar die totale koste verbonde aan ʼn sesjaarsiklus sonder moedertaalonderrig is vanweë herhaling en hoë uitvalsyfer 27% duurder.

Die WEF het ook bevind dat 80% van leerders wat hul matriekeindeksamen in hul moedertaal voltooi, oor voldoende hulpmiddels beskik en ook onderrig in klasse van minder as 30 leerders ontvang, ʼn uitstekende kans staan om te slaag. Die getal halveer indien die eksamen in ʼn tweede taal afgelê word al bly die res van die omstandighede dieselfde.

In De Vries se eie ervaring is kreatiewe denke meer beperk in ʼn addisionele taal as in jou moedertaal. “Jou moedertaal ontsluit ʼn magdom kennis van huidige en vorige generasies. Die feit dat ek die geleentheid gehad het om Afrikaans vanaf moederskoot tot hoër onderwys as taal van onderrig en leer te kon benut, het my beslis bevoordeel, en ek kan steeds baie goed Engels lees, skryf en praat.”

Volgens De Vries is Akademia ʼn lewende voorbeeld van ʼn instelling wat sy taalregte opneem en aanwend om die gemeenskap wat hy dien se moedertaal optimaal te benut en uit te bou. “Nie net dien Akademia as voorbeeld vir ander taalgemeenskappe nie, maar skep dit hoop vir ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika om kulturele (waaronder taal tel) tuistes op te rig en steeds in voeling te bly met die groter konteks waarin hy funksioneer,” sluit sy af.

Indien jy gehalte studie in Afrikaans oorweeg, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir 2024 open op 3 April. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

Dr. Annelise de Vries is ʼn passievolle dosent in Afrikaans Huistaal-onderwys by Akademia, asook die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.
Akademia se studente ontvang gehalte onderrig in hul moedertaal en sal ook die kennis waaroor hul beskik kan toepas in ʼn veeltalige omgewing.