Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Ruimte-ekonoom moedig Fonties aan om te reik na die sterre

Gepubliseer op: 20 Julie 2022

André Pienaar, stigter en voorsitter van C5 Capital, het op 19 Julie ʼn gaslesing by Akademia se Centurion-kampus vir Akademia-studente en personeel aangebied. Hierdie geleentheid is deur ongeveer 80 mense bygewoon en die terugvoer was uiters positief. Pienaar is ʼn kenner op die gebied van ruimte-ekonomie en werk aan die spits van kubersekuriteit en kunsmatige intelligensie. Hy is deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, by Akademia verwelkom en bekendgestel.

Pienaar is ʼn voorstander van moedertaalonderrig en het die belangrikheid van moedertaalonderrig in sy lesing aangespreek. “Moedertaalonderrig is nie net ʼn vereiste vir ons verstandelike en professionele ontwikkeling nie. Dit is iets wat essensieel is vir die welstand van die menslike siel en ek geniet dit om vanaand met julle oor sterrekunde te gesels in Afrikaans,” het Pienaar gesê.

Pienaar het tydens die lesing genoem dat hy opgewonde is oor die feit dat Akademia moontlik in die toekoms ruimtekunde sal kan bevorder. Hy het ook vertel dat Akademia se toekomstige studente, oftewel Fonties, groot dinge sal kan bereik met die vordering en bou van ruimtevoertuie en ruimtereise, en dit boonop in hul moedertaal.

Een van sy besprekingspunte was die belangrike rol wat Suid-Afrikaners in verskeie ruimteprojekte gespeel het. Hy het ook hulde gebring aan dr. Japie van Zyl, ʼn oudstudent uit Suid-Afrika, wat by die National Aeronautics and Space Administration (NASA) gewerk het. ʼn Berg op Mars is na hom vernoem. Pienaar het ʼn punt daarvan gemaak dat mense uit Suid-Afrika kritieke rolspelers in die ruimtebedryf is. “Mense van Suid-Afrika speel ʼn groot rol in die ruimtevervaardiging,” het hy vertel.

Pienaar is ook deel van die Limitless Space Institute wat mense oplei om eendag na ander sonnestelsels op reis te gaan. Hy meen dat die ruimtebedryf in die toekoms eksponensieel sal groei en dat dié bedryf tans sowat 400 000 miljard dollar werd is. “Kernkrag speel ʼn groot rol as dit kom by ruimtereise. Die reis na Mars sal oor ʼn paar jaar so een week neem,” het Pienaar gesê.

Hy het Akademia se studente aangemoedig om, indien dit hul passie is, ʼn loopbaan in die ruimte-ekonomie te volg. “Suid-Afrika het alreeds ʼn groot bydrae gelewer in die ruimte-ekonomie en jou selfoon het meer verwerkings en vermoëns as 120 000 Apollo-verwerkings. Enige iets is moontlik.” Hy het gedurende sy gaslesing drie wenke gegee vir persone om hul vermoëns op te skerp. “Lees wyd, wees kreatief en gesels met baie mense en woon baie lesings en kursusse by,” het hy gesê.

Pienaar het verder gepraat oor verskeie moontlike loopbane wat binne die volgende paar jaar geskep gaan word as gevolg van die ontwikkeling van die ruimte-ekonomie. “Daar is iets soos ʼn ruimtesielkundige, en daar gaan ʼn groot aanvraag kom vir verskeie ander beroepe.”

Sy laaste boodskap aan die studente was om aan te hou om na die sterre te reik. “Maak nie saak hoe groot die uitdagings is nie, bly reik na die sterre, niks is ooit te ver nie.”

Indien jy die lesing misgeloop het of graag weer daarna wil kyk, besoek gerus ons YouTube-kanaal hier.

André Pienaar, stigter en voorsitter van C5 Capital, se gaslesing op Akademia se Centurion-kampus het ʼn insiggewende kykie gegee oor ontwikkelings in die ruimte-ekonomie.
Die gaslesing is deur verskeie bekendes bygewoon. Chris Opperman (links), olie- en gasbelegger; prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia; Marthinus Visser, bestuurdende direkeur van Akademia; André Pienaar, prof. Hannes Rautenbach, dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe; Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia; Henk Schalekamp, uitvoerende hoof van Kanton; Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit-Beweging.