Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Fonties is geldslim saam met Solidariteit Finansiële Dienste

Gepubliseer op: 25 Julie 2022

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) het op Donderdagaand 7 Julie ʼn praatjie vir Akademia se Fonties aangebied waar praktiese spaarwenke met die studente gedeel is ter viering van Spaarmaand. Jaco Mostert en Ruan Davel, finansiële adviseurs by SFD, was die aanbieders.

“Die doel van die spaarmaandpraatjie was om studente te leer om van  jongs af geldslim te wees,” meen Abigail Fourie, intern by Akademia se studentesake-afdeling. Hier volg ʼn paar geldslimwenke wat tydens die aanbieding gedeel is.

Mostert se eerste en belangrikste wenk aan jongmense is om nie te wag tot môre om te begin beplan en spaar nie, aangesien daar nooit ʼn beter tyd as nou is nie. Volgens Mostert  moet ʼn jongmens ʼn finansiële doelwit stel. “Jy moet mik om eendag iets te bereik met jou geld,” vertel hy. “Of dit nou ʼn sekere aftreefonds is en of dit spaargeld is vir ʼn vakansie, bly die gewoonte om te spaar ʼn goeie gewoonte.”

Volgens hom is dit ook goed om vooruit te beplan, want dit help mens met ʼn goeie begroting. Mostert meen dat ʼn begroting aan die begin van die maand opgestel moet word. “Stel jou begroting op soos wat jy dink jy jou geld gaan spandeer,” sê hy. “Vergelyk dan die begroting wat jy aan die begin van die maand opgestel het met jou werklike bankstaat aan die einde van die maand.” Volgens hom sal dit jou help om ʼn realistiese begroting op te stel.

Mostert se volgende wenk is om jou begroting maandeliks en kwartaalliks te vergelyk. Sodoende kan jy ʼn “bestedingspatroon” raaksien. “Identifiseer die tipe goed waaraan jy gewoonlik jou geld spandeer,” sê hy. “Wees ook bewus van die klein transaksies wat dalk baie geld uit jou salaris mag trek.”

“Wees op die uitkyk vir potensiële risiko’s. Jy moet risiko’s uitken en identifiseer sodat jy jou finansiële planne goed kan beraam,” vertel Mostert. “Dit help om die risiko’s vooraf raak te sien sodat dit jou nie onkant vang of jou plan belemmer nie.”

Hy vertel ook dat dit sinloos is om ʼn sterk finansiële plan te beraam, maar dit nie uit te voer nie. “Bly by jou plan, en monitor jou plan konstant. Jou omstandighede verander; jou risiko’s verander en jou doelwitte mag ook dalk verander,” sê Mostert verder. Hy noem ook dat indien jy nie jou plan konstant aanpas nie, jy nie die moontlike risiko’s sal kan identifiseer nie en sodoende sal jy nie by jou plan om vir ʼn spesifieke doel te spaar, kan hou nie.

As jy graag ʼn begroting vir jouself wil opstel, kyk gerus hier vir ʼn praktiese templaat. ʼn Praatjie oor spaarwenke word weer op Donderdag 21 Julie vir alle #Fonties  by koshuis@Leriba aangebied. Sien jou daar!