Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Entrepreneursvaardighede en die werksmag van die toekoms

Gepubliseer op: 25 Julie 2022

Geskryf deur dr. Amorié Blignaut, dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia

Ons staan tans in die Vierde Industriële Revolusie (4IR) en dit is van kritieke belang dat entrepreneurs wat in hierdie revolusie wil uitblink, hul entrepreneuriese vaardighede moet opskerp.

Volgens ’n verslag van die Globale Entrepreneurskapmonitor (GEM 2018) is ʼn opgeleide arbeidsmag met die regte vaardighede en die kapasiteit vir innovasie noodsaaklik vir ekonomiese mededingendheid, robuustheid, produktiwiteit en volhoubare groei. Die Wêreld- Ekonomiese Forum (2016) rapporteer dat teen die jaar 2025 meer as ʼn derde van die vaardighede (35%) wat in vandag se arbeidsmag as belangrik beskou word, reeds sou verander het.

Die komplekse take wat entrepreneurs moet verrig, vereis van hulle om verskeie vaardighede  in die ontwikkeling en bestuur van ʼn suksesvolle onderneming aan te wend. Baie navorsing is reeds gedoen oor die vaardighede wat entrepreneurskap verbeter, soos die volgende  (Taljaard-Blignaut, 2021:91):

  • Die uitken van geleenthede
  • Kommunikasie
  • Kreatiwiteit
  • Bou van verhoudings
  • Kritieke denke
  • Probleemoplossing
  • Inisiatief
  • Finansiële vaardighede.

 

ʼn Mens kan egter nooit op hierdie vaardighede alleen staat maak nie, aangesien nuwe vaardighede voortdurend ontwikkel moet word namate omstandighede verander. Entrepreneurs benodig veral vaardighede wat hulle in staat stel om op I4.0-tegnologieë te reageer wat nuwe moontlikhede bied om in hierdie wêreldwye gekoppelde en tegnologie-aangevuurde wêreld te floreer (Kruger & Steyn, 2021).

Sommige werksgeleenthede sal verdwyn; ander sal groei. Loopbane wat nog nie vandag bestaan nie, sal alledaags word. Die toekomstige arbeidsmag sal dus sy vaardighede moet opskerp om tred te hou. Dit geld egter nie net vir die arbeidsmag nie, maar ook vir werkskeppers.

Die werksplek het reeds vinnig verander en beste praktyke begin na vore kom namate ons aanpas by hierdie veranderinge in ons nywerhede en in die wêreld. Die onderstaande Entrepreneurskapbevoegdheidraamwerk illustreer die vraag na spesifieke entrepreneursvaardighede binne die 4IR.

Die goeie nuus is dat die verskillende vaardighede in verband met elk van die vier kategorieë ontwikkel kan word volgens die mees effektiewe leerstyl van elke kategorie.Kognitiewe vaardighede kan byvoorbeeld deur opleiding ontwikkel word as deel van werkplekprestasie, aangesien dit berus op toepaslike werkverwante kennis en vaardighede. Meta-vaardighede kan weer aangeleer word deur leer en refleksie, en ook deur individue bewus te maak van hul kennis oor hul eie intellektuele sterk- en swakpunte.

Die fokus moet dus steeds bly op die belangrikheid van entrepreneurskapopleiding en -ontwikkeling by hoëronderwysinstellings en entrepreneurskapsentrums. Akademia se benadering tot onderrig en leer bevorder ʼn gefokusde en kennisgerigte omgewing wat tot omvattende leer bydra.

Die uitkoms van die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie by hierdie instelling fokus op die insig en vaardighede waaroor ʼn afgestudeerde student behoort te beskik ná suksesvolle voltooiing van die kwalifikasie.

Stel jy belang om jou entrepreneursvernuf met ʼn formele kwalifikasie in Ondernemingsbestuur af te rond? Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting oor Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie, of woon een van Akademia se inligtingsessies by. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop.

Dr. Amorié Blignaut, dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia, deel haar kennis oor entrepreneursvaardighede wat jou in die werksplek gaan help floreer.