Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se hande versterk met dekaan vir Fakulteit Regsgeleerdheid

Gepubliseer op: 26 Julie 2022

Akademia het aangekondig dat professor Hermie Coetzee, gesoute akademikus en toegelate prokureur, as die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aangestel is. Sy is reeds sedert 2020 die departementshoof van Regsgeleerdheid by Akademia en sal nou haar skoene as eerste volwaardige dekaan van dié fakulteit volstaan.

Die instelling het op 12 Mei vanjaar die nuus bekend gemaak dat sy LLB-graad vanaf 2023 op die voltydse kampusmodel aangebied gaan word. Dit volg nadat dié kwalifikasie reeds sedert 2020 suksesvol op die nauurse afstandsmodel aangebied word. Die toevoeging van die voltydse aanbod was een van die belangrike mylpale om Regsgeleerdheid uiteindelik as fakulteit in eie reg te vestig.

“Die LLB-graad het tot so ’n mate gegroei dat ons nou genoop is om die fakulteit selfstandig te vestig,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “Dit is daarom vir Akademia ʼn groot voorreg om prof. Coetzee uit ons eie geledere as dekaan van Regsgeleerdheid te verwelkom.”

Coetzee is al sedert haar studentedae in die akademie betrokke – eers as merker en tutor aan die Departement van Handelsreg by die Universiteit van Pretoria en later as klerk en prokureur aan die Regskliniek by dieselfde universiteit. Sy is in 2009 voltyds in die akademie aangestel en noem dat sy sedertdien bevoorreg was om saam met die room van Suid-Afrikaanse regsdosente en -navorsers te kon werk. “Ek het geleer dat navorsing en dosering mekaar wedersyds voed en dat hierdie fyn kuns die sukses van ʼn akademiese instelling bepaal,” sê sy.

Coetzee, wat nou die leiding neem, hoop om in haar nuwe hoedanigheid as dekaan, saam met die Regsgeleerdheidspan ʼn ruimte te skep waar die hart én denke van voornemende regslui optimaal ontwikkel kan word. Sy sien die Fakulteit Regsgeleerdheid as ʼn baken vir regsopleiding van ’n hoë gehalte en noem dat dit vir haar ʼn voorreg is om hierdie baken as dekaan by die nuutgevonde fakulteit te vestig.

Vanuit haar bewese ervaring by dié instelling, is sy van mening dat Akademia beslis onderskei kan word van die res. Behalwe die voordeel van moedertaalonderrig en die afstandsmodel wat werkende nauurse studente in staat stel om te studeer, tref sy ook ʼn dieper onderskeid. “Akademia se opvoedingsideaal, wat op klassieke waardes geskoei is, is besonders. Dit maak my opgewonde om ʼn instelling te sien groei wat klem op beide uitnemende opleiding, sowel as opvoeding plaas,” vertel sy. “Die instelling se geesdrif en pionierskap laat hom uitstyg bo ander.”

Haar droom vir Akademia is dat die instelling elke tradisionele fakulteit sal huisves en deur opleiding en opvoeding van ’n hoë gehalte ʼn positiewe bydrae tot Suid-Afrika en sy mense sal maak. Sy hoop ook dat elke student wat deur die Fakulteit Regsgeleerdheid gelewer word, as ʼn gesonde, veelsydige, bekwame en oplossingsgedrewe regspraktisyn ʼn opbouende verskil in sy of haar gemeenskap sal maak.

Visser vertel dat hy met verwagting uitsien na hoe die Fakulteit Regsgeleerdheid met ʼn gefokusde leierskapstruktuur verder uitgebou gaan word. “Prof. Coetzee se sin vir uitnemendheid, haar passie vir Akademia en die akademie, en haar roepingsgedrewenheid vir Regsgeleerdheid maak haar die ideale leier vir die fakulteit.”

“Ons wens prof. Coetzee alle voorspoed toe en sien daarna uit om die fakulteit van krag-tot-krag te sien groei om ʼn prominente rolspeler in die handhawing en uitbou van die regsorde in Suid-Afrika te word,” sluit Visser af.

Klik hier vir meer inligting oor Akademia se kwalifikasies in die Fakulteit Regsgeleerdheid. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Prof. Hermie Coetzee is onlangs aangewys as die eerste dekaan in die Fakulteit Regsgeleerdheid en sy is gereed om die fakulteit na selfs hoër hoogtes te voer.

 

Meer oor prof. Hermie Coetzee

Professor Hermie Coetzee is die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid  by Akademia. Sy beskik oor ʼn BCom-graad in die Regte (cum laude), ʼn LLB (cum laude), ʼn LLM deur navorsing (cum laude), asook ʼn LLD. Prof. Coetzee is die skrywer en medeskrywer van talle geakkrediteerde artikels in beide nasionale en internasionale vaktydskrifte. Sy dra ook by as skrywer van handboeke. Hermie spesialiseer in verbruikerskredietreg en verbruikersesinsolvensiereg. Sy het ook ʼn belangstelling in ondernemingsreg. Hermie was by verskeie navorsingsprojekte,  onder meer van die Wêreldbank en die Nasionale Kredietreguleerder betrokke. Sy is sedert 2018 ʼn C1-gegradeerde navorser soos deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF) geakkrediteer. Prof. Coetzee was vanaf 2006 tot Junie 2020 in verskeie hoedanighede aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Vanaf 2020 dien sy op die redaksie van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (THRHR) en is tans ook as buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit verbonde. Hermie is ʼn toegelate prokureur en lid van die Advieskomitee aangaande Projek 127 van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskomissie.