Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia stel Loopbaanlens bekend

Gepubliseer op: 20 Julie 2022

Onsekerheid oor die keuse van studierigting, loopbaanmoontlikhede en beroepskeuses is ʼn realiteit vir talle skoliere, studente en werkendes. Akademia stel daarom die volgende met trots bekend: Loopbaanlens – jou aanlyn eenstopplek vir loopbaanadvies. Met hierdie Loopbaanlens poog Akademia om die onsekerheid deur middel van verskeie hulpbronne uit die weg te ruim.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia, is die doel van Loopbaanlens om ʼn platform te bied waar leerders meer kan uitvind oor vakkeuses, studiemoontlikhede en loopbaankeuses. “Akademia wil skoliere en studente toerus met die nodige inligting en gereedskap om van jongs af die regte vakkeuses, studiekeuses en uiteindelik loopbaankeuses te kan maak sodat hul uiteindelik die werkplek ingelig en afgerond kan betree.” Sy noem verder dat dit deel is van Akademia se opvoedingsideaal om studente ʼn geheelbeeld van loopbane te gee en daarom wil die instelling waarde toevoeg tot voornemende en huidige studente se loopbaankeuses.

Die Loopbaanlens bied die volgende hulpmiddels om jongmense te help om uiteindelik die regte loopbaankeuses te kan maak:

 

Lizán Maree, bestuurder van Studentewerwing by Akademia, noem dat Loopbaanlens op drie fases van ʼn jongmens se loopbaanbesluitnemingsproses fokus, naamlik vakkeuses vir graad 9’s, studiekeuses vir graad 11’s en 12’s, en loopbaankeuses vir studente. “Die keuses is egter geïntegreer – dit is nie moontlik vir ʼn graad 9 om vakke te kies as hulle nie ʼn idee het in watter loopbaan hulle belangstel nie – en daarom word al hierdie inligting op een platform aangebied.” Sy noem verder dat Loopbaanlens ook ʼn goeie platform is vir volwassenes wat van beroep wil verander of selfs vir ouers wat saam met hul kinders navorsing oor beroepe wil doen.

Hendrina Basson, studentewerwer van Akademia, het op ʼn stadium agtergekom dat die geleenthede met die oog op die toekoms so gereeld verander dat vooruitsigte soms misgekyk kan word. “Ons het toe begin dink aan ʼn platform waar persone die geleenthede van die toekoms deur ʼn lens kan bestudeer om dit deel van hul eie toekoms te maak.”

Maree vertel verder dat hulle by die Studentewerwing-afdeling gereeld jongmense sien wat óf geen loopbaanleiding ontvang nie, óf oorweldig voel deur al die keuses daar buite. “Daarom poog Loopbaanlens om jongmense toe te rus met genoegsame en relevante kennis om ingeligte keuses oor hul vakke, studies en loopbaan te kan maak.”

Maree noem dat sy steeds aanbeveel dat jongmense kundiges soos psigometriste en studentewerwers raadpleeg om hul te adviseer, maar dat die platform aan jongmense die geleentheid bied om op hul eie tyd navorsing te kan doen oor aspekte van die loopbane wat hul interesseer.

Indien jy onsekerheid ervaar oor vakkeuses, studiemoontlikhede of beroepskeuses, besoek vandag nog Loopbaanlens hier. Loopbaanlens – jou eenstopplek vir loopbaanadvies!