Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent teksskrywer van nuwe KykNet-storiefilm, Kloon

Gepubliseer op: 18 Julie 2022

Johann Smith, ʼn voltydse dosent in Statistiek en Sakeberekeninge by Akademia, het nie net ʼn passie vir onderrig nie; hy is ʼn man met vele talente. Sy tweede KykNET-storiefilm, Kloon, is pas bekendgestel en hy is ook ʼn medeskrywer vir die sepie 7de Laan.

Smith, met ʼn passie vir die kunste, het al in die verlede vir Binnelanders geskryf en ook gehelp om ʼn tydskrif in die mynbedryf op die been te bring. Sy werke sluit verder ook ʼn aantal niefiksieboeke vir maatskappye in. Sy derde KykNET-storiefilm, wat omskep is uit een van sy radiodramas, sal ook eersdaags op die kassie te sien wees.

Smith het al verskeie mediums en genres van skryfwerk beproef, onder meer kabaret, fantasieverhale, wetenskapfiksie en selfs lirieke. Hy hoop ook om eendag ʼn musiekblyspel te kan skryf.

Die idee vir Kloon het ontstaan deurdat Smith die tema wou aanspreek dat ons in ʼn tyd leef waar ons maklike antwoorde, gewoonlik deur middel van tegnologie, vir moeilike probleme soek. “Die storiefilm gaan dus oor ʼn groep jong, geniale vriende wat, in ʼn sekere sin, die idealistiese samelewing voorstel. Hulle besluit om ʼn mens te kloon en dié mens met hul eie stel waardes ’groot te maak’ ”.

Smith se ma is ʼn Afrikaans- en drama-onderwyseres, en sy eerste leermeester. Sy pa, aan die ander kant, is ʼn geduldige gehoorlid en sy grootste aanhanger. “Daar is van kleins af ʼn liefde vir skryf en lees by ons as kinders gekweek en die biblioteekbesoeke was ʼn hoogtepunt.”

Hy het sy eerste ongepubliseerde boek op ses geskryf met ongeveer twintig woorde en sewe prentjies, en dit was maar net die begin. Hy het op nege jaar al begin liedjies skryf op Carike Keuzenkamp se wysies en hy, sy broer en suster het gereeld konserte gehou.

As volwassene het hy kerkproduksies op die planke gebring wat ʼn groot rol in sy ontwikkeling as skrywer gespeel het en van daar af het hy by die ATKV Tienertoneel-kompetisie betrokke geraak. “Dit is ʼn groot voorreg om te sien hoe jong akteurs ontwikkel en groei.”

Smith noem dat skryf harde werk is en baie tyd in beslag neem, veral omdat hy ook voltyds as dosent werk. “Ek moet spesifieke tye allokeer vir skryfwerk, wat saans en oor naweke plaasvind. Soms moet ek 04:00 in die oggend wegspring. Maar, dit is die moeite werd, want om te sien hoe ʼn hele span mense soveel tyd, energie en geld spandeer aan iets wat jy in die nag geskep het, is ʼn voorreg.”

Hy meen dat dit vir hom ʼn groot voorreg is om skryfwerk en doseerwerk te kan kombineer. “Ek is tans besig met ʼn projek waar ons woordsomme omskakel in kort storievideo’s, wat baie opwindend is.” Smith het ook die heel eerste studentetoneelstuk geskryf, wat deur Akademia se studentedramagroep opgevoer gaan word. Hierdie toneelstuk word dan ook deur Smith en Rika Nieuwoudt, dosent by Akademia en ook ʼn bekende gesig op Binnelanders, afgerig. Dit beloof om iets te wees waarna die publiek kan uitsien.

“Alles wat ek skryf is ʼn direkte produk van die mense wat in my belê het – my ouers, my taalonderwysers en toneelonderwysers op skool, my mentors ná skool, mense wat moeite gedoen het om my werk te lees, en ander skrywers.”

Sy groot droom wat sy skryfwerk betref, is om deur film en teater stories te vertel wat ʼn verskil maak. “As iets wat ek skryf iemand ráák, dan het ek my doel bereik. As ek iemand net ʼn bietjie anders kan laat dink, dan was al die vroegoggende en laat nagte die moeite werd,” sluit hy af.

Johann Smith is ʼn Akademia-dosent met ʼn groot liefde vir skryf en inhoudskepping.