Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nauurse Fontie leef droom uit as Protea-krieketspeler

Gepubliseer op: 15 Julie 2022

Anneke Bosch studeer tans aan die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), oftewel NGOS soos dit beter bekend is, by Akademia op die nauurse onderrigleermodel. Sy leef ook haar passie as speler vir die Protea-vrouekrieketspan uit en neem tans aan ʼn kriekettoernooi in Engeland deel.

Bosch het van jongs af aan verskeie sportsoorte deelgeneem, maar haar liefde vir krieket het in die laerskool ontwikkel nadat sy en ʼn vriendin saam met die seunspan in graad twee begin krieket oefen het. Op hoërskool het sy na die meisiespan geskuif en ook vir die o.19- Grensspan en later die o.19- SA span begin speel.

Op universiteit het sy vir die Vrystaat-vrouespan en die NWU-span krieket gespeel terwyl sy haar honneurs in beide Biokinetika en Sportwetenskap voltooi het. Sy het in 2016 by die Protea-vrouespan aangesluit maar het ná haar eerste toer teruggekeer na haar werk as biokinetikus. Sy het toe eers weer in 2019 by die Protea-span aangesluit. “Om deel van die Protea-span te wees, is beslis ʼn droom wat waar geword het. Dit is ʼn voorreg om op internasionale vlak te speel en my land te verteenwoordig,” sê Bosch.

Bosch se familie is haar grootste ondersteuners en hulle deel ook ʼn liefde vir sport. Haar ouers is ook beide onderwysers en hulle het haar geïnspireer om die NGOS-kwalifikasie aan te pak om sodoende Wiskunde as skoolvak te kan aanbied. “Ek hou van die feit dat onderwysers so ʼn groot impak op kinders se lewens kan hê. Met my NGO

S-kwalifikasie kan ek al my passies uitleef – om met skoolkinders te werk, my liefde vir Wiskunde en om sport af te rig,” vertel Bosch.

Haar instellingkeuse vir NGOS het op Akademia geval aangesien sy aanlyn via die e-leeropsie kan studeer wat haar krieketloopbaan ondersteun en vergemaklik. Met die e-leeropsie is daar steeds ondersteuning deur middel van kontaksessies, maar die sessies kan vanaf enige plek ter wêreld bygewoon word. “Ek het baie goeie dinge van Akademia gehoor en noudat ek self ervaar hoe goed Akademia vir sy studente is, sal ek die instelling beslis aanbeveel.”

Haar raad aan iemand wat ʼn liefde vir sport het maar ook wil studeer, is om gemotiveerd en doelgerig te wees. Sy vertel ook dat dit glad nie ʼn geval hoef te wees om te moet kies tussen sport en studies nie. “Beplanning, goeie tydsbestuur en selfdissipline is belangrik om beide te kan doen. Dit is beslis moontlik, veral in vandag se tyd waar mens maklik aanlyn kan studeer, soos by Akademia.”

Bosch vertel verder dat om studies en sport te balanseer eintlik vir haar ʼn uitdaging is wat sy geniet om aan te pak. “Krieket gee vir my ʼn breek van studies en studies gee vir my ʼn breek van krieket. Dit is lekker om twee fokuspunte in my lewe te hê.”

Sy hoop om vir so lank as moontlik professioneel krieket te speel en om ʼn goeie impak op die Protea-span te maak. Sy droom ook daarvan om eendag saam met haar span aan die krieketwêreldbeker deel te neem. “Wanneer ek eendag ophou krieket speel, wil ek weet dat ek die beste weergawe van myself bereik het en dat ek my alles daarvoor gegee het,” sluit sy af.

Akademia is trots op hierdie Fontie van ons en ons hoop om haar nog vir baie jare op die krieketveld te sien woeker.

Anneke Bosch is ʼn NGOS-student en ʼn passievolle speler vir die Protea-vrouekrieketspan.