Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die taal van skaak

Gepubliseer op: 14 Julie 2022

Geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia

Daar is iets bevredigends daaraan om vir iemand “skaakmat” te sê – dit is die beloning vir die inspanning van jou strategiese denke. Vandag (20 Julie) vier ons Wêreldskaakdag en al is jy nie noodwendig die wêreld se volgende Garri Kasparof nie, mag jy vandag dalk ʼn paar interessante taalskuiwe leer maak.

Ek sal maar die eerste skuif maak en begin met die skaakterme wat in ons alledaagse taal voorkom, selfs al weet ons nie aldag wat die verskil tussen die pion en die loper (biskop) is nie. Gepraat van pionne. Ons verwys dikwels na mense wat deur ander gemanipuleer word om hulle (dikwels bedenklike) doelwitte te bereik as pionne. In die skaakspel is die pion ook die stuk wat die minste waarde het en die maklikste opgeoffer word.

Ons moet dan die regte skuif maak en hierdie mense, wat ander soos pionne behandel, in hulle voetspore stuit. Dan gebruik ons die uitdrukking: “Dit is tyd dat iemand hulle skaak sit.” As daar dan geen ander uitweg oor is nie, is dit skaakmat. Hierdie skaak om van die Persiese shāh wat koning beteken en mat in Arabies beteken “hy is dood”. Skaakmat is dus: “die koning is dood”.

Skaak as spel is al eeue oud en dit is daarom nie vreemd dat die skaakstukke verskillende name en betekenisse oor die jare gekry het nie. Kom ons begin met die pionne. Die woord kom van die Oudfrans pehon wat uit Middeleeuse Latyn pedō kom en voetsoldaat beteken. So terloops, die Engelse pawn kom ook uit Oudfrans, maar in ander tale staan hierdie skaakstuk as plattelander (peasant) of seun bekend. Hulle is die voorste linie.

Die skaakstuk wat in laaste ry op die hoeke staan, staan as die toring bekend (in Engels is dit rook wat van die Persiese rukh kom en strydwa beteken). Hierdie skaakstuk staan in ander tale ook as ʼn kasteel, olifant, skip, boot of kanon bekend. Langs die toring staan die ruiter, dit is nou die skaakstuk wat soos ʼn perd lyk, in Engels is dit knight en in ander tale staan dit ook as ʼn springer en selfs as ʼn donkie bekend.

Die twee stukke weerskante van die koning en die dame (koningin) is die lopers, in ander tale is dit (en nou moet jy kophou) ook ʼn biskop, gek, jagter, skieter, kameel of olifant. Die dame wat langs die belangrikste stuk op die bord staan, is nie in al die tale vroulik of koningin nie, maar staan ook as die minister, premier, raadgewer of selfs vlag bekend.

Skaakmat!

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.

Bronne:

https://www.pharosaanlyn.co.za/tuis

https://viva-afrikaans.org

https://en.wikipedia.org