Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Wat is die verskil tussen rekenaarwetenskappe en inligtingstegnologie?

Gepubliseer op: 13 Julie 2022

Geskryf deur Jaco Viljoen, stelselontwikkelaar by Akademia.

Akademia het onlangs die nuus bekendgestel dat ʼn voltydse BSc-kwalifikasie in Rekenaarwetenskappe op die Centurion-kampus vanaf 2023 aanbied gaan word. Dit bring gereeld die vraag oor wat die verskil tussen rekenaarwetenskappe (RKW) en inligtingstegnologie (IT) is. Hierdie twee vakgebiede verskil, terwyl dit ook verskeie ooreenkomste het.

RKW verwys in die breë sin na die wetenskap wat betrokke is met die bou en ontwerp van rekenaars. Persone gebruik RKW om programme te skryf, webbladsye te ontwerp en inligting in te samel van gebruikers (byvoorbeeld watter toestel word gebruik om ʼn webblad deur te blaai). Hierdie stelsels en rekenaars wat ontwikkel word, gebruik ook netwerke, databasisse en ander tegnologieë om as ʼn geheel saam te werk en waarde toe te voeg tot die gebruik daarvan.

IT verskil in die sin dat dit verwys na die wyse hoe rekenaars ondersoek en onderhou word. IT word gebruik om vandag se rekenaars en stelsels optimaal te laat funksioneer en te beveilig. IT is gemoeid met die opstel en onderhouding van netwerke, databasisse, stelsels, ens. Alhoewel dit baie dieselfde as RKW klink, word hierdie tegnologie geskep en ontwikkel met behulp van RKW, terwyl IT die funksionering en gebruik daarvan hanteer.

Een van die maniere hoe ek gereeld die verskil tussen RKW en IT verduidelik is dat ek as rekenaarwetenskaplike die basiese werking van ʼn netwerk verstaan en kan uitbou terwyl IT die netwerk opstel en onderhou. Die stelsels wat ontwikkel word, gebruik netwerke maar die opstelling daarvan val onder IT. RKW maak gebruik van wiskunde, algebra en kalkulus waar IT meer sal fokus op foutoplossingsmetodes. Programmeringstale word deur RKW gebruik om sagteware en stelsels te ontwikkel, terwyl IT dit gebruik om ʼn enkele taak te verrig (dit is gewoonlik ʼn hoëvlaktaal wat gebruik word om take te vergemaklik).

Wat is nou die verskil tussen ʼn graad in RKW teenoor ʼn graad in IT? ʼn Graad in RKW bied jou die basiese wiskundige en rekenaarwetenskaplike konsepte wat jou in staat stel om rekenaars en sagteware te ontwikkel. Hierdie grade sluit gewoonlik programmeringstale, datastrukture, kunsmatige intelligensie, masjienleer, ens. in waardeur rekenaars en stelsels verstaan word. ʼn Graad in IT aan die ander kant bied jou die basiese beginsels van netwerke, sekuriteit, stelsels, etiek, ens. Akademia se BSc-kwalifikasie in Rekenaarwetenskappe bied jou die geleentheid om rekenaars en stelsels te ontwerp en te ontwikkel deur algoritmiese en wiskundige tegnieke. Hierdie kwalifikasie bied ook opleiding in kunsmatige intelligensie, outomaatteorie, grootdata, asook rekenaargrafika. Boonop bied dit jou die geleentheid om jouself as rekenaarwetenskaplike te bekwaam en jouself deel te maak van die opbou van die toekoms deur middel van rekenaarwetenskappe.

Jaco Viljoen is ʼn stelselontwikkelaar by Akademia en ʼn boffin wanneer dit by die rekenaarwetenskappe kom.