Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia stel met trots heel eerste sêrgroep bekend

Gepubliseer op: 13 Julie 2022

Akademia kondig met groot opwinding sy heel eerste sêrgroep aan wat uit vyftien dames bestaan. Daar word beoog om in die volgende paar maande ook ʼn mansêrgroep op die been te bring.

Volgens MJ Nel, die nuutgestigte sêrgroep se afrigter, is die doel van hierdie groepe by Akademia om die instelling die voorloper te maak in Suid-Afrikaanse universiteitesêr. “Ons wil vir die Fonties ʼn ongelooflike nuwe platform bied waarop hulle hul musikale talente kan uitleef en ontwikkel.”

Nel is al sedert 2017 betrokke by verskeie musikale projekte en optredes en hy het ook in die drie jaar wat hy by die NWU sêr afgerig het oor die 50 verwerkings geskryf. Hy het vele groepe gehelp om hul volle potensiaal op die verhoog te ontwikkel en hoop om dieselfde vir Akademia se studente te doen. “Sêr het selfvertroue en musikale vermoëns by my gekweek wat ek vir die res van my lewe sal kan gebruik. Ek hoop dat die Fonties dieselfde kan ervaar.”

Die oudisies vir die damesgroep het op 5 Julie plaasgevind waar die studente elkeen ʼn 30-sekondegreep van ʼn liedjie moes voorberei. Die beoordelaars was Nel en Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia. Hul gehoor en stemomvang is ook saam met ʼn klavier getoets. “Hierdie oudisies het my wildste verwagtinge oortref. Die studente het wonderlike stemme en tonne potensiaal,” vertel Nel.

Wat die meeste vir hom uitgestaan het van die dames is hul bereidwilligheid om te probeer en om deel te word van ʼn sêrgemeenskap. “Hulle het ʼn baie positiewe gesindheid rakende hierdie aktiwiteit gehad, wat besonders is aangesien hulle nog nie voorheen aan sêr blootgestel is nie. Ek sien uit om saam met die groep te werk,” vertel Nel.

“Die oomblik wanneer studente die geleentheid kry om iets wat hulle geniet met ander studente te deel wat soortgelyke belangstellings het, bou dit ʼn ongelooflike band,” sê d’Assonville. Die studente word die geleentheid gegun om hulle talente vir die groter studenteomgewing te wys. Boonop lei dit daartoe dat hulle so baie tyd met mekaar spandeer dat hulle mekaar goed leer ken en ʼn studentegemeenskap vorm.

Die volgende Fontie-dames is gekies vir die splinternuwe sêrgroep: Louisa Visser, Ziancí van Zyl, Christelle Oerlemans, Chloë Morrow, Ané van Rooyen, Danet van Wijk, Jame Lukas, Larissa van Zyl, Nicole du Plooy, Kayla du Plooy, Shane Broderick, Kara Durie, Marisha Hermann, en Deidré Fischer.

Akademia kan nie wag om hierdie Fonties te sien groei in die sêr-arena nie. Mag elkeen van julle geluk en verbondenheid in die musiek en mekaar vind.