Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Fonties se harte klop warm tydens Omgeeweek

Gepubliseer op: 21 Julie 2023

Terwyl die kwik die afgelope twee weke plek-plek tot in die minus-temperature gedaal het, het Akademia se studente se harte warm geklop vir plaaslike kwesbare gemeenskappe tydens die instelling se tweede Omgeeweek. Fonties op die Centurion-kampus het met oorgawe aan dié verdienstelike inisiatief deelgeneem wat van 3 tot 7 Julie plaasgevind het. Behalwe vir skenkings van nie-bederfbare voedselprodukte en huishoudelike items, is méér as 312 kg se voorheen geliefde klerasie ook ingesamel.

Volgens Robyn Visagie, die studenteraadslid (SR) gemoeid met gemeenskapsaangeleenthede, is die doel van Omgeweek om deur welwillendheid terug te ploeg in die gemeenskap. Hierdeur word studente nie net bewus gemaak van die uitdagings en behoeftes in hul onderskeie gemeenskappe nie, maar ervaar hulle ook eerstehands die waarde van gemeenskapsbetrokkenheid. “Dit is vir ons belangrik dat Fonties verder sien as net die hier en nou. Daar is ʼn groter prentjie waarin elkeen van ons ʼn rol het om te speel,” sê Visagie.

Visagie verduidelik dat dit vir die SR belangrik is om ʼn kultuur van aktiewe pionierskap onder die studentegemeenskap te kweek. Die konsep van omgee staan sentraal tot dié kultuur, en die boodskap wat inisiatiewe soos dié uitdra, is dat omgee ʼn deugde is wat elke dag behoort te seëvier. “Deur inisiatiewe soos hierdie erken ons as studente dat ons verantwoordelikheid nie net tot akademiese uitnemendheid beperk is nie, maar ook tot die bevordering van ons gemeenskap,” sê sy. Visagie voeg by dat studente ook professioneel daarby baat om aan liefdadigheidswerk deel te neem. Laasgenoemde dra nie net by tot goeie burgerskap nie, maar ook tot beter probleemoplossingsvaardighede en ʼn verbeterde vermoë om in ʼn spanstruktuur saam te werk.

Instansies wat by die week baat gevind het, sluit in: Solidariteit Helpende Hand, die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBS), die Rooikruis, die Gehoor Instituut en Wollies Diereskuiling.

Ten einde gesonde kompetisie aan te wakker, het die drie koshuise – Huis Hennops, Huis Strelitzia en Huis Valorem – mekaar die stryd aangesê om te sien wie die meeste items kon insamel. Huis Valorem het aan die einde van die week as die algehele wenner uit die stryd getree.

Douard d’Assonville, die bestuurder van studentelewe en koshuise by Akademia, meen dit was ʼn “ongelooflike ervaring” om die studente se meelewing tydens Omgeeweek te aanskou. Hy vertel dat dié inisiatief in 2022 begin is met die doel om ʼn omgeekultuur te kweek en studente aan te moedig om tot die welstand van hul gemeenskappe by te dra. “Vanjaar se deelname het alle verwagtinge oortref, en daar is ʼn verstommende hoeveelheid klere en huishoudelike items ingesamel,” sê d’Assonville. Hy spreek sy dank uit teenoor Solidariteit Helpende Hand wat deur middel van sy gevestigde strukture sal help toesien dat die skenkings in die gemeenskap versprei sal word.

“Akademia se primêre taak is die van opvoeding, en wanneer ons studente na die gemeenskap uitreik, soos hulle tydens Omgeeweek gedoen het, dan kan ons verseker wees dat daar gehoor aan dié taak gegee word,” sê d’Assonville. Die SR bedank graag elke student en personeellid vir hul bydraes, en spreek die hoop uit dat dié inisiatief elke jaar net meer suksesvol sal wees.

Fonties se harte klop warm vir die gemeenskap. Omgeeweek 2023 was ʼn reusesukses danksy die betrokkenheid van studente en personeellede.