Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Skaak: meer as net ʼn bordspeletjie

Gepubliseer op: 20 Julie 2023

Geskryf deur Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die Skolemark by Akademia.

Ter viering van Wêreldskaakdag op 20 Julie word daar gekyk na die besonderse spel van skaak. Skaak is meer as net ʼn bordspeletjie, dis ʼn aktiwiteit wat kinders kan help om ʼn verskeidenheid vaardighede te ontwikkel wat op akademiese sowel as persoonlike vlak tot voordeel kan wees.

Die voordele van skaak in die kognitiewe ontwikkeling van kinders word al vir dekades lank ondersoek. Volgens skaakafrigter Louis Holtzhausen se navorsing bevorder skaak ʼn kind se vermoë om langer te konsentreer en aktiveer dit die kognitiewe proses van die geheue deur die enkodering, berging en herwinning van inligting deur die spel op die bord te analiseer.

Wanneer ʼn kind skaak speel, selfs as ʼn beginnerspeler, word verskillende areas van die brein gelyktydig gestimuleer. Skaak vereis dat logiese denke aangewend word om die spel te speel. Daar is egter baie meer agter logikavorming as wat mens werklik besef en dit is juis daarom dat skaak so voordelig vir ʼn kind se ontwikkeling is. Wanneer ʼn kind skaak speel en logika gevorm word, ontstaan daar verskeie kognitiewe prosesse soos redenering, probleemoplossing en kritiese denke wat staatmaak op die integrasie van inligting uit verskillende breinareas.

Behalwe vir die kognitiewe voordele van skaak, is daar ook die sosiale voordele wat skaak inhou ten opsigte van die onwikkeling van kinders. Volgens ʼn artikel op Moedersvandag moet kinders aangemoedig word om skaak te speel omdat hulle op ʼn speelse wyse verskeie waardes ontvang. Skaak kweek goeie sportmanskap by kinders in die sin dat ʼn kind daaruit kan leer hoe om teleurstelling en oorwinnings te verwerk. Skaak leer ʼn kind om die gevolge van besluite en hul optrede te oordink voordat hy/sy oorgaan tot aksie, en dit stel ʼn kind bloot aan verskeie sterk emosies en gee hul die geleentheid om te leer hoe om hierdie emosies te hanteer. Skaak bevorder sosialisering met ander aangesien dit nie nodig is vir spelers om dieselfde ouderdom te wees nie of formele opleiding te ondergaan om voor die 64 skaakstukke te sit nie.

Afrikaans.com het die volgende interessanthede oor die spel gedeel:

  • Skaak is ʼn verpligte skoolvak in meer as 30 lande.
  • Daar is meer boeke geskryf oor skaak as oor enige ander spel of sport.
  • Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is topskaakspelers ingespan om geheime kodes te ontleed.
  • Meer as 600 miljoen mense wêreldwyd speel skaak op ʼn gereelde basis.
  • Ná slegs drie skuiwe deur elke speler is daar 9 miljoen moontlike posisies op die skaakbord.
  • Daar is meer moontlike posisies in ʼn skaakspel as die getal atome in die heelal.
  • Die woord “skaakmat” is afgelei van die Persiese woorde “Shah Mat” wat beteken “die koning is dood”.
  • Skaak was die enigste spel waarin Albert Einstein belanggestel het.

Neem vandag jou kinders en speel saam ʼn potjie skaak. Die voordele (vir jou en vir hulle) is eindeloos en wie weet, dalk is een van julle ʼn toekomstige wêreldkampioen!

Juanmarie Pretorius is die projekkoördineerder vir die Skolemark by Akademia.