Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

ʼn Vrou as dienende leier

Gepubliseer op: 20 Julie 2023

Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia.

Ter viering van Vrouemaand in Augustus wil ek graag dieper delf oor wat dit beteken om ʼn vrou in leierskap te wees. Daar word algemeen aanvaar dat leierskap te make het met die invloed wat ʼn persoon op ʼn groep of individue het om hulle te motiveer en inspireer om ʼn gesamentlike doelwit te bereik. In bestuurswetenskappe word daar ʼn onderskeid gemaak tussen amptelike en nie-amptelike leierskapsrolle. ʼn Leier in ʼn bestuursposisie tree op in ʼn amptelike leierskapsrol. ʼn Leier sonder ʼn amptelike titel het gewoonlik ʼn wye sfeer van invloed op grond van persoonlike leierseienskappe of moontlik op grond van bepaalde kundigheid.

Ek verstaan die rol van ʼn vrou in leierskap as ʼn vrou wat amptelik in ʼn bepaalde leiersposisie in ʼn onderneming of in die samelewing aangestel is. My ervaring is dat vroue in leiersposisies in die moderne besigheid nie minder as hulle manlike eweknieë geag word nie. Hierdie vroue kry wonderlike geleenthede om as leiers in hulle ondernemings of samelewing voor te loop en ʼn verskil te maak.

Navorsing deur Fridell et al. in die Leadership & Organization Development-joernaal toon dat vroue in leiersposisies meer geneig is om dienaarleiers (servant-leaders) te wees. Laasgenoemde staan teenoor die meer tradisionele outoritêre leierskapstyl waar besluite van bo af deurgegee word. ʼn Dienaarleier stel ʼn warm, omgee-omgewing voorop. Larry C. Spears (president en hoof- uitvoerende beampte van die Greenleaf Center for Servant Leadership) se navorsing toon dat om ander te dien en selfbelang op die agtergrond te skuif die motivering vir hierdie soort leierskapstyl is. Die beste voorbeeld van dienaarleierskap is Jesus as voetewasser (Johannes 13) wat as Seun van God wat aarde toe gekom het om te dien (Markus 10:45).

Tipiese waardes van ʼn dienaarleier is empatie, om te kan luister, toewyding tot die ontwikkeling van mense om jou, gemeenskapsbou en rentmeesterskap. Dalk is dit juis die uiteenlopende rolle van ʼn vrou wat kan wissel van ma, vriendin, bestuurder en huweliksmaat wat veroorsaak dat vroue makliker in ʼn dienende leierskapsrol inval. Ons almal weet dat waardes morele redenasies en oordeel beïnvloed. Indien hierdie waardes van ʼn vrou in ʼn leiersposisie ooreenstem met dienende waardes, behoort dit ʼn gelukkiger werksomgewing en werknemers te verseker.

Ek glo ook dat ʼn leier oor die vermoë moet beskik om die groter prentjie te sien. Dit is belangrik dat jy as leier nie net vaskyk in die realiteite van die werksomgewing en leefomgewing om jou nie. Jy moet kan vorentoe kyk en die eindbestemming visualiseer. ʼn Leier met ʼn visie sien die pragtige groot groen boom met wye takke waaronder ander skuiling kan vind. ʼn Skuiling wat onstaan wanneer hulle die saadjie vir die boom plant en met liefde versorg. ʼn Leier moet ook die wortels wat die waardes van die onderneming is, in ag neem. Sy moet seker maak dat die groot boom eendag deur ʼn sterk wortelstelsel ondersteun word. ʼn Sterk leier moet haar span kan lei tot by die eindbestemming. Sy moet genoeg omgee vir dié wat saam met haar op reis is sodat sy hulle kan versorg en in staat stel om saam te groei. Vroue word soms as meer emosionele leiers ervaar en dit is juis hierdie sosio-emosionele aspekte wat hulle meer ingestel op ander se behoeftes maak. Dit kan uiteindelik tot sterker verbondenheid en gelukkiger werknemers in ʼn onderneming lei volgens dr. Michael D. Amos, sielkundige, skrywer, motiveringspreker en entrepreneur, se navorsing.

Vroueleiers is nie uniek wat uitdagings binne die werksomgewing en leefomgewing betref nie. Ons leef in ʼn toenemend ingewikkelde wêreld. Konkrete dinge soos ekonomiese druk, bekommernis oor die toekoms, maar ook abstrakte dinge soos ons Christelike waardes en hoe ons dit kan uitleef dra hiertoe by. Hierdie wêreld mag soms verwarrend wees. As leier moet jou kompas op die Ware Noord gerig wees. Jy moet seker wees oor jou eie waardes, oor die waardes van jou onderneming en dat jy nie op jou eie sukses kan behaal nie. In Corrie ten Boom se boek, The Hiding Place, skryf sy oor haar ervaringe in die Ravensbrück-konsentrasiekamp gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Sy kom tot die gevolgtrekking dat geen plek op aarde veilig is nie en dat jy slegs veilig is in die kern van God se wil. Ons moet as vroueleiers ons drome, denke en dade aanpas sodat dit van hoop spreek en nie van wanhoop nie.

Vir my staan ʼn leier uit wat nie saam met almal om haar moedeloos word nie, maar na nuwe oplossings soek en die oog op die eindbestemming hou. ʼn Leier wat nuwe perspektief op ou probleme en moeilike omstandighede kan gee, maak ʼn verskil. ʼn Leier is die een wat getrou is in die klein dingetjies wat oor haar pad kom en nie altyd die groot, sigbare dinge nie. Ons is geneig om na die podiumplekke te kyk in ons samelewing. Ware leierskap lê in die getrouheid waarmee jy alle take verrig en die baie klein treetjies wat jy oor ʼn lang tyd gee om die marathon te voltooi.

My raad aan vroue wat hoop om leiersposisies by hul werk te beklee is om reeds ʼn leier te wees sonder dat jy noodwendig die amptelike posisie beklee. Moenie bang wees om nuwe voorstelle te maak of nuwe dinge te probeer doen in jou huidige posisie nie. Dien ander met jou gawes en talente waar en wanneer jy kan. Wees getrou in jou werk, in die klein dingetjies sowel as die groot dinge. Dit is soms moeilik om so baie verantwoordelikhede te balanseer, maar onthou dat God vir jou vir elke dag net vandag se manna gee. Moenie môre se manna vandag probeer optel nie, want dan steel jy dalk by jou gesin of familie en die pas kan dan te vinnig raak.

Dr. Rachel Maritz is die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia met ʼn passie vir vroueleierskap.