Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student verkies tot top 24 van Die Kontrak 3

Gepubliseer op: 25 Julie 2023

Ariana Venus Behr-Greeff is ʼn eerstejaar BSc (Rekenaarwetenskappe)-student wat onlangs aangewys is as deel van die top 24-deelnemers van Die Kontrak. Sy het in 2022 ook aan Die Kontrak deelgeneem en tot een met die top 16 gevorder.

Behr-Greeff het besluit om haar drome nog ʼn kans te gee en het daarom vanjaar weer ingeskryf vir die sangkompetisie. “Om ʼn sangloopbaan te hê is my droom en ek gaan nie bloot opgee net omdat ek nie die eerste keer sukses behaal het nie. Ek gaan my droom najaag tot ek dit bereik.”

Die negentienjarige Behr-Greeff het verlede jaar aan Hoërskool Zwartkop gematrikuleer en het vanjaar op Akademia se voltydse kampusmodel in Centurion begin klasdraf. Sy beskryf haarself as ʼn rustige, tog spontane mens met ʼn voorliefde vir perde en plaaslewe.

Sy noem dat sy al van jongs af Power of Love in die stort gesing het sodat die bure dit drie blokke ver kon hoor. Sy sing al vandat sy sewe jaar oud is nadat sy haarself in die laerskool vir die Musieksterre-kompetisie ingeskryf het. “Op daardie stadium het ek nog nooit voor mense gesing nie en my ma het my geneem vir sanglesse waar ek selfvertroue opgebou het,” noem sy. “Ek het toe ʼn algehele tweede plek behaal en van daar af het my liefde vir sang eksponensieel toegeneem. Vandag is sing onlosmaaklik deel van wie ek is.”

Toe sy hoor dat sy in vanjaar se top 24 is was sy oorweldig en geweldig emosioneel, maar meeste van als was sy dankbaar vir ʼn tweede kans om haar droom te bewaarheid. Sy sien Die Kontrak as ʼn goeie trapklip tot ʼn suksesvolle loopbaan. “Die Kontrak leer mens ongelooflik baie van die industrie wat jy nooit andersins sou weet nie. Mens leer ook hoe om jouself op die verhoog uit te druk en hoe om positiewe kritiek te hanteer,” noem Behr-Greeff. “Wanneer mens aan die kompetisie deelneem leer jy baie nuwe vaardighede aan en maak jy baie nuwe vriende. Jy ontwikkel in die proses baie as kunstenaar maar ook as mens.”

Behr-Greeff het besluit om steeds te studeer terwyl sy ʼn sangloopbaan opbou aangesien die kunstenaarbedryf soms onvoorspelbaar kan wees, soos byvoorbeeld tydens Covid-19. Ná ʼn aanbieding oor Akademia in haar matriekjaar het sy besluit om haar studiereis by die instelling af te skop. “Toe ek hoor van Akademia se tradisies, studentelewe en ʼn kampus in Afrikaans het ek geweet dit is waar ek gaan studeer. Ek het aanvanklik vir BSc (Wiskundige Wetenskappe) aansoek gedoen, maar het in my tweede semester oorgeskuif na BSc (Rekenaarwetenskappe) nadat ek ʼn liefde vir programmering ontdek het.”

Die balans tussen haar studies en haar sangloopbaan is vir Behr-Greeff van kardinale belang. Sy draf bedags in die week klas en skeduleer haar vertonings oor naweke wanneer dit nie in eksamentyd val nie. “Ek probeer vooruit beplan sodat my verpligtinge nie bots nie. Mens moet egter steeds prioritiseer indien daar iets voorval.”

Behr-Greeff het ook ʼn aktiewe en suksesvolle TikTok-rekening waar sy gereeld video’s plaas van haar wat sing. Sy noem dat sy soms liedjie versoeke op ʼn regstreekse uitsending doen, maar weens haar studies en ʼn onlangse moeilike tyd waardeer sy is het sy ʼn blaaskans van sosiale media geneem. “TikTok help my om my persoonlike handelsmerk te bou waar ek myself kan wees en as sukses aan my deur kom klop is my sosiale media reeds in plek.”

Behr-Greeff se wens is om ʼn voorbeeld vir ander jong meisies te kan stel en vir hulle te wys dat wonderlike dinge gebeur wanneer mens ʼn kans aangryp. “Daar is groot uitdagings vir jongmens vandag en my musiek het my gehelp om hierdie uitdagings te oorkom. Ek hoop dat ek my musiek kan gebruik om ander te help om hul eie struikelblokke uit die weg te ruim.

Haar raad aan jongmense wat soos sy ʼn suksesvolle sangloopbaan najaag is om jou talente wat deur God uitgedeel is te gebruik. “Almal het hul eie talente waarmee hulle geskape is. Mens moet jouself nooit vergelyk met ander kunstenaars nie en nie bang wees om jou eie stempel op jou musiek te druk nie,” verduidelik sy. “My motto kom uit Jo Black se een liedjie wat sê dat vandag die more is waarvoor jy gewag het. Mens moet nou al hard werk en nie wag vir more nie, dis al hoe jy die vrugte van sukses gaan pluk.”

In die jaar wat voorlê sien sy uit daarna om haar voete te vind as student en natuurlik om die televisie-opnames van Die Kontrak te kyk. “Bowenal sien ek uit om my vordering en groei te sien in hierdie jaar as student, sanger en mens.”

Behr-Greeff wil graag na haar studies ʼn sagteware-ingenieur word, terwyl sy steeds haar sangloopbaan volg en haar droom verwesenlik om by feeste en Afrikaans is Groot op te tree. Akademia sien uit om haar vordering op Die Kontrak dop te hou.

Ariana Venus Behr-Greeff is ʼn Akademia-student in BSc (Rekenaarwetenskappe) wat onlangs verkies is as deel van die top 24-deelnemers van Die Kontrak-kompetisie.