Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Skryf só ʼn wen CV

Gepubliseer op: 25 Julie 2023

Geskryf deur dr. Jannet Davel, hoof van Personeel en Ontwikkeling by Akademia.

In die rolprent We Bought a Zoo is daar ʼn toneel waar Benjamin Mee sê: “You know, sometimes all you need is twenty seconds of insane courage. Just literally twenty seconds of just embarrassing bravery. And I promise you, something great will come of it.”

Twintig sekondes. Dit is al wat dit kos vir jou hele lewe om handomkeer te verander. Twintig sekondes is ook volgens navorsing die gemiddelde tyd wat ʼn bestuurder aan ’n kandidaat se CV spandeer gedurende die siftingsproses. Jy het dus slegs twintig sekondes om ʼn goeie indruk te maak, sonder woorde.

Hiermee ʼn paar wenke om in ag te neem as jy jou CV opstel:

  • Jou CV is die eerste geleentheid wat die keuringskomitee het om jou op papier te ontmoet. Om dié rede is dit belangrik dat jou CV iets weerspieël van wie jy is. Dink daaraan. Dit sal mos glad nie geloofwaardig wees as jy skryf dat jy kreatief is, maar slegs ʼn Word-dokument, paragraafstyl, indien nie.
  • Sorg dat jou CV professioneel vertoon en sluit ʼn klein foto van jouself in. Dit hoef nie ʼn gestileerde foto te wees nie, maar moet van goeie kwaliteit spreek (geen filters nie). Gebruik dit klein en professioneel in die hoek van jou dokument.
  • Gee genoegsame persoonlike inligting, en noem ook aktiwiteite waaraan jy deelneem, of stokperdjies wat jy beoefen, sodat die komitee ʼn beeld van ʼn volronde mens kan sien. Dink kreatief oor hoe jy jou stokperdjies wil insluit. Partymaal het ʼn ikoon met die stokperdjie meer trefkrag as net “reis”, “draf” of “lees”. Dit is nie nodig om jou skoolvakke te lys nie, maar noem wel leierskapsposisies wat jy beklee het.
  • Vaardighede is net so belangrik soos formele opleiding. Dit sal tot jou voordeel wees wanneer jy spesifieke vaardighede kan lys, of selfs visueel voorstel. Moet liefs nie by die vaardigheidsafdeling “rekenaarvaardighede” noem nie; dit is in vandag se ekonomie vanselfsprekend.
  • Die belangrikste is dat jou CV onderafdelings moet hê, maar ook met die eerste oogopslag sin maak. Afdelings wat in ʼn CV ingesluit moet word, is: persoonlike biografiese inligting, ʼn paragraaf oor jou persoonsprofiel, vaardighede, opleiding (formeel asook ander sertifikate en kursusse), werkservaring, stokperdjies, en verwysings.
  • ʼn Bondige CV skep ʼn goeie indruk; dit laat die keuringskomitee nuuskierig om meer uit te vind, maar gee genoeg inligting om jouself voor te stel. Wees gewaarsku – dit is soms moeiliker om in minder woorde ʼn volledige boodskap oor te dra. Ideaal gesproke moet ʼn CV tussen 475 en 600 woorde bevat, en nie oor langer as twee bladsye strek nie.
  • As jy net twintig sekondes het vir ʼn eerste indruk op papier, sorg dat daardie twintig sekondes nie drup van geykte terme, spel- en taalfoute of swak belynde kolomme nie. Gee daardie twintig sekondes kleur, ʼn foto, ʼn kreatiewe ikoon en vaardighede waarsonder die werkgewer nie kan klaarkom nie.

Onthou, partymaal is twintig sekondes al wat nodig is om ʼn indruk te maak. Spandeer tyd aan die opstel van jou CV en laat dié belangrike dokument namens jou die praatwerk doen.

Dr. Jannet Davel, hoof van Personeel en Ontwikkeling by Akademia, meen dat ʼn goeie CV binne twintig sekondes die aandag van ʼn voornemende werkgewer kan trek én behou.