Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia se hande versterk met vooraanstaande professors

Gepubliseer op: 14 Januarie 2019

Met die onlangse aanstelling van ʼn akademiese hoof en drie dekane skep Akademia – in ʼn onstuimige hoëronderwysomgewing – nuwe moontlikhede vir voornemende studente wat gehalte onderrig in Afrikaans wil ontvang. Ondanks die taalbeleide van talle openbare universiteite wat moedertaalonderrig onmoontlik maak, bou Akademia voort aan Afrikaans as wetenskapstaal.

Vandag is Akademia reeds in haar agste bestaansjaar en het sy reeds aan meer as 3 500 Afrikaanse studente toegang tot gehalte hoër onderwys gebied. Oor die afgelope sewe jaar het Akademia reeds elf kwalifikasies geakkrediteer, wat grade, hoër sertifikate en ʼn gevorderde diploma insluit. Akademia beoog om hierdie jaar 40 nuwe kwalifikasies vir akkreditasie deur die Raad op Hoër Onderwys in te dien.

“Die akademiese hoof en dekane wat aangestel is, is onder andere getaak met die uitbreiding van ons programaanbod in die Geesteswetenskappe, asook om bydraes te lewer tot die totstandkoming van fakulteite in Natuurwetenskappe en Opvoedkunde,” verduidelik Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.

Danie Goosen, professor in die Geesteswetenskappe by Unisa, neem in Februarie sy plek as akademiese hoof by Akademia in. Professor Pieter Duvenage neem in Januarie die leisels as dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe. Duvenage was voorheen departementshoof van Universiteit van die Vrystaat se Departement Filosofie en is ereprofessor in Politieke Filosofie by Cardiff Universiteit in die Verenigde Koninkryk.

Professor Hannes Rautenbach is aangestel om vanaf Februarie sy plek as dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe in te neem. Rautenbach was voorheen departementshoof van die Departement Geografie, Geoïnformatika en Meteorologie by die Universiteit van Pretoria en buitengewone professor by die Skool vir Gesondheidstelsels en Publieke Gesondheid aan dieselfde universiteit.

Professor Gawie du Toit is as dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aangestel, en sluit in Maart by Akademia aan. Du Toit was voorheen hoof van die Skool vir Opvoedkunde by die Sol Plaatje Universiteit.

Akademia bereik jaarliks nuwe hoogtes in die daarstel van ʼn volwaardige gemeenskapsuniversiteit wat ʼn wye verskeidenheid vakdissiplines aanbied. Die aanstellings van hierdie gerekende akademici vorm deel van Akademia se oprigting van ʼn omvattende residensiële kampus. “Ons glo dat hierdie kundiges se gerekende ervaring ʼn merkwaardige bydrae sal lewer om Akademia se akademiese en bedryfsrelevantheid te behou en toenemend uit te bou,” sê Visser.

Aansoeke om vir studies in 2019 is oop tot 19 Januarie.

Akademiese hoof: Professor Danie Goosen
Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe: Professor Pieter Duvenage
Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe: Professor Hannes Rautenbach
Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde: Professor Gawie du Toit