Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia voeg voltydse Intermediêre Fase-onderwys by tot aanbod

Gepubliseer op: 25 Augustus 2021

Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling, het die opwindende nuus aangekondig dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 by die Centurion-kampus voltyds deur topakademici aangebied gaan word. Dié splinternuwe kwalifikasie dien as ʼn positiewe toevoeging tot die instelling se onderwysaanbod nadat die reeds bestaande en suksesvolle Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) aan die begin van die jaar ʼn aanvang geneem het.

Die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-program is toegespits op die opvoeding en opleiding van onderwysers vir grade 4 tot 6. Graduandi van hierdie gehaltekwalifikasie sal Wiskunde, Afrikaans en Engels, sowel as ʼn keusevak soos Sosiale Wetenskappe, Lewensvaardighede of Natuurwetenskappe tot en met graad 7 kan aanbied. Hierdie kwalifikasie sal studente in staat stel om uiteindelik as professionele onderwysers by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) te registreer.

Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, meen dat dit ʼn strategiese besluit was om hierdie kwalifikasie te ontwikkel en aan te bied. “Navorsing toon dat ʼn groot persentasie laerskoolonderwysers nie oor voldoende vakkennis beskik nie. Daarbenewens het Akademia toenemende aantal navrae vir ʼn kwalifikasie in Intermediêre Fase-onderwys ontvang.”

Hierdie gesogte kwalifikasie is deur professore en vakkundiges landswyd ontwikkel om uiteindelik in die groot behoefte aan goeie onderwysers vir hierdie fase te voorsien. Nadat ʼn deeglike proses gevolg is, geniet die kwalifikasie akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys, en is by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geregistreer.

Die NKR-vlak 7-program kan oor ʼn minimum van vier jaar voltooi word, en word 50% vir onderskeidelik Wiskunde, Engels en Afrikaans vereis vir toelating tot studie. Bo en behalwe hierdie toelatingsvereistes, verduidelik Du Toit dat die ideale studenteprofiel van so ʼn studierigting eerstens ʼn hartsbesluit moet wees. “Die voornemende student moet lief wees vir mense – in besonder kinders – en om saam met hulle te werk. Die persoon moet nuuskierig wees, bereid wees om ʼn lewenslange student te wees, sowel as om ʼn dienende leier, binne en buite die klas te wees.”

Du Toit meen dat die instelling se BEd-kwalifikasie uniek is in die sin dat vakkundige verdieping in jare een en twee plaasvind, terwyl daar terselfdertyd van die praktyk geleer word. In jare drie en vier word daar gefokus op die ontwikkeling van vakonderwyskennis – die belangrike kennis waaroor ʼn onderwyser moet beskik, en wat ook eie is aan onderwyserwees. Hy vertel verder dat studente in die twee jaar leer van, en in, die praktyk. Verder word die teorie en die praktyk deurlopend geïntegreer om te verseker dat die beginsels van samehang en progressie verantwoord word.

Hy reken dat dit belangrik is dat onderwysers gelewer word wat aanpasbaar is vir die vinnig veranderende en tegnologies gevorderde onderwysomgewing. “Ons oogmerk by Akademia is om leerders se praktiese, grondliggende en refleksiewe vaardighede te ontwikkel sodat hulle oor die vermoë sal beskik om konsepte, idees en aksies te integreer in outentieke, werklike kontekste. Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem in die snelveranderde onderwysomgewing.”

Die kwalifikasietoevoeging word doelbewus voltyds op kampus aangebied sodat studente individueel en ook as studentegemeenskap blootgestel word aan ʼn voortreflike akademiese kultuur en akademiese tuiste, terwyl hulle aan ʼn lewenskragtige studentelewe deelneem. “Die BEd-studente gaan pioniers wees wat in hulle moedertaal help skryf aan ʼn nuwe hoofstuk in Onderwysgeskiedenis in Suid-Afrika, wat op Christelike grondslae en Westerse erfenis in Afrika geanker is,” vertel Du Toit.

Die doelwit van die Fakulteit Opvoedkunde, ongeag keuse van studierigting, is om uiteindelik afgeronde graduandi te lewer wat toegerus is met die nodige opvoedkundige teorie en onderwyskennis. “Met die BEd-program beoog ons om studente in staat te stel om toegepaste vaardighede en bekwaamheid te demonstreer, en verantwoordelikheid as akademies en professioneel gekwalifiseerde intermediêre fase-onderwysers in uiteenlopende onderwyskontekste te neem,” sluit hy af.

Studieaansoeke vir die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-program is reeds oop. Vir meer inligting oor die kwalifikasie, besoek www.akademia.ac.za, of woon die kampusopedag op Vrydag 3 September by. Besprekings vir die opedag kan ook op die Akademia-webblad gemaak word. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Marthinus Visser, besturende direkteur, en dr. Maretha Steyn, programkoördineerder van BEd (Intermediêre Fase-onderwys) tydens ʼn aankondigingsfunksie om die nuus van die nuwe Akademia-kwalifikasie te vier. Die kwalifikasie word vanaf 2022 voltyds op die Centurion-kampus aangebied. Studieaansoeke hiervoor is reeds op.