Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaans in die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks

Gepubliseer op: 25 Augustus 2021

Geskryf deur prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Op 14 Augustus is Afrikaanse Taaldag gevier om die ryk geskiedenis van die taal te herdenk. In sy treffende rubriek Afrikaanse digkuns meer as net poësie maak Goosen (2021) die stelling dat taaldood nie net dui op die taal wat sterf nie, maar stel hy dat “Met die dood van ʼn taal sterf ʼn werklikheid”. Goosen sluit die rubriek af met die beantwoording van die vrae: “Hoe kan daar gesorg word dat Afrikaans nie net voortbestaan nie, maar dat dit steeds op ’n unieke, skeppende en diepgaande wyse gestalte aan ons werklikheid gee?” en “Hoe kan daar gesorg word dat ons werklikheid steeds deur ons moedertaal ontsluit word?”. Die antwoorde op die vrae lê volgens Goosen daarin dat Afrikaanse onderrig op skool en universiteit ondersteun moet word om “die volle diepte, kleur en rykheid van die Afrikaanse kultuur te onthul”. Dit is juis hier waar Afrikaans as taal voor enorme uitdagings te staan kom op skool- en hoër onderwysvlak. Die uitdagings word in die volgende paragrawe belig.

Afrikaans as taal van onderrig en leer (TvOL)

Skole

Die taal van onderrig en leer (TvOL) in hoërskole in Suid-Afrika is tans Engels (in die meerderheid) en Afrikaans. Die TvOL van grade 1-7 is Engels (in die meerderheid) en enige van die ander amptelike tale, waarvan Afrikaans een is. Volgens Buys (2019) kan die Afrikaanse onderwystoneel oor tien jaar numeries gesproke effens swakker daaraan toe wees. Buys (2019) stel dat daar ongeveer 1 700 openbare en onafhanklike skole (22% hoërskole; 78% laerskole) behoort te wees wat Afrikaans as TvOL sal bied. Hiervan behoort ongeveer 1 250 enkeltalige Afrikaanse skole te wees en ongeveer 450 dubbelmediumskole met Afrikaans as ’n TvOL-keuse. In die geval van gemengde-mediumskole bestaan die geneigdheid dat die meer dominante taal as TvOL aangeneem word. Tesame met politieke druk kan Afrikaans by skole wat ’n gemengde-mediumbeleid volg onder druk wees.

Hoër onderwys

Die aanbod van openbare universiteite om aan studente die keuse te bied om in Afrikaans te studeer het drasties afgeneem. In totaal is daar vyf openbare universiteite wat Afrikaans ingeskryf het as deel van hulle taalbeleid. Slegs die Universiteit Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus bied volgens hulle taalbeleid amptelik onderrig in Afrikaans aan (Fourie, 2018). Wat die opleiding van onderwysstudente aanbetref bied die Universiteit van Pretoria wel sekere kursusse in Afrikaans as medium aan, en die opleiding van onderwysstudente op die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) vind ook in Afrikaans as medium plaas.

Parallelmediumonderrig word waar prakties moontlik gevolg. In kleiner groepe word ’n gemengde taalbenadering in onderrig by hierdie instansies gevolg. Dit is egter nie die gewenste weg om te volg nie. Aan die Universiteit van die Vrystaat bepaal die taalbeleid dat in sekere dissiplines, soos Opvoedkunde, onderrig wel ook in Afrikaans aangebied kan word. In praktyk gebeur dit egter nie en alle klasse word eerder in Engels aangebied. Studente het wel die keuse om toetse, werkstukke en eksamens by hierdie instansie in Afrikaans af te lê. In praktyk word egter ervaar dat al hoe minder dosente Afrikaans magtig is en kom bepaalde studente in opstand omdat Afrikaanssprekende studente die voordeel het om assessering in hulle moedertaal te kan kies. As hierdie patroon herhaal, sal al hoe meer universiteite onder druk kom om slegs Engels as TvOL te gebruik.

Afrikaans as vak op universiteit

In die B-grade in Opvoedkunde is Afrikaans ’n keusevak. Die omvang en gehalte van Afrikaans in die onderwysgrade (veral op laerskoolvlak) is nie op dieselfde vlak as die Afrikaanse taal- en literatuurstudie wat deel vorm van ’n BA-graad nie.

Die vooruitsig van Afrikaans as universiteitsvak in Suid-Afrika is nie rooskleurig nie. Daar was aan die einde van 2018 minder as 300 studente wat vir Afrikaans op derdejaarsvlak ingeskryf was. Wat nagraadse studies in Afrikaans aanbetref, was daar ongeveer 54 honneursstudente, ongeveer 68 meestersgraadstudente en nagenoeg 32 doktorale studente aan universiteite ingeskryf. Die meeste van die studente was aan universiteite in die Wes-Kaap ingeskryf (Du Toit, 2018).

Onderwysers

Volgens voorskrifte (MRTEQ, 2015) moet alle BEd (Grondslagfase-onderwys)- en BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-studente twee tale in hulle program insluit, waarvan Afrikaans ’n keuse is. Steeds sal die taal van onderrig rakende die res van die vakke in die program meestal in Engels plaasvind, soos vooraf genoem. In BEd-programme gemik op hoërskool is Afrikaans ’n keusevak en is daar ʼn klein getal studente wat Afrikaansonderwys as vak neem.

Daar is egter ook ander onafhanklike hoëronderwysinstellings wat toegetree het om onderwysprogramme in Afrikaans as TvOL aan te bied. Akademia bied sedert die begin van 2021 die NGOS (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)-program aan. Afrikaansonderwys is ʼn keusevak in die program. Die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-program word vanaf 2022 geïmplementeer. Afrikaans as vak is verpligtend in die program.

Die onderwyserkorps is besig om te verouder. SAOU se personeeldata (grotendeels Afrikaanssprekend) vir 2014 en 2019 dui daarop dat ’n beduidende aantal personeel van 40 jaar en jonger die onderwysberoep verlaat, maar dat ’n beduidende aantal personeel tussen 40-50 jaar weer tot die onderwysberoep toetree. ’n Beduidende aantal onderwysers tree vroeër op 60 af. Die netto effek is dat daar ’n totale afname van 8% in onderwyspersoneel was van 2014 tot 2019. Die data toon verder dat die verhouding van mans tot vrouens 1:4 is en dat daar ’n duidelike afname van mans in die laer ouderdomsgroepe is wat tot onderwys toetree (Klopper, 2014; 2019).

Terugblik

Aan die positiewe kant is die eerste tree na die daarstelling van onafhanklike skole met Afrikaans as TvOL tydens Solidariteit se Toekomsberaad in Oktober 2019 bekendgemaak. As deel van die toekomsplanne van die Solidariteit Beweging beoog die Skoleondersteuningsentrum (SOS) om in samewerking met vennote 30 onafhanklike Afrikaanse skole, met kapasiteit vir ongeveer 50 000 leerders, teen 2030 in geïdentifiseerde ankerdorpe binne die ankerdorpnetwerke te vestig (Brink, 2019). Volgens Buys (2019) behoort daar ongeveer 3 000 Afrikaanse private kleuterskole te wees, ’n toename in onafhanklike skole wat Afrikaans as TvOL bied, en ook ’n toename in tuisskoling te wees. Van groot belang is die pyplyn vanaf kleuteronderwys regdeur tot hoër onderwys.

Vir die voortbestaan van Afrikaans is dit noodsaaklik dat universiteite en private hoëronderwysinstellings Afrikaans as vak deel maak van hulle programme en dat Afrikaans op nagraadse vlak verder uitgebou word. Met die verengelsing van openbare universiteite sal die rol al hoe meer deur instellings soos Akademia vervul moet word. ʼn Verdere uitdaging aan die hoëronderwyssektor – spesifiek dan Akademia – is om toe te sien dat daar ʼn voldoende aantal Afrikaanssprekende onderwysers sal wees, asook onderwysers wat Afrikaans as vak aanbied.

Hef aan lê voor vir almal wie se werklikheid deur Afrikaans gevorm word. In die woorde van Goosen: “In en deur Afrikaans as universitêre taal word ʼn besondere dieptedimensie van ons Afrikaanse werklikheid onthul.”

Prof. Gawie du Toit is die passievolle dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Bronnelys

Brink, D. 2019. Skole. Bou om te bly: Op pad na 2030. Ongepubliseerde toespraak. Solidariteit Beweging.

Buys, F. 2019. SOS: 2019-Leierskapkongres vir skoolhoofde en adjunkhoofde. Saint George Hotel, Doornkloof, 11 Junie 2019.

Du Toit, G.F. 2018. Die status van onderwysersopleiding. Fokus op Afrikaans. ROF, 21 Augustus 2018.

Fourie, D. 2018. At which universities do they teach in Afrikaans. Beskikbaar by: https://www. quora.com/At-which-universities-do-they-teach-in-Afrikaans [Datum van gebruik: 8 Oktober 2019].

Goosen, D. 2021. Afrikaanse digkuns meer as net poësie. Netwerk 24, 13 Augustus 2021

Klopper, C. 2014. Onderwysersopleiding gerig op die toekoms: Behoeftes en gevaartekens. Rapport Onderwysfonds Onderwyskonferensie, 4 September 2014.

Klopper, C. 2019. Persoonlike onderhoud oor SAOU.

MRTEQ. 2015. Minimum requirements for teacher education qualifications. Gazette, 38487. Pretoria. Beskikbaar by: . Gov.za/Teacher%20Education/National%20Qualifications%20Framework%20Act%20 67_2008%20Revised%20Policy%20for%20Teacher%20Education%20Quilifications.pdf