Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student en CrossFit Spele-medaljewenner styg uit bo haar diagnose

Gepubliseer op: 24 Augustus 2021

Letchen du Plessis, ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia, het onlangs ʼn silwer medalje by die CrossFit Spele ontvang wat in Amerika gehou is. Dít nadat CRPS (komplekse regionale pynsindroom) en distonie by haar gediagnoseer is, maar dit het haar nie gekeer om haar drome te bewaarheid nie.

Du Plessis het in 2017 tydens ʼn netbaloefening by ʼn vorige instelling haar heup ontwrig wat gelei het tot drie operasies binne die bestek van een jaar waarna sy ook die funksie van haar linkerbeen verloor het. Dit het weer gelei tot vele doktersafsprake en skanderings waarna sy die diagnose van CRPS en distonie gekry het. Dit het veroorsaak dat sy ook weer van vooraf moes leer loop wat vir haar as atleet baie traumaties was.

In Januarie 2019 het sy besluit om oor te skuif na Akademia weens die nauurse model wat haar situasie kon vergemaklik. “Akademia was die beste opsie aangesien ek op my eie tyd my studies kon aanpak en ook nie fisies kampus toe hoef te gaan nie omdat loop nog vir my moeilik was”, verduidelik sy. Sy het besluit om ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie by Akademia aan te pak aangesien sy verkies om eerder met mense as net verslae te werk.

Sy het ná haar diagnose egter besluit om met sport aan te gaan aangesien die vlam daarvoor te helder by haar gebrand het. “Ek was nog altyd ʼn atleet en om ewe skielik iemand te wees wat voltyds in jou bed lê speel met jou kop. Ek het een oggend in 2019 wakker geword en besluit ek moet ophou om myself jammer te kry. Ek is in die posisie om te kies hoe ek my situasie hanteer.”

Ná hierdie keuse het sy twee keer ʼn week na haar ou gimnasium by Menlopark Hoërskool gegaan en haar bewegings uitgetoets. Daarna het sy en haar fisioterapeut by die rehabilitasiesentrum dit bespreek en daaraan gewerk. “Dit het omtrent ʼn jaar en ʼn half gevat om gemaklik te wees om die skuif na ʼn CrossFit-gimnasium toe te maak en die klasse by te woon”, vertel sy.

Sy beskryf haar onlangse sukses as “onwerklik”. “Ek weet ek het baie hard gewerk om daar te kan wees en die tweede plek te kry, maar as mense my vra om die hele ervaring te beskryf kry ek bloot nie die regte woorde nie. ʼn Mens moet daar wees om dit te ervaar”, verduidelik sy.

Distonie en CRPS het egter steeds ʼn groot impak op Du Plessis se gesondheid. Sy het steeds nie algehele funksie in haar linkerbeen of ʼn deel van haar maagspiere nie. Sy gebruik ook ʼn AFO (enkel-en-voet-ortose) wat spesiaal vir haar gemaak is om loop te vergemaklik en krukke as sy vêr afstande moet loop. In 2019 het sy ook ʼn spinalekoord-simulator laat inplant wat die regte senuwees stimuleer om haar CRPS onder beheer te hou.

Du Plessis glo beslis dat tydsbestuur dit vir haar moontlik maak om by ʼn voltydse werk as junior besigheidsanalis en sagtewaretoetser, haar sportloopbaan en studies by Akademia uit te kom. In die week fokus sy op werk en oefeninge, terwyl sy naweke en saans aan haar studies toewy.

Haar toekomsdroom is om ʼn goue medalje by die CrossFit Games te behaal, maar haar hoofdoelwit is om CrossFit, veral Adaptive CrossFit, in Suid-Afrika te verbeter. Sy hoop ook om oor vyf jaar moontlik te kan deelneem aan die Paralimpiese Spele. Akademia wens haar alle voorspoed toe en hou haar toekoms met groot afwagting dop.

Letchen du Plessis waar sy deelneem aan die Nobull CrossFit Spele in Amerika.
ʼn Trotse en dankbare Letchen du Plessis met haar silwer medalje van die CrossFit Spele.