Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Vrouemaand: Studente skep hoop deur ʼn handsak

Gepubliseer op: 23 Augustus 2021

Akademia-damestudente, in die BCom (Ondernemingsbestuur)- en BCom (Ekonomie en Regte)-program, het onlangs as deel van ʼn kosbare Vrouemaand-projek handsakke ingesamel. Die idee vir die projek het ontstaan toe die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) iets spesiaals vir behoeftige vroue vir vanjaar se Vrouemaand wou doen. Mareli van der Merwe, dosent in Ondernemingsbestuur by die instelling, en Daleen Esterhuizen van die CMR se Sentrum van Hoop in Wierdapark, het hande gevat en só is hierdie projek deel van die studente se kontaksessie in Ondernemingsbestuur gemaak.

Hierdie projek behels die insameling van tweedehandse handsakke wat met basiese benodighede soos ʼn waslap en seep, tandeborsel, lipsalf, notaboekie en pen, deodorant en sanitêre doekies gevul is. Daar was ook ʼn paar ander items soos kostuumjuwele en sjokolade of koekies bygevoeg om behoeftige vroue te bederf.

Die damestudente het heelhartig in die projek ingespring en in minder as ʼn week 40 handsakke ingesamel. “Alhoewel ek baie beïndruk is met ons studente, sou ek persoonlik die projek as suksesvol bestempel indien damestudente weer opnuut besef het hoe bevoorreg hulle is. Ons kan opreg dankbaar wees dat ons nog nooit tekort aan enige van hierdie basiese items gehad het nie”, vertel Van der Merwe oor die studente se bydrae.

Akademia-studente studeer aan ʼn hoëronderwysinstelling wat vanuit die gemeenskap vir die gemeenskap gestig is. Ondernemingsbestuurstudente moet dus ook leer dat hulle ʼn verantwoordelikheid teenoor hulle gemeenskappe het om te bou en te verbeter. “Ek wou graag aan studente die geleentheid bied om betrokke te raak by projekte waar hulle dit wat ons so mildelik ontvang, met ander kan deel. Hierdie betrokkenheid skep natuurlik ook bewustheid van ander se uitdagings, stories en probleme wat verskil van ons eie”, verduidelik Van der Merwe. Die studente se horisonne word verbreed deurdat hul leer om wyer as hulself en hul eie omstandighede te kyk. Dit is ʼn kritiese vaardigheid wat jongmense as toekomstige bestuurders van ondernemings moet ontwikkel.

Dit is nie net die damestudente wat betrokke was by hierdie spesiale projek nie. Ter viering van Vrouemaand het die manstudente in die program die damestudente vereer deur elkeen met ʼn blom te bederf. Hierdie geskenk simboliseer die “ons sien en eer julle vir julle unieke bydrae tot die samelewing”. Hierdie simboliese handeling was nie slegs gerig op die damestudente nie, maar ook om waardering te toon vir elke vrou wat al in hul lewe diep spore getrap het, die vroue wat hul tans ondersteun en lei, asook die vroue wat nog in hul toekoms gaan kom.

Akademia se Ondernemingsbestuurstudente kan nie net Akademia se waardes teoreties opnoem nie, maar hulle leef dit ook in die praktyk uit. Akademia se waardes van “geloof, hoop en liefde” word geïllustreer deurdat studente vanuit hul geloofsoortuiging en liefde vir hulle naaste handsakke gepak het wat hoop aan behoeftige vroue kan bied.

Van der Merwe dink só oor die belang en viering van vrouwees: “Ek dink in vandag se pandemie en verskeie uitdagings wat ervaar word, behoort die lewe gevier te word. Dalk nie noodwendig ‘vrouwees’ of ‘manwees’ nie, maar eerder ‘menswees’. Vroue kan net daar waar hulle is, in hulle eie gemeenskap, daar waar hulle werk, skoolgaan, studeer of aanbid bydra tot die bou van ʼn beter samelewing.”

Dit is nie ʼn eenmalige projek nie. Die Ondernemingsbestuurmodule sal ook graag by enige liefdadigheids- of gemeenskapsprojekte betrokke wil raak waar hulle fisiese of kundige bydraes kan maak om positiewe verandering te bring. Akademia-studente wys hierdeur dat hulle graag betrokke lede van die samelewing wil wees en dat hulle hart en hande oop is om ander te help.

Het hierdie studente se oop hande jou ook geïnspireer om ʼn handsak van jou eie vir iemand behoeftig saam te stel? Maak gerus kontak met Anja Le Cornu by marketing@cmrn.co.za. Enige skenkings is welkom.

Die damestudente van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program het 40 handsakke vir behoeftige vroue ingesamel.
Die manstudente van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program het deur middel van blomme hul eer aan die damestudente betoon.