Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent leef ook passie as TV-ster en aanbieder

Gepubliseer op: 20 Augustus 2021

Rika Nieuwoudt is ʼn kranige aktrise, stemkunstenaar en radio-aanbieder – dit terwyl sy haar rol beklee as departementshoof van Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia. Studente sal haar herken as ʼn vriendelike dosent vol selfvertroue, terwyl sy deesdae aan die publiek meer bekend staan as “Joline” van kykNET se Binnelanders.

Nieuwoudt noem dat sy ná vele oudisies vir verskillende karakters op Binnelanders uiteindelik die rol van Joline losgeslaan het. Sy word soms herken as Joline, maar het nooit ʼn antwoord op die vraag “hoekom lyk jy so bekend?” nie.

Haar liefde vir drama het reeds as kind begin toe sy ʼn aktrise wou word, maar in die klein dorpie waar sy groot geword het, het sy meestal sport gedoen. Op universiteit het sy egter meer blootstelling aan die kunste gekry en ʼn liefde daarvoor ontwikkel. “Ek onthou nog hoe ek met koshuistoneelweke elke aand en elke toneel op my eie gaan kyk het – niemand wou so lank sit nie”, skerts sy.

Toe sy Pretoria toe getrek het ná haar studies was haar eerste salaris binne twee weke op teaterstukke uitgegee. Sy het op haar eie gegaan en so meer mense leer ken in die dramawêreld. Toe sy by Akademia begin werk het, moes sy ʼn radioadvertensie vir die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde opneem. “Ek het dit nog nooit gedoen nie, maar ek het toe besef hoe lekker dit is. Ek het daarna vir ʼn stemtoets gegaan by ʼn gemeenskapsradiostasie en my eerste radiowerk losgeslaan. Eers het ek die nuus en verkeer in die oggende gelees en toe later my eie program op Sondae gehad”, vertel sy.

Nieuwoudt beskryf dat dosering en ʼn rolprent nie so baie verskil nie. “Daar is ʼn begin, middel en einde. ʼn Klas en rolprent het ʼn kernstorie of tema, maar dit moet ook oop wees vir interpretasie en wat die kyker of student daaruit kan neem van waar hul hulself op die stadium bevind”.

Sy staan ook bekend as mede-aanbieder van VirsekerBeker waar sy die wedstryd analiseer en met kapteine en ander aanbieders oor die wedstryd gesels. Sy het nog altyd ʼn liefde vir sport en hierdie geleentheid het haar soos ʼn handskoen gepas.

Onlangs was sy ook te sien as mede-aanbieder op Toks en Tjops, die TV-program op kykNET. Sy vertel dat sy dit baie geniet om nou en dan in te staan en deel van die span te wees en dat die program juis saamgestel is sodat kykers, aanbieders en gaste dit geniet. “Regstreekse TV is nogal stresvol, jy moet baie hard fokus en op jou voete dink. Jy kan eintlik nie voorberei nie, maar jy moet weet waarvan jy praat. Die grootste uitdaging is om die verskillende stemme in jou ore uit te doof terwyl jy praat.”

Volgens haar het drama uitdagende dele en baie ongelooflike dele. Haar grootste uitdaging tot dusver was om vyf tot soms nege tonele op een dag te skiet. “Ons skiet nie noodwendig in volgorde nie en met elke toneel het die karakter ʼn ander emosie, so jy moet binne minute van kwaad na opgewonde of hartseer spring en dit werklik voel – die kamera jok nie”. Sy vertel ook dat die ongelooflike deel van drama egter die verskillende stories is en die reis waarop mens gaan wanneer jy ʼn rolprent, teaterstuk of storie kyk en vir daardie oomblik kan ontvlug.

Om ʼn besige lewe tussen op die kassie wees, stemopnames en dosering te balanseer het sy twee reëls waarby sy probeer hou. “Eerstens probeer ek om volkome teenwoordig te wees in die spasie waar ek myself bevind, en tweedens is ek baie goed daarmee om net af te skakel en te ontspan. Akademia se ondersteuning maak dit ook baie makliker”, vertel sy.

Nieuwoudt raai aan dat mense daagliks alle geleenthede moet aangryp, al is dit onverwags. “Ek het byvoorbeeld by Akademia geleer hoe om regstreekse TV aan te bied deur die manier wat ons klasgee. Jy leer daagliks ʼn nuwe vaardigheid as jy oop is daarvoor, so moenie dink iets is tydmors nie.”

Sy vier ook vandeesmaand Suid-Afrika se sterk vroue as deel van Nasionale Vrouemaand. Sy kyk van jongs af op na haar suster se deursettingsvermoë, dissipline en positiwiteit. Haar raad vir vroue in vandag se samelewing is om mekaar te vier en om hulself lief te hê. “Ons kan soms so lelik met onsself wees en dit is gewoonlik baie ver van die waarheid. Wees geduldig met jouself en wys jou emosies – jy is nie swak nie, inteendeel”, sluit sy af.

Rika Nieuwoudt op die stel van Binnelanders saam met “Naomi” en “Louis”.
Rika Nieuwoudt as aanbieder by die TV-program, Toks en Tjops.
Rika Nieuwoudt as mede-aanbieder van die VirsekerBeker-rugbytoernooi.