Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Entrepreneursdag: Akademia-student en entrepreneur deel haar storie

Gepubliseer op: 20 Augustus 2021

Anél Smit is ʼn jong dinamiese dame met ʼn kop vir besigheid. Sy is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia en dien ook op dié instelling se studenteraad. Sy het haar eie besigheid, Kleine Sonneblom, in 2020 op die been gebring waar sy haar passie as entrepreneur uitleef.

Haar besigheid behels die verkoop van leerprodukte soos handsakke, rugsakke, skootrekenaarsakke en beursies. “Leerprodukte hou ʼn leeftyd en dit is altyd in die mode. Die reuk van leer is net die beste!” sê sy. Smit het haar besigheid in haar tweede jaar van studies begin nadat sy ʼn gaping in die mark gesien het en besef het dat daar ʼn behoefte bestaan vir leerprodukte. Sy het daarna die idee begin ondersoek en het reeds ʼn kontak in die leerbedryf gehad. “Ek as jong vrou is gek oor handsakke en beursies. Ek het reeds so baie kennis op die gebied en daar en dan het ek besef ek begin die regte onderneming.”

Sy het besluit om studies by Akademia aan te pak aangesien sy in haar moedertaal wou studeer en die nauurse model haar soos ʼn handskoen gepas het. Sy vertel verder dat die dié model vir haar die ruimte skep om ʼn gehalte kwalifikasie te voltooi en ook tegelyk te kan werk en ondervinding opdoen. “Om my studies prakties toe te pas in my besigheid is wonderlik, ek leer soveel meer as net teorie. Ek leer wat kritiek is en hoe om dit te hanteer. Ek leer veral oor kliëntediens – dit is vir my die belangrikste. Studies by Akademia is uiters gerieflik en nie eers 2020 se grendeltydperk kon ons studies steur nie.”

Haar studiekeuse het geval op BCom (Ondernemingsbestuur) aangesien sy passievol is oor die besigheidswêreld en die teorie daaragter. “Aangesien ondernemingsbestuur so wye veld is, leer jy iets van alles en so kom ʼn mens agter waarin jy graag wil spesialiseer of verder studeer. Ek het onlangs besef dat ek in finansies belangstel en dit is definitief in my toekomsplanne om ʼn aanvullende kwalifikasie in finansies te oorweeg”, noem sy.

Haar rol op Akademia se studenteraad is bemarking onder die kampus-vleuel. “Al die kennis wat ek as deel van die studenteraad opdoen, kan ek altyd in my besigheid toepas en dit is regtig so voordelig”, verduidelik sy. “Om my SR-pligte, studies en besigheid te balanseer is tydsbestuur beslis belangrik. Ek hou ʼn dagboek by en maak seker dat ek tyd maak vir myself om my eie batterye te herlaai.”

Smit vier ook vanjaar as jong vroue-entrepreneur Nasionale Vrouemaand. Sy glo dat ʼn sterk vrou in vandag se samelewing beteken om jou kop hoog te hou, tesame met goeie uithouvermoë en om jou fokus op die Here te behou. Sy noem dat dit uitdagend, maar wel belonend is om ʼn jong vroue-entrepreneur in Suid-Afrika te wees. Sy kyk ook op na ander vroue-entrepreneurs soos Alette Winckler wat haar inspireer met haar entoesiasme en positiwiteit.

Haar raad vir jong vroue wat hul eie besigheid wil begin is die volgende: “Vat die kans! Jy het nie sakke vol geld nodig om iets te begin nie. Dink groot, maar begin klein. Alles val verder in plek.”

Haar droom vir haar besigheid is om eendag hul eie fabriek te open en self produksie te doen en nie meer ʼn verskaffer te gebruik nie. Sy wil ook in die toekoms winkels in meer as twee provinsies open waar sy haar produkte kan verkoop en ʼn lekker koffie-ervaring vir haar kliente kan aanbied. Volg haar besigheid se reis hier op Facebook en Instagram.

Klik hier vir meer inligting oor BCom (Ondernemingsbestuur) wat voltyds en nauurs by Akademia aangebied word.

Anel Smit is ʼn jong vrou met haar eie besigheid, ʼn plek op die studenteraad en ʼn hardwerkende student by Akademia.