Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia is die trotse eienaars van die woord “studentelewe”

Gepubliseer op: 16 Augustus 2021

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het ter viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus die woord studentelewe in die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop. Die woord studentelewe is die instelling se derde woord wat aangekoop is, nadat universiteit en dekaan aangeskaf is.

Dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake by Akademia, vertel dat die keuse juis op die woord studentelewe geval het, aangesien die onlangse ontploffing van die instelling se eie studentelewe die belangrikheid daarvan getoon het. Uiteindelik is dit sinvol om die instelling se woordeskat aan hierdie unieke belewenis te koppel.

Muller beskryf Akademia se studentelewe as divers, opwindend en vol potensiaal. “Dit is ʼn groot voorreg om met ʼn skoon bladsy te kan begin en ʼn studentelewe te ontwikkel met die aktiewe insette van ons eie studente”, noem sy. “Ons wil nie hê ons studente moet verveeld of terneergedruk wees nie, maar eerder die volheid van hulle jeug en talente saam met ander medestudente geniet en ontgin.”

Volgens haar is Akademia se nuutingerigte Centurion-kampus besig om ʼn wonderlike kampuservaring met ʼn bruisende studentelewe te skep. “Huidige aktiwiteite sluit aksienetbal in en ʼn stapklub wat staptogte oor naweke aanpak. Op kulturele gebied is daar debat, ons koor (met Franco Prinsloo as koordirigent), leierskap- en loopbaanontwikkeling, mentorskapsprogramme, ʼn koffie- en boekklub, drama, sêr en nog vele meer. Ons studente neem ook deel aan ʼn aktiewe sosiale lewe en koshuiservaring”. Sy sê ook dat verskeie sportaktiwiteite beplan word, soos atletiek en rugby, sodra die inperkingsmaatreëls dit toelaat.

Akademia se opvoedingsideaal is om volledig afgeronde studente te lewer wat ʼn verskil kan maak in hulle gemeenskappe deur die geheel van dinge te kan raaksien en verstaan, en die studentelewe speel ’n belangrike rol in die verwesenliking van dié taak. “Ons studentelewe is juis so saamgestel dat dit kan bydra tot die volle ontwikkeling van studente op intellektuele, sport-, kulturele en sosiale gebied”, sê sy.

Muller moedig ook ander instellings en individue aan om die WAT te ondersteun deur hul eie gunstelingwoord of selfs woorde te koop. “Om die WAT te onderhou verg kosbare tyd van kundiges. Die minste wat ons as sprekers van hierdie lieflike taal kan doen is om hierdie kosbare bron te onderhou sodat ons taal behoue kan bly”, sluit sy af.

ʼn Gesonde en aktiewe studentelewe lê Akademia na aan die hart.
Dr. Desiree Muller, bestuurder van studentesake, met die amptelike sertifikaat van eienaarskap van die woord “studentelewe” in die WAT.