Search
Close this search box.

Dowe Akademia-student verwerf kwalifikasie en wil ander inspireer

Gepubliseer op: 14 Mei 2024

Akademia-alumnus, Jean-mari Cornelius (48) is doof, maar het nie toegelaat dat dit haar studiedroom kelder nie. Haar deursettingsvermoë is tydens die instelling se onlangse kwalifikasieplegtigheid in April ryklik beloon toe sy haar BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie verwerf het. Cornelius is die eerste dowe student wat hierdie kwalifikasie aan Akademia behaal het.

Cornelius was tien maande oud toe haar ouers besef het dat sy doof is. Sy was gevolglik vanaf sesjarige ouderdom verbonde aan die De la Bat-skool in Worcester. As sy aan haar skoolloopbaan dink vertel sy dat dié tydperk vir haar baie goeie herinneringe inhou en dat sy vir altyd dankbaar sal wees vir die ontwikkeling en groei wat sy hier ervaar het.

Haar studiedroom het reeds in 2016 vorm aangeneem toe Akademia die BCom (Ekonomie en Regte)-program aangekondig het. Cornelius het in dié jaar haar 40ste verjaardag gevier en het tydens haar verjaardagviering aan haar geliefdes genoem dat sy meer betekenis aan haar lewe wou gee en ʼn daadwerklike verskil in haar leefwêreld wou maak. “Dit was my droom om regtig roepingsgedrewe te wees en ʼn verskil te maak, nie net vir myself nie, maar ook vir enigeen wie se pad met myne kruis,” sê Cornelius en voeg by dat sy dadelik by Akademia aansoek gedoen het vir die daaropvolgende akademiese jaar.

Cornelius, wat reeds vir tien jaar deel uitmaak van die Deaf Federation of South Africa (DeafSA)-span, beklee vanaf 2018 die pos as finansiële bestuurder. Sy het haar studie by Akademia via die nauurse afstandsmodel aangepak. “Omdat ek reeds in die beroepswêreld gevestig was én twee jong kinders het, het dié onderrigleermodel my soos ʼn handskoen gepas,” meen Cornelius. Sy voeg by dat sy aanvanklik by die Centurion-sentrum ingeskakel was, maar ná die aanvang van die Covid-19-pandemie van die e-leeropsie gebruik gemaak het.

Volgens Cornelius was haar grootste uitdaging tydens haar studie om ʼn balans te vind tussen al die verskillende rolle wat sy vertolk. “Dit verg baie selfdissipline om tegelykertyd voltyds te werk, ʼn ma te wees, tyd vir jouself in te ruim én te studeer,” sê Cornelius. Sy voeg by dat sy gedurende haar studie ook nog boonop saam met haar gesin van die Kaapprovinsie na Centurion verhuis het, steeds as vrywilliger by DeafSA-gewerk het en ʼn finalis in die gesogte Miss, Mr & Ms Deaf South-Africa (MDSA) was. Haar behoud in dié tyd was effektiewe tydsbestuur en die ondersteuning wat sy uit alle oorde, en veral DeafSA, gekry het

As sy terugkyk oor haar tyd as ʼn Fontie sê sy dat dit ʼn “ongelooflike voorreg” was om nie net haar studie in Afrikaans te kon voltooi nie, maar ook om eerstehands te kon ervaar hoe Akademia-personeel die ekstra myl stap om studente te ondersteun. “Die instelling het byvoorbeeld tydens die kwalifikasieplegtigheid ʼn gebaretaaltolk gereël sodat ek die geleentheid saam met my mede-Fonties kon volg, en ek sal dié hoendervleisoomblik vir altyd koester,” sê Cornelius. Sy voeg by dat sy nooit tydens haar studie soos net nóg ʼn nommer gevoel het nie, maar altyd as ʼn persoon in eie reg behandel is. “Akademia-personeel verdien beslis ʼn pluimpie vir hul professionaliteit en werksetiek,” meen Cornelius.

Haar raad aan ander voornemende studente is eenvoudig: maak seker jy studeer vir die regte rede en nie om aan iemand anders se verwagtinge te probeer voldoen nie. ʼn Sterk ondersteuningsnetwerk is ook belangrik omdat nauurse studie baie opoffering verg.

In haar huidige hoedanigheid by DeafSA fokus Cornelius hoofsaaklik op die maatskaplike ontwikkeling van persone in die dowe gemeenskap. Hierdie ontwikkeling lê haar na aan die hart en Cornelius voel geroepe om hierdie taak met oorgawe en passie te vervul. Dit is haar droom om haar eie finansiële en regshulpkliniek op die been te bring en by wyse van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) advies en opleiding vir die dowe gemeenskap beskikbaar te stel. Sy sluit af deur haar gunstelingaanhaling te deel: “Wanneer die wêreld sê gee moed op, fluister hoop probeer nog een keer!”

Jean-mari Cornelius het tydens vanjaar se kwalifikasieplegtigheid die BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie by Akademia verwerf.
Cornelius meen haar gesin is een van haar grootste ondersteuningsnetwerke. Haar man, Rian, en kinders, Xavier en Kayla het trots in haar groot oomblik tydens die kwalifikasieplegtigheid gedeel.