Search
Close this search box.

Poolse akademikus inspireer Akademia-studente

Gepubliseer op: 8 Mei 2024

Wat studente ook al studeer, hulle gebruik in hul studie taal/tale en gaan in hul toekomstige werk bewus kommunikeer. Met ander woorde, dit sou goed wees as hulle doelgerig met tale omgaan. Dit is die mening van prof. Jerzy Koch, bekende Poolse akademikus en letterkundige van die Adam Mickiewicz-Universiteit in Pole. Koch het vroeër vandeesmaand as ʼn gas van Akademia se nuutgevonde Taalsentrum met eerstejaarstudente in Afrikaans van die Fakulteit Opvoedkunde oor letterkunde en tale in kontak gesels.

Volgens Koch behels die doelgerigte omgang met taal onder meer lees, lees met begrip, die ontwikkeling van eie tekste en die verkenning van betekennis. Literatuur en literêre vertalings verteenwoordig voorts ʼn belangrike deel van taalgebruik, ʼn spesifieke gebruik, maar nog steeds oermenslik in wese.

Koch is ʼn opgeleide Nederlandikus wat in die jare negentig deur sy navorsing oor postkoloniale Nederlandse letterkunde in Potchefstroom met Afrikaans kennis gemaak het. Intussen het daar verskeie boeke oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde uit sy pen verskyn. Volgens hom het hierdie studie hom ook tot die ontdekking van interessante feite oor die Poolse geskiedenis gelei. Soos wat hy oor die eerste Afrikaanse geskrifte in Arabiese skrif navorsing gedoen het, het hy byvoorbeeld ontdek dat daar ook Poolse geskrifte in Arabies is – dit is van die groep Tartare wat in die 14e eeu na Pole gekom het.

Die hoogtepunt van sy gesprek met die studente was die voorlees van sy eie Afrikaanse gedigte. Hy skaar hom in hierdie verband by ander Poolse skrywers en digters, soos Joseph Conrad, wat in ander tale as hulle eie ʼn letterkundige bydrae gelewer het. Hy sê dat hy aanvanklik nie noodwendig sosiale kommentaar deur sy gedigte wou lewer nie, maar daar is tog gedigte waarin hy oor die rol van die sosiale media en ons afstomping oor byvoorbeeld die voorkoms en realiteit van oorlog besin.

Sy gedig “cul-de-sac’ wat op Versindaba te lees is, wys hoe hy op meesterlike wyse die bekende Afrikaanse digter DJ Opperman se werke verbind met die omstandighede in Oekraïne. Hier is die laaste versreëls uit die gedig.

“ek kan op my skerm nie sien wat dit is nie, ook

die operateur nie, hy zoom in op die plek maar

ons weet steeds nie wat die foto voorstel nie, ʼn vrou

of ʼn kind, elkeen besluit vir homself, miskien

ʼn gewyde ikoon wat te pas sou kom by

ʼn skietgebed, die operateur aarsel om nou die bom

of granaat van onder die hommeltuig te los, dalk

het hy reeds die knoppie gedruk terwyl die kamera

se beeld stadig voor my oë uitdoof… trippe…

trap patrone, kanontjies en atome, matrosies

in die hawe, soldaatjies in loopgrawe…”

Koch het met die voordra van sy Afrikaanse gedigte, die BEd-studente geïnspireer om die moontlikhede te ondersoek wat die letterkunde bied om wêrelde wat oënskynlik ver uitmekaar is bymekaar te laat uitkom.

Prof. Jerzy Koch en Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia, in gesprek tydens die onlangse gaslesing.