Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Afrikaansdag 2024: Afrikaans is die goue draad wat denke én hart verbind

Gepubliseer op: 8 Mei 2024

Afrikaansdag, wat jaarliks op 8 Mei gevier word, het sy oorsprong in 1925 toe Afrikaans naas Engels en Nederlands as amptelike taal van die destydse Suid-Afrika erken is. Te midde van die uitdagings waarvoor Afrikaans vandag staan, neem dié taal sy eie plek met durf en verbeeldingskrag tussen die ander tale in. Akademia, as ʼn trotse privaat hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, vier op hierdie spesiale dag opnuut sy verbondenheid tot die taal.

As ʼn akademiese tuiste streef Akademia daarna om die denke sowel as die hart van studente te vorm, en só die weg te baan vir ʼn betekenisvolle toekoms. Dit is binne hierdie milieu dat Afrikaans die goue draad verteenwoordig wat Akademia se strewe, dade en verbondenheid rig.

Volgens prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: akademie, is die instelling se bestaan in vele opsigte afhanklik van sy verbintenis tot die uitbouing van die hoër funksies van Afrikaans. “Kwalik enige aspek van ons daaglikse funksionering is nie op een of ander wyse ten nouste verbind aan die bevordering van dié funksie nie. Hierdie strewe strek vanaf die klaskamers tot en met die navorsing wat gedoen word; vanaf die talle lesings en gesprekke op kampus tot en met die stille en harde werk wat dosente en studente agter hulle lessenaars doen,” verduidelik Goosen.

Akademia vier vanjaar op sy twaalfde bestaansjaar as Afrikaanse studietuiste ook opnuut sy verbondenheid tot Afrikaans. Hiermee twaalf maniere hoe die instelling dié verbondenheid uitlééf:

  1. Om by wyse van die nauurse afstandsmodel ʼn geleentheid te skep vir individue, ongeag waar in die wêreld hul hulself mag bevind, om op ʼn tersiêre vlak onderrig in Afrikaans te kan ontvang.
  2. Die lewenskragtigheid van moedertaalonderrig te ontsluit en te vier. Die aflewering van ʼn rekordgetal van 464 kwalifikasies tydens die mees onlangse kwalifikasieplegtigheid is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Dit sluit 84 nagraadse kwalifikasies in.
  3. ʼn Dinamiese aanbod van ʼn verskeidenheid hoëronderwyskwalifikasies by wyse van vyf fakulteite, naamlik: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid.
  4. Die onlangse toevoeging van die BA (Taalstudies)-program asook die nuutgevonde Taalsentrum spreek tot die instelling se verbondenheid tot die verdere ontwikkeling van onder andere Afrikaans se hoër funksie.
  5. Die daarstelling van ʼn bevorderlike, verstaanbare en gehalte onderrigomgewing waarbinne Afrikaans gehuldig word as ʼn ontwikkelde en moderne universitêre taal in beide die instelling se voltydse kampusmodel asook die nauurse afstandsmodel.
  6. ʼn Hartstogtelike verbintenis om Afrikaans op die hoogste vlak in kernfunksies soos navorsing en dosering te gebruik en te ontwikkel.
  7. Aktiewe deelname aan die vestiging en verdere ontwikkeling van die taal as ʼn lewenskragtige akademiese en wetenskapstaal ten einde volhoubaarheid te help verseker.
  8. ʼn Bruisende studentelewe verleen stukrag tot die versterking en vernuwing van Afrikaans as ʼn sosialiseringstaal.
  9. Skryfnet, ʼn gesamentlike projek tussen Akademia en Maroela Media, bied aan Afrikaanse skrywers, professionele persone en skoolleerders die geleentheid om hul skryftalent te slyp deur kort- en langer kursusse aanlyn of via kontakwerkswinkels aan te bied.
  10. As onafhanklike uitgewer van hoofsaaklik akademiese publikasies, streef Akademia Uitgewery deurentyd daarna om Afrikaans as kulturele en navorsingstaal verder uit te bou.
  11. Die aanbied van praktykgerigte kortkursusse via die platform, Akademia et al.
  12. Die trots-Afrikaanse name van die instelling se ses koshuise omarm die veelheid én uniekheid van die nasionale fauna en flora. Die koshuise heet: Huis Dahlia, Huis Daglelie, Huis Strelitzia, Huis Hennops, Huis Karoo en Huis Magalies.

Hierbenewens maak Akademia ʼn deurlopende belegging in die voorbestaan van Afrikaans deur aktiwiteite soos die aankoop van woorde in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Die instelling het reeds twaalf woorde aangekoop, waaronder: alumni, dekaan, Fontie, universiteit, kortkursus, koshuis, pionierswerk, studentelewe, professor, taalstudies, verbondenheid en vormingsideaal.

Die instelling wens elke Afrikaanssprekende ʼn gelukkige Afrikaansdag toe!

Akademia is verbind tot die vestiging en verdere ontwikkeling van Afrikaans as ʼn lewenskragtige akademiese en wetenskapstaal.