Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-student skitter as sewekampatleet

Gepubliseer op: 7 Mei 2024

Onthou die naam Yvonne Robson. Dié 24-jarige Akademia-student is besig om spoedig vir haarself naam te maak as ʼn kranige sewekampatleet.

Tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, wat vanaf 18 tot 21 April plaasgevind het, het Robson – ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-tweedejaarstudent, die algehele tweede plek op die wennerspodium ingeneem. Hierdie is ʼn merkwaardige prestasie as jy in ag neem dat sy ʼn nuweling in dié sportsoort is en slegs vir die tweede keer ooit in hierdie formaat deelgeneem het.

Volgens Robson, pas Akademia se nauurse afstandsmodel haar soos ʼn handskoen, veral omdat sy haar studie by wyse van die e-leeropsie kan aanpak. Dié onderrigleermodel laat haar toe om voltyds haar atletiekpassie uit te lééf terwyl sy steeds haarself akademies kan bekwaam. “Ek kan met groot sekerheid die instelling aan ander sportlui of werkende persone aanbeveel. Die mate van betrokkenheid en ondersteuning wat ek nie net van my dosente ontvang nie, maar ook van die administratiewe personeel, is ongelooflik. Uit my vorige ervaring by ʼn ander hoëronderwysinstelling kan ek heelhartig getuig dat die mate van ondersteuning by Akademia kop en skouers bo die res uitstaan,” sê Robson. Haar gunstelingmodule is Menslikehulpbronbestuur en sy vertel dat sy baie belangstel in die verskillende prosesse wat menslike interaksie in die werksplek rig en beïnvloed.

Robson, wat voorheen ʼn uitblinker hoogspringatleet was, het in ʼn vorige artikel vertel dat sy daarvan droom om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Dié droom het intussen nuwe stukrag gekry toe sy na ʼn baie moeilike jaar op die atletiekveld aan die einde van 2023 oorgeskakel het na die sewekampformaat. “Ek het ʼn punt in my loopbaan bereik waar dit vir my gevoel het of ek stagneer ten spyte van ure se oefening en volharding. My selfvertroue het hieronder gely en ek het dit selfs oorweeg om my spykerskoene finaal op te hang,” vertel Robson. Haar pad het gedurende hierdie tyd met een van haar nuwe afrigters, Charley Ströhmenger, wat self ʼn voormalige tienkampatleet was, gekruis en sy kon daarin slaag om weer haar passie vir atletiek te hervat. As ʼn sewekampatleet ding Robson oor twee dae mee. Op dag een neem sy deel aan die 100 m-hekkies, hoogspring, gewigstoot en die 200 m, terwyl die tweede dag bestaan uit verspring, spiesgooi en die 800 m.

“Ek en my afrigtingspan wag nou in spanning om te hoor of ek ingesluit gaan word in die nasionale span wat later vanjaar in Kameroen aan die Afrika-kampioenskappe gaan deelneem,” sê Robson. Sy voeg by dat sy baie hard daaraan werk om ook in hierdie formaat as professionele atleet te ontwikkel. Robson oefen tans twee tot drie keer per dag, van Maandag tot Sondag. Hierdie oefenregime sluit verskeie aspekte in soos onder meer gimnasiumwerk, kondisionering, fiksheid, herstelwerk, sportmasserings, fisioterapie, ysbaddens en ʼn streng dieet.

Volgens Robson het sy oor die bestek van haar sportloopbaan verskeie lesse op die atletiekbaan geleer waaronder deursettingsvermoë een van die belangrikste is. Dié vaardigheid help haar om ook in haar persoonlike lewe en in haar studie koelkop te bly. Danksy haar deelname aan sport meen Robson voorts dat sy haar roepingstaak redelik vroeg in haar lewe kon ontdek. “Sport bring my nader aan God, en leer my om in Sy groot raadsplan te vertrou. Ek weet dat ek nie op my eie insigte en krag meeding nie, en dat elke prestasie net genade van bo is,” verduidelik Robson.

Sy sluit af deur te sê dat goeie sportmanskap voorts ʼn belangrike deugde is. “Ek het geleer om ook ander atlete se prestasie saam met hulle te vier en op die manier die negatiewe emosie te oorkom wat dikwels met streng mededinging gepaard gaan. Dit is juis ander se uitsonderlike prestasies wat my motiveer om elke dag my beste te gee, óf dit nou op die atletiekbaan óf die lesinglokaal is” sê Robson.

Indien jy soos Robson ook by Akademia wil studeer en terselfdertyd ʼn ander belangstelling navolg, besoek gerus die instelling se webblad. Aansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop.

Yvonne Robson, ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-tweedejaarstudent blink uit as ʼn sewekampatleet. Sy het onlangs ʼn tweede plek in die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe behaal.
As ʼn sewekampatleet neem Yvonne deel aan die 100 m-hekkies, hoogspring, gewigstoot, die 200 m, verspring, spiesgooi en die 800 m.