Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student jaag Olimpiese Spele-droom na

Yvonne Robson, BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia is ʼn kranige hoogspringatleet. Sy droom daarvan om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en as jy na haar mees onlangse prestasies op die atletiekbaan kyk, is dié Fontie goed op dreef om haar droom te verwesenlik.

Tydens Atletiek Suid-Afrika (ASA) se onlangse Senior Kampioenskappe het Robson beïndruk en ʼn silwermedalje verower. Hierdie prestasie is gedurende 2022 voorafgegaan met podiumplasings tydens onder meer die Afrika- Senior Kampioenskappe (bronsmedalje), ASA se Senior Kampioenskappe (bronsmedalje) en die Suid-Afrikaanse Universiteit-sportkampioenskap (bronsmedalje). Yvonne het in 2021 die kroon gedra as Suid-Afrika se senior nasionale hoogspringkampioen.

Haar sportloopbaan het as negejarige dogtertjie op die dansbaan begin en sy vertel dat haar hoogspringtalent eers heelwat later en amper per abuis ontdek is.

“In my graad 9-jaar is ons verplig om tydens die skool se jaarlikse atletiekbyeenkoms aan minstens een baan- of velditem deel te neem en my keuse was hoogspring,” onthou sy. Sy voeg by dat die hoofspringafrigter dadelik haar potensiaal raakgesien het. Die res is soos hulle sê, geskiedenis. Sy het nie net daardie dag daarin geslaag om die afrigter se aandag te trek nie, maar later ook dié van die keurders van die Mpumalanga-skolespan en die nasionale skoleatletiekspan. Sy is gevolglik in 2016 ingesluit in die senior nasionale span wat aan die Afrika-streekskampioenskappe deelgeneem het.

Dit was gedurende hierdie tyd dat sy die moeilike keuse tussen dans of atletiek moes maak. Tot en met 2016 het sy steeds kompeterend aan danskompetisies deelgeneem en was sy onder andere in 2015 die SA Kampioen en verower sy in 2016 ʼn vierde plek in haar ouderdomsgroep tydens die World Freestyle-kampioenskap.

“Dans sal altyd ʼn baie spesiale plek in my hart hê, maar ek het besluit om terwyl ek nog jonk en fisiek daartoe in staat is, my atletiekdrome na te volg,” verduidelik Robson.

Robson wat reeds vanaf skool ʼn belangstelling in ondernemingsbestuur koester, meen die nauurse afstandsonderrigmodel by Akademia bied haar die vryheid om nie net op haar studie te fokus nie, maar ook om haar besige oefenprogram te akkommodeer. “As nauurse student geniet ek as ’t ware die beste van twee wêrelde en kan ek my daarop toespits om ʼn goeie balans te handhaaf,” sê Robson.

Sy moedig ander jong sportgeesdriftiges aan om ook by Akademia aan te klop en studies op die nauurse afstandsonderrigmodel te oorweeg. Dié onderrigmodel het volgens haar, haar nie net uitstekende tydsbestuursvaardighede aangeleer nie, maar ook toegang aan haar verleen tot Akademia se uitgebreide en dinamiese studenteondersteuningsdienste.

Akademia wens haar alle voorspoed toe met haar studie sowel as haar droom om ʼn Olimpiese atleet by die Olimpiese Spele te wees. Haar toekoms word met afwagting dopgehou.

Yvonne Robson, ʼn Akademia-student, hou die Suid-Afrikaanse vlag hoog as uithaler-hoogspringatleet. Sy droom daarvan om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem.