Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Inligtingsessie lei 2024-studiemoontlikhede in vir voornemende Fonties

Gepubliseer op: 10 Januarie 2024

Elke nuwe jaar bied nuwe geleenthede, en 2024 is geen uitsondering nie. Gee vanjaar vlerke aan jou drome en doen aansoek vir studie by Akademia. Of jy nou ʼn skoolverlater is of reeds voltyds werk, dié onafhanklike hoëronderwysinstelling kan vir jou ʼn dinamiese studietuiste bied.

ʼn Aanlyn inligtingsessie wat op Donderdag 18 Januarie gehou word, bied aan jou die geleentheid om meer inligting oor Akademia se studierigtings te bekom, om personeel te ontmoet, kwelvrae uit die weg te ruim en ʼn eerstehandse blik op Fontie-wees te geniet. Die beste van als is dat jy hierdie kuberkuier vanuit die gemak van jou eie leefvertrek kan bywoon. Dit is so maklik soos om vroegtydig te registreer en tussen 18:00 en 19:00 op dié dag in te skakel.

As ʼn akademiese tuiste bied Akademia sedert 2012 verskeie oplossings vir verskeie studentebehoeftes. Die nauurse afstandsmodel is byvoorbeeld ideaal vir studente wat reeds werk, of ander belangstellings nastreef terwyl hulle studeer. Die voltydse kampusmodel is op sy beurt nommerpas vir skoolverlaters wat voltyds wil studeer en aan ʼn aktiewe studentelewe wil deelneem.

Die program vir die inligtingsessie sluit ʼn oorsig van Akademia in, asook die beskikbare studierigtings, die aard van klasbywoning, die aansoekproses en ʼn vraag-en-antwoord-sessie. Belangstellendes sal ook meer te wete kan kom oor die eerstejaarskamp wat op 23 Januarie afskop. Dié kamp is ʼn hoogtepunt op die eerstejaarskalender en moet beslis nie misgeloop word nie.

Jy kan die volgende stappe volg om vir die sessie te registreer:

  • Registreer deur op hierdie skakel te klik.
  • Voltooi die vorm deur jou kontakbesonderhede in te vul.
  • Klik op “Bespreek”.
  • Sodra jy suksesvol geregistreer het, sal jy ʼn e-pos ter bevestiging ontvang.

Indien jy vanjaar graag verder wil studeer, onthou dat 2024-aansoeke vir voorgraadse studie, nagraadse diplomas en die Gevorderde Diploma in Projekbestuur nog ingewag word tot en met 9 Februarie.

Die aanlyn inligtingsessie wat op 18 Januarie plaasvind bied aan jou die geleentheid om meer uit te vind oor die Akademia-netwerk – ʼn netwerk van kennis, vriende en geleenthede.
Die komende eerstejaarskamp verteenwoordig ʼn hoogtepunt op Akademia se gebeurlikheidskalender. Vrae oor hierdie geleentheid sal ook tydens die aanlyn inligtingsessie beantwoord word.