Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Só versterk argitek haar besigheidsfondasie deur LLB-studie by Akademia

Gepubliseer op: 12 Januarie 2024

Akademia-student, Carla Spies (35), is ʼn hoogs bekwame en ervare argitek wat as ʼn nauurse afstandstudent aan Akademia trots die Fontie-vlag in 2024 wapper. Dié LLB-derdejaarstudent van Sunnyside in Pretoria bestuur haar eie argitekspraktyk en beywer haarself daarvoor om ʼn positiewe verskil in haar gemeenskap te maak. Laasgenoemde doen sy deur haarself te besig met groot infrastruktuurprojekte waaronder die ontwikkeling en uitbreiding van openbare hospitale en klinieke.

Spies is dit eens dat die toevoeging van regskennis by wyse van Akademia se LLB-program, haar in staat stel om haar praktyk meer effektief te bestuur. “Ondervinding het my geleer dat die boubedryf in terme van tegniese aspekte baie selde van voldoende en voortydige regsadvies voorsien word,” noem sy. “Media-opskrifte basuin dit amper op ʼn daaglikse basis uit dat daar tans baie belastinggeld in die water gegooi word omdat kontrakte tussen kontrakteurs nie behoorlik (of geensins) gesluit word nie,” sê Spies en voeg by dat hierdie realiteit groot risiko’s veroorsaak in projekte wat dikwels miljarde rand beloop. “Die keuse om myself daarom met die nodige regskennis toe te rus sal my in staat stel om dié gaping te oorbrug, risiko’s te help verminder en om ʼn bydrae tot my spesialisveld te maak,” verduidelik Spies.

Die keuse en vryheid om in haar moedertaal te kan studeer én ʼn maklike dog effektiewe aansoekproses was volgens Spies twee van die grootste trekpleisters van Akademia as haar keuse vir ʼn studietuiste. Hierbenewens bied die nauurse afstandsmodel haar die vryheid om haar passie as argitek voluit na te streef. “Ek kan met ʼn geruste hart dié instelling aan ander voorhou as ʼn werkbare en waardetoevoegende studieopsie. Goeie kommunikasie is ʼn werkswyse by Akademia en daar is ʼn regte vlees-en-bloedpersoon in elke e-pos, wat beteken dat ek méér as net nóg ʼn studentenommer is,” getuig Spies.

Op die vraag oor hoe sy daarin slaag om haar voltydse beroep, haar studies én haar persoonlike lewe te balanseer, sê Spies dat passie en opoffering hand aan hand loop. Sy vertel dat sy haarself berus in die wete dat sy haar vrye tyd effektief moet bestuur en daarom beplan sy strategies en vooruit. Die sleutel tot die handhawing van hierdie balans lê vir haar daarin om so nougeset as moontlik by dié beplanning te hou.

Spies lééf haar roeping as argitek heelhartig uit en in 2023 was sy deel van die Suid-Afrikaanse span wat die land by die Biennale Architettura 2023-konferensie in Venesië verteenwoordig het. Hierdie geleentheid word alom as die Olimpiese spele van argitektuur beskou.

Op persoonlike noot, het Spies ook verlede jaar voor die Biennale Architettura-konferensie ʼn traumatiese fietsongeluk en ʼn gepaardgaande breinbesering oorleef. “Ek is danksy goeie mediese hulp amper weer my ou self, en kan opnuut daarvan getuig dat ʼn gesonde liggaam en ʼn helder verstand ʼn baie groot gawe en voorreg is, iets wat nooit vanselfsprekend aanvaar moet word nie. Ek sien daarna uit om in die nuwe jaar hierdie gawe verder te versorg en te waardeer,” sluit Spies af.

Studieaansoeke vir 2024 word steeds ingewag tot en met 9 Februarie. Indien jy, soos Spies, in die LLB-program belangstel, klik hier vir meer inligting.

Carla Spies, ʼn LLB-derdejaarstudent, streef haar roeping as ʼn argitek na deur ag te slaan op die beginsel van lewenslange leer.