Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die 2024-skooljaar: Vasberade vorentoe!

Gepubliseer op: 15 Januarie 2024

Geskryf deur Elana Kriel, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die aanvang van die 2024-skooljaar is om die draai, en só ook jou geleentheid om met die beste gesindheid vir groei moontlik die jaar op ʼn hoë noot te begin.

ʼn Nuwe jaar, skool of graad hou verseker uitdagings en onsekerhede in. Ek wil jou egter uitnooi om van die staanspoor af geleenthede te skep wat jou in staat sal stel om die 2024-reis vars, met vasberadenheid en hoop te begin. Verandering bied jou immers die geleentheid om dinge anders, en dalk selfs beter, as ʼn vorige keer te doen.

Begin jou nuwe skoolreis met vasberadenheid. As jy weet waarheen jy op pad is, is dit makliker om op dié pad te bly. Hierdie ingesteldheid sal sorg dat jy enige ontwikkeling sal waardeer sodat jy aan die einde van hierdie skrikkeljaar dankbaar en tevrede sal kan terugkyk na dit wat jy bereik het.

Hiermee ʼn paar praktiese wenke wat jou handig te pas kan kom op vanjaar se skoolreis:

Die meeste skole het reeds inligting oor korrekte skoolklere en -benodigdhede op hul webtuistes of sosiale media beskikbaar gestel. Skaf net wat nodig is aan en vul dit aan soos die jaar vorder. Spesifieke benodigdhede vir sommige vakke is onontbeerlik. Merk en organiseer jou skryfbehoeftes en skoolboeke met ʼn positiewe kleur of prentjie/ikoon vir motivering regdeur die skooljaar. Georganiseerde skoolboeke en -tasse verminder soektyd na boeke en help ook met effektiewe tydsbestuur.

Identifiseer ʼn gemaklike spasie by die huis en ruim dit in om daar huiswerk te doen. Goeie beligting, die nodige skryfbehoeftes en hulpbronne, soos woordeboeke, ʼn rekenaar en drukker, oortrekmateriaal, ens. help om jou take doelgerig af te handel. Rig jou huiswerkruimte met ʼn positiewe slagspreuk of inspirerende aanhaling vir motivering in. Kikker gerus dié area met ʼn potplant op, wat jou sal herinner dat sukses (en groei) moontlik is met volgehoue werk, versorging en aandag. Dit behoort jou vreugde te gee om te sien hoe selfs ʼn potplant floreer met aandag, versorging en water.

Organiseer jou vorige skoolwerk (indien van toepassing) sodat jy dit maklik kan hersien as hierdie jaar se werk op vorige jare se werk voortbou. Hersiening van jou eie aantekeninge en voorbereidings vir eksamens kan handig te pas kom as jy vorige werk moet hersien.

Genoeg slaap, pligsgetroue huiswerk, gesonde, voedsame kos en oefening is boustene vir ʼn suksesvolle reis. Skep ʼn haalbare roetine sodat jou liggaam gewoond raak aan die eise en verwagtinge van die skooljaar. Sorg dat jy genoeg slaap en rus sodat jy jou energie optimaal kan gebruik. Stel ʼn slaaproetine vas sodat jy op dieselfde tyd gaan slaap en opstaan.

Plak jou skoolrooster in jou huiswerkspasie teen die muur of tafel vir effektiewe tydsbestuur – so maak jy seker jy pak die regte boeke vir skool in. Gebruik ʼn maandbeplanner (digitaal of op ʼn hardekopie) om jou skoolaktiwiteite, -take en -opdragte neer te skryf sodat jy kan sien waaraan en hoeveel jy van jou tyd aan ʼn aktiwiteit spandeer. Gebruik jou slimfoon om jou slim te maak en tyd effektief te benut. Laasgenoemde verwys na byvoorbeeld slimtoeps vir ʼn dagprogram, insiggewende nuusgebeure, ʼn belangstelling of stokperdjie en dalk musiek wat jy saggies kan speel wanneer jy huiswerk doen of leer. Waak teen tydrowende foongebruik en sinlose gesprekke op jou foon tydens fokustyd.

Dink na oor jou skool- en persoonlike doelwitte vir 2024, byvoorbeeld beplande vakprestasie, ekstra klasse in ʼn vak waar jy meer ondersteuning nodig het, sportdeelname, ʼn nuwe buitemuurse aktiwiteit of ʼn stokperdjie. Gesels met jou ouers oor die praktiese reëlings en implikasies, soos die koste, kleredrag of toerusting vir die aktiwiteit, asook vervoer. Stel haalbare doelwitte en vra jou ouers se ondersteuning en motivering in die verband. Gee jou volle toewyding aan buitemuurse aktiwiteite en laat kwaliteit meer tel as die hoeveelheid aktiwiteite. Neem deel aan skoolbedrywighede sodat jy binne en buite die klaskamer vaardighede aanleer.

Ontspanning is meer as om net op die naat van jou rug te lê of om op jou selfoon doenig te wees. Dit is doelbewuste tyd om positief te ontspan, te kuier en iets lekker te doen, op jou eie, saam met jou gesin of saam met jou vriende. Jou siel word daardeur gevoed om buite die skoolure en -mure met jongmense van jou eie ouderdom te kuier. Tyd in die buitelug, weg van jou foon is noodsaaklik vir vriendskappe en ondersteuning en help ook om stres effektief te hanteer. Ontspanning is nodig vir goeie balans in ʼn besige jaar. Maak ʼn keuse oor jou geloofslewe en bywoning van aktiwiteite om jou geestelike welstand te verbeter. Jou geloof help jou om vasberade vorentoe te beweeg.

Elke nuwe skooljaar, aktiwiteit en selfs vriende sorg vir uitdagings en geleenthede. Hierdie geleenthede veroorsaak dikwels spanning en stres – soms sonder dat ons dit erken. Gebruik die geleenthede reeds in Januarie om alles elke dag met ʼn dankbare en positiewe ingesteldheid aan te pak. Versterk jou innerlike weerbaarheid: leer nuwe vaardighede aan, bou aan jou selfvertrou en groei selfs in jou geloof sodat jy enige uitdaging met moed en hoop aanpak.

Om vasberade vorentoe te beweeg is meer as net die afmerk van datums op ʼn kalender. Goeie beplanning en ʼn positiewe gesindheid rus jou beter toe om 2024 met selfvertroue en entoesiasme aan te pak. Beplan jou skoolpadkaart vir 2024, fokus op rigtingwysers, versorg jouself dat jy genoeg energie het om heeljaar vorentoe te beweeg, al is dit tree vir tree. En as jy soms voel of jy stilstaan of dalk agteruit beweeg, vra hulp van jou gesin, onderwysers of maats sodat hulle jou op jou pad kan ondersteun.

Elana Kriel, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, moedig leerders aan om die 2024-skooljaar met selfvertroue en entoesiasme aan te pak.