Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Praktiese onderwys – ʼn onmisbare skakel in die opleiding van voorgraadse studenteonderwysers

Gepubliseer op: 15 Januarie 2024

Geskryf deur dr. Maretha Steyn en Susan O’Reilly, beide verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die belangrikheid van praktiese onderwys kan nie genoeg benadruk word nie. Dit verteenwoordig ʼn waardevolle platform vanwaar studenteonderwysers met ʼn verskeidenheid skoolkontekste binne die breër Suid-Afrikaanse skoolgemeenskap vertroud kan raak. Die kommer word egter dikwels geopper dat studenteonderwysers nie na behore voorbereid is om die “regte” wêreld (oftewel die praktyk) te betree nie. Laasgenoemde verwys na die strukturering van ʼn onderrig-leeromgewing waar leer sosiaal, interaktief, kontekstueel, konstruktief asook selfregulerend is.

Skoolbesoeke deur studenteonderwysers ontsluit verskeie voordele. Dit fasiliteer kommunikasie tussen belanghebbendes binne die onderwysgemeenskap, terwyl dit voorts professionele ontwikkeling verbeter. Laasgenoemde verwys na die leergemeenskap wat ontwikkel word waarbinne studente, mentoronderwysers en dosente op ʼn interafhanklike wyse van mekaar kan leer. Dit is dan ook binne hierdie ondersteunende leeromgewing dat studenteonderwysers aangemoedig word om innoverend te wees en om voortdurend te reflekteer op hul onderwyspraktyk.

Die uitdaging lê dus daarin om die leerproses te kontekstualiseer en meer outentiek te maak sodat studente toegerus is om die uitdagings binne die klaskamer, asook die eise van ʼn snelveranderende onderwysmilieu, suksesvol aan te pak.

Akademia besef én koester die onlosmaaklike samewerkende en wedersyds afhanklike verhouding wat praktiese onderwys met rolspelers in die onderwysmilieu ontsluit. In ʼn poging om ʼn omgewing en ruimte te skep waarbinne optimale leer kan plaasvind sluit die instelling vennootskappe met skole dwarsoor die land se uiteenlopende skoolkontekste heen. Hierdie skole word deur die studenteonderwysers besoek om hul begrip van ʼn groot aantal onderrig-leersituasies te verbreed. Die skoolbesoeke maak dit ook vir die studente moontlik om lesse, wat deur ervare en toepaslik gekwalifiseerde onderwysers aangebied word, waar te neem en daaroor te besin.

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde bied aan hul voorgraadse studenteonderwysers geleentheid om tydens hul skoolbesoeke eerstehands te ervaar hoe gehalte onderrig en effektiewe leer ʼn aktiewe, sosiale en lewensveranderende proses is. Hierdie proeftydperke behoort ook aan studenteonderwysers die geleentheid te bied om hul pedagogiese inhoudskennis en vaardighede te ontwikkel en, om praktyk en teorie met mekaar in verband te bring.

Die vraag wat in dié verband gevra kan word, is: Beskik studenteonderwysers reeds in hul eerste en tweede studiejare oor genoegsame vakkennis, pedagogiese kennis en breër kurrikulumkennis om gehalte onderrig en effektiewe leer teweeg te bring?

Praktieseonderwysgeleenthede bied in die eerste twee jaar aan Akademia se studenteonderwysers die geleentheid om die teorie in praktyk waar te neem en om daaroor te besin. Hierdie nadenke behels dat studente objektief en eerlik oor ʼn onderrig-leerervaring en hul eie ervarings moet dink. Hierdie proses vind plaas in ʼn siklus waar inligting ingesamel word om die gebeure, agtergrond en kernelemente van die onderwerp ter sake te belig. Deur na te lees en met kenners, medestudente en mentoronderwysers oor hul eie leerervarings te gesels, kan kritiese en eie begronde aannames gemaak word.

In jaar drie en vier van hul studie sal studenteonderwysers toegerus wees om lesse voor te berei en om mikrolesse tydens skoolbesoeke aan te bied. Op hierdie manier word studenteonderwysers deel van ʼn deurlopende dialoog binne ʼn praktykgemeenskap. Laasgenoemde verteenwoordig ook ʼn omgewing waarbinne studente hul toewyding kan demonstreer om aan die behoeftes van alle leerders te voldoen en terselfdertyd as lewenslange leerders betrokke te raak by reflektiewe praktyke.

Praktiese onderwys is ʼn gulde geleentheid vir studenteonderwysers om hul toegepaste bevoegdheid en gereedheid om die onderwysberoep te betree te ontwikkel en te demonstreer. Dit is die onmisbare skakel in die opleiding van gehalte onderwysers.

Dr. Maretha Steyn en Susan O’Reilly, beide verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen praktiese onderwys verteenwoordig ʼn onmisbare skakel in die opleiding van voorgraadse studenteonderwysers.