Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die verbondenheid van taal

Gepubliseer op: 18 Januarie 2024

Geskryf deur Sarita Blignaut en Karien Brits, taalpraktisyns by Akademia.

Daar word dikwels taalgrappies met die woord tesourus gemaak wat ʼn prentjie oproep van ʼn soort dinosourus wat woorde verslind. Gelukkig is ʼn tesourus nie ʼn uitgestorwe dier nie – om die waarheid te sê is dit nog jonk en springlewendig.

Die tesourus is ʼn spesiale soort woordeboek en op Tesourusdag (18 Januarie) word die waarde hiervan gevier. Dit word juis op dié dag gevier omdat dit die geboortedag is van die leksikograaf en vader van die tesourus, Peter Mark Roget. Sy Thesaurus of English Words and Phrases het in 1852 die eerste keer die lig gesien.

Die woord “tesourus” beteken in Grieks stoorkamer of skat. Vóór 1852 het die woord tesourus oor die algemeen na woordeboeke verwys, maar dit verwys nou na daardie woordeboeke wat fokus op die verhouding wat tussen woorde bestaan.

In aansluiting by Akademia se jaartema van verbondenheid, is dit dalk sinvol om ook oor die aaneenskakeling van idees en begrippe te besin. Ons maak onder meer van taal as hulpmiddel gebruik om die verbondenheid tussen mekaar en ons gemeenskap uit te druk en ons wil dit so genuanseerd moontlik doen. Daarvoor het ons die regte taalgereedskap, ʼn NP van Wyk Louw-beiteltjie, nodig.

In Afrikaans se taalgereedskapskis is daar byvoorbeeld die Tesourus van Afrikaans deur Leon en Amanda de Stadler en die Sinonieme en verwante woorde-gids wat deur die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgestel is. Hierdie bronne lei die gebruiker om in elke konteks die regte woord te vind. Die voordeel hiervan is dat daar nie net sinonieme by die soekwoord gegee word nie, maar ook ander woorde wat andersins aan mekaar verwant is, bv. verbondenheid, verhouding, samehang, verweefdheid, saamgebind, deel hê aan, betrokke raak.

In die digitale era is daar ook uitbreiding na nóg ʼn verwysingsbron, ʼn woordnet (gebaseer op WordNet), wat ʼn leksikale databasis is wat die verbande tussen woorde aandui. Dié databasis verskil van ʼn tradisionele woordeboek, want die doel van ʼn woordeboek is hoofsaaklik om woorde te verduidelik en te vertaal. Daarteenoor word ʼn woordnet hoofsaaklik vir navorsingsdoeleindes en natuurliketaalverwerking (NLP – natural language processing) gebruik. Dit bestaan uit sinoniemstelle (ook bekend as synsets) wat verwys na ʼn groep sinonieme (in dieselfde woordklas) wat saam een konteks verteenwoordig, bv. motor (spesifieke woord) is ʼn tipe voertuig (algemene woord). Definisies, voorbeeldsinne en domeinetikette (bv. filosofie) word in ʼn sinoniemstel verskaf.

Die verbondenheid in en deur taal is meer as net ʼn filosofiese besinning. Dit verbind mense en snoer gemeenskappe saam. Leksikograwe en taalpraktisyns werk saam om hierdie taalgereedskap aan taalgemeenskappe beskikbaar te stel, maar dit is in die sprekers van hierdie gemeenskappe se hande om dit te gebruik.

Sarita Blignaut en Karien Brits, taalpraktisyns by Akademia, meen die gebruik van ʼn tesourus, as ʼn belangrike taalhulpmiddel, stel die gebruiker in staat om die verbondenheid op ʼn genuanseerde wyse te beklemtoon.