Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Hoe is ons aan mekaar verbonde?

Gepubliseer op: 9 Januarie 2024

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Akademia fokus vanjaar op verbondenheid as tema. Die instelling is onder meer verbonde aan die taal- en kultuurgemeenskappe wat hy dien. Ten grondslag van ons gemeenskapsverbondenheid lê norme soos geregtigheid, vriendskap en offervaardigheid. 

Hoe is ons aan mekaar verbonde? Om vandag hierop te antwoord, het moeiliker geword as wat soms gedink word. Verskeie kragte werk ons verbondenheid aan mekaar teen. Hoe so?

In vroeëre tye is ons deur verskillende vorme van verbondenheid gebind. Om slegs enkele voorbeelde te noem: Ons gesinne was die sterkste vorm van verbondenheid wat ons met mekaar kon deel. Gesinne is deur ʼn onvoorwaardelike liefde aanmekaar getimmer. Ouers het deur ʼn vuur vir hul kinders gehardloop, terwyl kinders deur ʼn gees van dankbaarheid, respek en liefdevolle meelewing gestempel is.

Maar ons is ook deur vriendskappe aan mekaar verbind. Vriende het aanvaar dat hul verbondenheid deur ʼn gees van “gee en neem” gekenmerk word; dat hulle respek vir mekaar het en edel teenoor mekaar optree, en dat hulle mekaar in moeilike tye met dapperheid bystaan.

ʼn Laaste voorbeeld wat ons kan noem, is ons verbondenheid as studente. In vele opsigte is ons studentebande die samevatting van wat ons in ons gesinne en vriendskappe oor verbondenheid geleer het. Dit word gekenmerk deur bande van gulhartige deelname aan die studentelewe; hoe om in gesprekke en debatte na mekaar te luister en verskille te hanteer, en om respek vir akademiese beginsels soos waarheid, skoonheid en goedheid te toon.

Vandag staan ons as mense egter onder die druk om slegs vir onsself as individue te lewe. Verbande soos die tradisionele gesin en ons kultuurgemeenskappe word as ʼn hindernis ervaar. Dit verhoed dat ons ons keusevryheid ongehinderd kan uitoefen.

Dit word deur die openbare media bevestig. ʼn Belangrike tendens in gewilde TV-reekse is om die onderlinge verbondenheid van die verskillende karakters te verskraal. In reekse soos Game of Thrones en Succession deel die karakters kwalik meer as die feit dat elkeen slegs sy eie individuele magsbelange najaag. Van ʼn gemeenskaplike kameraadskap en liefde tussen die verskillende karakters is daar geen sprake nie.

Ons onderlinge verhoudinge word ook onder spanning geplaas deur die winde van politiek-korrekte ideologieë wat vandag oor sommige media, internasionale besighede, state en universiteitskampusse waai. Klaarblyklik moet die gebrek aan onderlinge verbondenheid deur ideologiese en moralistiese voorskrifte toegepleister word.

Gelukkig is dit slegs die een kant van die verhaal. Vandag is die teendeel ook waar. Ondanks die druk waaraan ons verbande onderwerp word, is hulle tegelyk springlewendig. Trouens, hoe meer druk op ons onderlinge verbondenheid geplaas word, hoe meer word die noodsaak daarvan ingesien. Ten diepste weet ons dat ons geluk en sin van ons verbande en ons deelname daaraan afhanklik is.

Prof. Danie Goosen is die uitvoerende hoof: Akademie by Akademia.