Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Eerstejaarstudente – Durf só jou nuwe studieavontuur aan

Gepubliseer op: 9 Januarie 2024

Geskryf deur dr. Mandie Dubery, deeltydse maatskaplike werker by Akademia

Aan alle nuwe eerstejaarstudente aan hoëronderwysinstellings landwyd: hartlik welkom! Jy kan vir enige oudstudent vra, almal is dit eens dat jou studentejare die beste jare van jou lewe gaan wees.

Dié nuwe hoofstuk kan aanvanklik vir jou soos ʼn wipplankrit voel. Jy is opgewonde om jouself in ʼn spesialisrigting van jou keuse te bekwaam, maar terselfdertyd is jy benoud oor die nuwe omgewing en die vereistes wat aan jou gestel word.

Die belangrikste stukkie advies wat ek aan vanjaar se eerstejaarstudente kan gee is dat alhoewel naskoolse studie anders daarvan uitsien as skool, beteken dit allermins dat dit méér uitdagend is. Ja, jy gaan jouself vir ʼn wyle in onbekende waters bevind, maar jy het die geleentheid om van jou studietuiste ʼn plek van groei en verbondenheid te maak. Die geheim lê daarin opgesluit om ʼn gesonde balans tussen akademie en jou studentelewe te geniet.

Volg dié drie wenke oor hoe om jou nuwe studieavontuur aan te pak:

  • Benut jou instelling se oriënteringsprogram

Jou instelling se oriënteringsprogram vir nuwe studente is ʼn belangrike vroeë leerskool. Dié program fokus daarop om eerstejaars toe te rus met kennis en vaardighede om hul toetrede en inskakeling tot universiteitslewe so effektief as moontlik te maak. Hierbenewens word studente toegerus om ʼn vol studentelewe te lei deur deelname aan kuns en kultuur, sport, ontspanning, klubs/verenigings en ander geleenthede wat beskikbaar is. Laasgenoemde sluit ook verskeie opleidings- of leierskapsontwikkelingsgeleenthede in.

Tydens hierdie ontmoetingstydperk word hegte vriendskappe gesmee en lewenslange verhoudinge gevorm.

  • Leer jou dosente en medestudente ken

Die uitbou van verhoudings en ondersteuningsnetwerke is baie belangrik, veral in terme van jou spesifieke studierigting. Dosente beskik oor ervaring en spesialiskennis waarby jy as student kan baat. Doen moeite om jouself aan hulle bekend te stel – hulle kan as waardevolle mentors op jou loopbaanavontuur dien, terwyl hulle jou onsekerhede kan aanspreek en leiding kan gee. Mede- en senior studente vervul weer die rol van akademiese steunpilare wat saam met jou die leerproses aandurf.

Onthou dat die verantwoordelikheid om te presteer en pligsgetrou jou voorbereiding te doen vierkantig voor jou eie deur lê. Benut hierdie netwerke om voortgeset jou doelwitte aan te pak en te bereik.

  • Maak gebruik van beskikbare studenteondersteuningstrukture

Hierdie strukture het dit ten doel om as ʼn eenstopondersteuningsdiens te dien – of jy nou ondersteuning benodig vir ʼn akademiese aangeleentheid, emosioneel kwesbaar voel of kopkrap oor persoonlike geldsake of die ontwikkeling van sagte vaardighede.

Dit is belangrik dat jy tydens jou studiejare jou volle potensiaal ontgin en dat jy met méér as net boekekennis toegerus word.

Mag hierdie nuwe avontuur die begin wees van ʼn opwindende toekoms vir jou. Gryp elke geleentheid aan en streef daarna om nie net ʼn kenner in jou gekose spesialisrigting te word nie, maar ook ʼn verskilmaker en ʼn toekomsbouer in jou gemeenskap.

Dr. Mandie Dubery, ʼn maatskaplike werker verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling, meen die geheim van ʼn suksesvolle universiteitservaring lê daarin opgesluit om ʼn gesonde balans tussen akademie en studentelewe te geniet.