Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia vier Wêreldomgewingsmaand met nuwe herwinningsprojek op kampus

Gepubliseer op: 8 Junie 2021

Vandag word ʼn kraakvars herwinningsprojek deur Akademia – in samewerking met AfriForum – geloods. Hierdie projek sal op Akademia se Centurion-kampus plaasvind waar herwinningsdromme vir die gebruik van Akademia-studente sowel as personeel gehuisves sal word.

Op 5 Junie 2021 is Omgewingsdag wêreldwyd onder die tema “herstel van die ekostelsel” gevier. Daarbenewens vier Suid-Afrika ook jaarliks gedurende Junie omgewingsmaand met die uitsluitlike doel om omgewingsbewustheid te skep en om bondgenote vir ʼn volhoubare, skoner omgewing bymekaar te bring.

Akademia wil ʼn voordelige en sigbare rol in die herwinning van afvalstowwe speel en het daarom besluit om hierdie projek op die been te bring om sodoende ʼn verskil te maak. Die doel van die herwinningsprojek is om bewustheid onder studente, personeel en die gemeenskap te skep sowel as om volhoubare herwinningsgewoontes by hul te kweek. Akademia sal ook deur navorsing en vennootskappe tot die ontwikkeling van verbeterde metodes vir afvalbeheer en -herwinning bydra. In die toekoms sal laasgenoemde ʼn groterwordende rol in die ontwikkeling van vakdissiplines by Akademia speel, veral in die natuurwetenskappe.

Daar word elke jaar meer as 2,12 miljard ton afval wêreldwyd gestort. “Hierdie afval, wat op verskeie plekke gestort word, is nie net besig om ekosisteme noemenswaardig te besoedel nie, maar is selfs besig om die skoonheid van die skepping op baie plekke om ons tot ʼn onplesierige ashoop te reduseer,” meen prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.

“Ons omgewing is saam met die natuurlike hulpbronne wat daarin voorkom geskep, en dit is dus ons verantwoordelikheid om hierdie hulpbronne volhoubaar te benut, en nie net eenvoudig weg te gooi nie. Dit is vanuit hierdie oogpunt dat die Fakulteit Natuurwetenskappe afvalherwinning as belangrik ag,” sê Rautenbach.

Dr. Desiree Muller, Bestuurder: Studentesake by Akademia, vertel dat die herwinningsprojek reeds groot opgewondenheid onder die studente skep. “Die studente sien uit om ook hul bydrae te kan maak om die omgewing te bewaar. Die private studenteverblyf is ook reeds besig om hul rommel te verdeel om die herwinningsprojek te ondersteun.” Die befondsing wat deur die herwinde materiaal ingewin word, sal ook gebruik word om van die studenteraad se projekte te finansier.

“AfriForum sal ook aanhou om ʼn verskil in gemeenskappe te maak. Hierdie is AfriForum Centurion-tak se derde herwinningsprojek, en die tak beoog om dit nog verder uit te brei. Ons wil graag elke rolspeler bedank vir hul rol in hierdie projek,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

“Deur sigbare afvalherwinningsfasiliteite op die kampus beskikbaar te stel, voed ons nie net ons eie studente oor die belangrikheid hiervan op nie, ons hoop dat dit ook later na omringende gemeenskappe kan deursypel. Dankie aan AfriForum vir die waardevolle skenking van herwinningsdromme om hierdie noodsaaklike taak te verwesenlik,” sluit Rautenbach af.

Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp aan 0861 222 888.

ʼn Kraakvars herwinningsprojek deur Akademia – in samewerking met AfriForum – is geloods. Hierdie projek sal op Akademia se Centurion-kampus plaasvind waar herwinningsdromme vir die gebruik van Akademia-studente sowel as personeel gehuisves sal word.
Vyf herwinningsdromme is deur AfriForum aan Akademia geskenk en vorm deel van ʼn groter herwinningsprojek.