Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Serebraal gestremde student vertel sy storie van hoop

Gepubliseer op: 2 Junie 2021

Om klas te draf, en ʼn graadkwalifikasie suksesvol te voltooi – dit alles terwyl jy nog nooit kon loop of skryf nie – is beslis ʼn bewys van ambisie en dryfkrag om drome te verwesenlik. Rico Welthagen is gebore met serebrale gestremdheid, maar het nie dat dit hom weerhou van sy drome nie. Welthagen het in 2016 sy studiereis by Akademia as student in BCom (Ondernemingsbestuur) afgeskop, en dit aan die einde van 2019 voltrek. Vandag inspireer hy talle om hom met sy storie van aanhou en wen.

Hy wou nog altyd graag in Afrikaans studeer, en daarom was dit vir hom ʼn maklike keuse om by Akademia in te skryf. Die instelling gebruik gevorderde tegnologie om studente en dosente wat in die Centurion-ateljee gesetel is met mekaar te verbind. Hy het nauurs by die Pretoria Moot-studiesentrum aangesluit, en al was hy aanvanklik skrikkerig om aan die klas deel te neem het hy tog aan die einde van sy studies aan klasgesprekke deelgeneem en dosente se vrae beantwoord.

Welthagen vertel dat sy studiereis nie altyd so eenvoudig was nie. Hy kon as student assesserings tik, alhoewel dit langer as sy medestudente geneem het om te voltooi. Daarom was veral eksamens en toetse vir hom ʼn reuse-uitdaging. As ambisieuse jongman het dit hom nie onder gekry nie, en het hy bly fokus op die einddoel – om sy graad te voltooi. Hy het mettertyd vir Akademia om hulp gevra, waarna die instelling hom met mondelingse eksamens geakkommodeer het.

Sy sukses is ook te danke aan sy ouers en broer wat hom gedurende sy studies ondersteun het. “My ma en pa het afgewissel om my by klasse af te laai, en daar was ook tye waar die tikwerk aan my take vir my te veel geraak het as gevolg van die stadige spoed waarteen ek tik, en toe moes my ma partykeer inspring en help tik terwyl ek haar voorgesê het. Om te leer was ook nie so eenvoudig nie. Ek weet al van skool af dat ek en opsommings nie maatjies is nie, want dit vat my omtrent ʼn halwe dag of langer om ʼn bladsy of twee te tik.

Hy noem dat dit vir hom ʼn voorreg was om aan Akademia te studeer, veral gegewe die ondersteuning wat hy ontvang het. “Dit het vir my baie beteken om in my moedertaal te kon studeer, en is ek ook dankbaar vir die dosente en medestudente wat ek gedurende my studies kon ontmoet.”

Sy raad aan voornemende studente wat ook uitdagings ervaar is om altyd deur te druk met hul studies al raak dit soms moeilik. Welthagen se groot droom is om sy eie besigheid te begin, spesifiek in ʼn sportrigting aangesien sport nog altyd ʼn passie is wat hy najaag. Tans is hy op soek na werk wat sy spesifieke omstandighede verstaan en waar hy ʼn waardevolle bydrae kan lewer deur sy vaardighede en goeie uitkyk op die lewe uit te leef.

“Om by Akademia te studeer het ek geleer dat ek as gestremde persoon ook soos ander ʼn graad kan kry deur om hard te werk ongeag my omstandighede. Ek het al hierdie uitdagings oorkom danksy Akademia wat baie akkommoderend en tegemoetkomend teenoor my was. Dankie aan me. Elize-Mari Coetzer en al my dosente, sonder julle sou ek nie vandag my kwalifikasie gehad het nie”, sê Welthagen trots.

Rico Welthagen, Akademia-alumnus, inspireer ander daagliks met sy suksesstorie.